Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Onheil agter die idille

Soos dit goeie gesinsnoir betaam, is die spanning in ‘Liewe Mamma’, deur die Nederlander Esther Verhoef, byna ondraaglik – die ideale grendelstaatvermaak, meen Jonathan Amid.

Liewe Mamma deur Esther Verhoef, in Afrikaans vertaal deur Joanita Fourie. Uitgewer: Lapa. Prys: R315.

’n Aantreklike vrouegesig, die gelaatstrekke mooi in verhouding, maar deels weggesteek. ’n Vol, sensuele mond in bloedrooi lipstiffie. ’n Groen oog wat onverbiddelik vorentoe kyk; die ander een in die skaduwee.

Soos die donker dreig om ál meer van die vrou se gesig te verswelg, is die titel onderaan sigbaar. Liewe Mamma, in rooi, kursiewe handskrif. ’n Intieme bekentenis wat bloederig bly spook; ’n nagmerrie wat dreig om voor die leser te ontvou. Die kombinasie van swart, spierwit en weergalmende rooi ’n voorbode van verskrikking en verkeerde keuses.

Die eerste woorde wat die leser aantref in dié boeiende, soms bloederige gesins-noir – die huis ’n oorlogsone, die buitewêreld vol bedreigings wat slegs getroef word deur die psigiese aftakeling van die onbetroubare verteller – is ’n brief van die verpleegkundige Helen aan haar ma. ’n Duidelike voor en ná word opgestel; die versugting om ’n verskriklike gebeurtenis uit ’n dagboek van die geheue uit te wis.

Ek hou die meeste van die laaste gedagte. Op die oog af gaan alles soos gewoonlik aan; die huishouding, skool en werk. Maar daardie pikswart herinneringe is in my siel geanker en ek dra dit met my saam, onsigbaar vir die buitewêreld.

In hierdie vlymskerp riller ironiseer die skrywer die wêreld van die middelklas in Nederland, spesifiek die idee dat enigiemand ’n “perfekte” lewe kan lei; tog voel die sosiale kommentaar universeel.

Die donker herinneringe wat Helen saamdra, gaan oor ’n verskriklike voorval in haar eie huis drie weke tevore, een wat haar gesin se lewe ongetwyfeld sal verander.

Helen is al amper 20 jaar getroud met Werner en woon in Nederland in ’n droombuurt in ’n droomhuis saam met hul drie tienerkinders. Verhoef lê gou vir die leser kontraste bloot tussen dié oënskynlik idilliese bestaan en allerhande dinge wat al lank onder die oppervlak prut.

Ondanks sporadiese, kortstondige oplewings het die verhouding tussen man en vrou gestol. Werner se spysenieringsondernemings neem al hoe meer van sy tyd in beslag; Helen sukkel om by te hou by die intensiewe pas van die verpleegkunde en haar rol as tussenganger tussen lewe en dood. Verder is daar die vriendskap tussen Helen en haar kollega Lex wat lank reeds dreig om in iets meer oor te spoel.

Elkeen van die tieners in Helen se huis het ook hul eie geheime en onsekerhede.

Maar in die Môhring-gesin gaan almal hul gang, totdat ’n inbraak een aand lelik skeefloop. Die kinders bly ongedeerd en weet van niks, maar Werner en Helen word gedwing om in die nasleep ’n ál swaarder las te dra.

Perfekte riller-doepa, dié.

Helen het ’n tatoe wat lui “Tel jou seëninge”. In hierdie vlymskerp riller ironiseer die skrywer die wêreld van die middelklas in Nederland, spesifiek die idee dat enigiemand ’n “perfekte” lewe kan lei; tog voel die sosiale kommentaar universeel. Moederskap, spesifiek die verhouding tussen moeders en jonger kinders, maar ook die verhouding tussen die dogter-as-ma en die bejaarde moeder, word onder die loep geneem. Ook die onsigbare band tussen alle moeders van seuns.

Hierdie gesinsnoir skep meesterlik spanning deur die tydselement ná ’n misdaad te ontgin, nou vervleg met die afwisseling in vertelling tussen intieme bekentenisbriewe en die perspektief van die alsiende verteller.

Die slim einde, onverwags roerend en roerend onverwags, sluit sake bevredigend af sonder om te netjies te wees.

Liewe Mamma, behendig vertaal deur Joanita Fourie, is die ideale grendelstaatvermaak.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.