Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Onderrokkie wapper ten spyte van bedoeling

Daar heers ’n meningsverskil oor die hantering van verkragting in ‘Die vyfde slag’ deur die afgetrede regsgeleerde Johann Grobbelaar. Annelise Erasmus meen die storie is slim met verskeie legkaartstukke wat in plek val, maar die ondertoon van konserwatiewe idees het haar gepla.

Die vyfde slag deur Johann Grobbelaar. Uitgewer: Lapa. Prys: R280.

Natuurlik moes ek dadelik Beethoven se Vioolkonsert in D Opus 61 gaan luister – dis die musiek wat Johann Grobbelaar in sy debuutroman gebruik as ’n simbool vir die temas wat hy wil ondersoek.

Maar die belewing van musiek, net soos seks, liefde en ook verkragting, is intiem, persoonlik. Nie een mens ervaar dit op dieselfde manier nie.

Omdat Grobbelaar se roman oor die intiemste onderwerpe handel, beweeg dit vinnig in ’n sfeer in waar die leser se mening ook deur die intieme en persoonlike bepaal gaan word. Dit is deels waar vir alle boeke, maar hierdie keer kon ek dit nie regkry om die idees wat deur die karakters aangebied word – en waarmee ek nie saamstem nie – eenvoudig verby te laat gly nie.

Dit is dalk omdat die idees handel oor onderwerpe waaroor die meeste mense sterk idees en emosies het, maar moontlik ook omdat die karakters standpunte byna as feite stel.

Die “feit” wat dan die hele verhaal aandryf – en waarmee die leser nie noodwendig saamstem nie – moet aanvaar word omdat daar, behalwe vir enkele sinne, niemand anders in die boek is wat ’n ander mening huldig nie. Hoe meer dit gebeur, hoe meer veroorsaak dit ’n verwydering tussen die leser en die karakters (of selfs die skrywer).

Tog is Die vyfde slag se storie slim met verskeie legkaartstukke wat een vir een in plek val en genoeg raaisels wat die leser tot die einde laat aanhou lees.

Karl Louw en Wilma is gelukkig getroud, maar dra albei geheime saam wat tog hul huwelik negatief beïnvloed. Wanneer Karl, ’n prokureur, deur Helen Brodie genader word om haar by te staan in ’n regsgeding, word gebeure in werking gestel wat hierdie geheime na die oppervlak dwing.

Die regsgeding is eintlik net die raamwerk waaraan Grobbelaar sy temas hang. Een daarvan is die patriargie. Dit is verfrissend dat ’n manlike hoofkarakter (en skrywer) kritiek op die patriargie lewer en selfs die skade wat dit veroorsaak het (en steeds veroorsaak), raaksien en erken. Karl skryf ’n akademiese artikel waarin hy die patriargie kritiseer op grond van gebruike wat in 1914 en 1950 geldig was.

Ek is dankbaar die skrywer het nie probeer beskryf hoe ’n vrou ’n verkragting ervaar nie.

Hy word deur al die vroue in die verhaal vir die artikel geprys asof dit ’n prestasie is, maar om daardie insig eers in hierdie stadium van sy lewe te kry, is soos mosterd ná die maal. En om dit dan te “vertel” vir ’n wêreld wat dit al lankal weet (en selfs al daaroor is), is effens vreemd.

Nog ’n hooftema is verkragting. Hier moes ek myself gedurig herinner dis net ’n storie, al word daar dikwels gefilosofeer. Dit is nie ’n akademiese werk oor verkragting nie en daarom sal dit vreemd wees om byvoorbeeld hare te kloof oor die kans dat albei die vroue in Karl lewe verkrag is en albei geestelik daardeur geskaad is.

Ek is dankbaar die skrywer het nie probeer beskryf hoe ’n vrou ’n verkragting ervaar nie. Hy het die tonele slim hanteer deur van teoretiese kennis gebruik te maak. Maar selfs met dié tema was daar ’n ondertoon van konserwatiewe idees wat nie heeltemal deur ’n simpatieke vertelling van die verkragte vrou se lot weggesteek word nie.

In een van die belangrikste tonele in die roman sê een van die karakters verkragting gaan meestal nie oor seks nie, maar oor mag. Dit is heeltemal waar, maar een van die ander karakters noem dit sommer snert met die een of ander verduideliking dat die motief nie belangrik is nie – ejakulasie is waaroor dit gaan en waarom dit seksueel is.

Verskoon my, maar dis ook snert.

Die een karakter trap ook ’n verkragte vrou uit omdat sy nie die saak wil aangee nie omdat dit kwansuis verraad teenoor vroue sou wees om dit nie te doen nie. Totale snert! Elke vrou het ’n vrye keuse oor wat sy in so ’n situasie wil doen. Enige keuse wat sy maak, is aanvaarbaar en reg.

Seks en liefde is vir Karl tameletjies – dit is sy éintlike probleem. Die onderskeid wat Karl tussen liefdeseks en wellusseks maak, is een van die stellings wat hy as ’n feit stel – en dis nié ’n feit dat dit wedersyds eksklusief is nie. Liefde kan wellus en selfs onbeheerste drange hanteer – dit maak dit dikwels beter.

“Karl het . . . gesê . . . hy gaan hulle aan atletiek, spesifiek middelafstande, laat deelneem. Dit sal hulle daardie dissipline aanleer om jou liggaam te kan onderwerp aan jou wil. Om in beheer van jou drange te wees.”

Hartstog of drange (wat beheer moet word) word deurlopend teenoor liefdeseks gestel, asof een reg en die ander verkeerd is. Hierdie teenstelling help dan ook om later die punt te maak dat verkragting as gevolg van onbeheerste drange gebeur. (Wat in die meeste Suid-Afrikaanse verkragtings nié die geval is nie, al kan wellus wel soms ’n rol speel.) Daar is nog idees oor seks, soos “ ’n eenvoudige, aardse sensuele ontlading. Dit is al wat dit was. Niks meer nie. Betekenisloos . . . die wete dat dit eintlik bestem was om iets anders te wees; iets met ’n dieper betekenis, wat dit net as ’n daad van liefde kan wees”.

Ek hoor amper my ouma praat.

Die een karakter in die boek met ’n meer moderne siening van seks en liefde (sonder die trauma van verkragting) onderwerp haar aan haar ma se outydse siening daarvan. Selfs wanneer dié karakter wonder “Hoe is dit moontlik dat die moraliteit van seks binne twee, drie geslagte so kan verander?”, eindig sy steeds met die gedagte: “Hoe kan dit wat nou ’n tere uitdrukking van liefde is, voorheen ’n misdaad gewees het?”

(Weer eens word “liefde” aan ’n seksuele daad gekoppel asof daardie daad nie net vir die sensualiteit van die daad kan gedoen word kan nie.)

Liefdeseks, soos dit in hierdie boek genoem word, word gelyk gestel aan die sublieme, maar liefde is die voorwaarde: “Slegs liefdeseks lei tot ’n vereniging met beide ’n geestelike en fisieke komponent.” Dis alles goed en wel, maar redelik kort hierna word geskerm dat die karakter nie “preuts is nie, maar pragmaties” en dat blote seks “kan genotvol wees, maar die deelnemers sal altyd weet dat iets tekortskiet”. En dan die refrein: dat “teerheid sterker as hartstog is” met liefdeseks.

Hierdie fokus op sublieme en “goeie” seks is so sterk dat een van die karakters nie eens ’n oomblik skuldig voel oor sy drie mense se dood veroorsaak het nie.

(’n Tekort aan hartstog en ’n oormaat teerheid is soms juis die rede vir die afsterwe van die kleindood in die liefdegevulde huweliksbed.)

Karl is eintlik maar ’n suurknol, soos sy kollegas vermoed. Dit is nogal moeilik om sy persoonlikheid te versoen met die sublieme seksuele waarin hy glo. Of is dit dalk juis sy gevierde selfbeheersing wat hom teerheid so hoog bo hartstog laat stel? Dis interessant dat albei sy geliefdes as gevolg van Karl se persoonlikheid op dieselfde manier optree wanneer hulle verkrag word. Albei moes jare wag voor hy gereed was om dit te kan hanteer. So patriargaal as wat kan kom – dat sy houding en moontlike probleme daarmee groter was as die slagoffers s’n.

Karl se beheer dra by tot albei sy geliefdes se lyding en maak hom ontoeganklik. Wanneer hy uiteindelik vertel word, doen hy presies waaroor hy in sy artikel oor die patriargie gekla het en gaan neem wraak wat hom nie toekom nie. Sy stadige evolusie was dus eintlik net teoreties. Hy word dít wat hy kritiseer. Daar kom vir hom insig, uiteindelik, maar teen daardie tyd hou hierdie leser nie baie van hom nie – en ek weet nie of dit die idee was nie?

Ek kan nie anders as om melding te maak van die stywe, formele taal nie: “Dit was my eerste indruk. Dit word natuurlik ook gestaaf deur sy voorkoms – ’n robuuste, aardse aantreklikheid.”

Niemand praat so nie, of hoe? Ons taal is pragtig, maar word nie in die “regte wêreld” so gebruik nie. Daar is talle sulke voorbeelde.

Soms is die skrywer se beelde lieflik, soos wanneer hy ’n vrou se borste as simbool van ’n gedeelde lewe en liefde gebruik. Maar ondanks die onderwerpe is die roman nogal konserwatief en soms openlik veroordelend: “Voyeurisme is, vir sekere perverte, nogal iets opwindends.” So iets bevestig dat dit wel ’n behoudende onderrokkie was wat soms gewapper het, ten spyte van die skrywer se beste bedoeling.

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Verkragting  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.