Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ons gaan lag deur trane,’ sê Breyten oor Ampie Coetzee

“Ons het ’n broer en ’n makker en ’n kameraad en ’n medestryder verloor, ’n danser voor die ewige.”

So sê die gevierde digter Breytenbach oor sy jarelange vriend, die letterkundige en taalstryder Ampie Coetzee, wat Donderdag aan hartversaking dood is.

Ampie Coetzee en Breyten Breytenbach. Foto: Cloete Breytenbach

“Dit is verskriklik om so ’n hegte vriend, soos ’n broer, te verloor,” sê Breytenbach in ’n verklaring wat deur die Breytenbach-sentrum in Wellington uitgereik is.

Coetzee het as medestigter van die uitgewer Taurus wat boeke van Breytenbach uitgegee het, ook toe hy in die tronk was.

“Hy het deur ons hande geglip toe ons hom ten alle koste wou vashou, al is dit ook net vir nog ’n paar maaltye saam, vir nog ’n glas goeie wyn, vir nog ’n lag en nog ’n vasdruk teen die bors,” lui die verklaring verder.

“Ons gaan probeer lag deur die trane. Want hy was van die son, nie die skemering nie. En hou hom waar dit nou nooit weer anders sal wees nie – in die oneindige ruimte van dankbaarheid om ’n lewe met hom te kon deel.”

Breytenbach se vrou, Yolande, het hom herinner aan al daardie jare van vriendskap en solidariteit.

“Veral ook teenoor haar, toe ek nie daar was vir hulle nie. Lank lewe Ampie! Dit was alles, alles, alles die moeite werd.”

Coetzee was ’n dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en later die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK).

Kennis van die aand
Ampie Coetzee tydens die protes teen verbod op André P. Brink se roman ‘Kennis van die aand’. Foto: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

Die skrywer John Miles het hom in KwaZulu-Natal ontmoet, maar hul vriendskap het eers werklik begin toe hulle albei aan Wits doseer het.

“Met die verbod op André P. Brink se roman Kennis van die aand het ons ’n fonds gestig om die boek te verdedig. André het later daardie geld aan ons teruggegee en daarmee het ons Taurus begin.”

Miles, Coetzee en Ernst Lindenberg het saam die uitgewery Taurus begin.

Breytenbach-sentrum
Anne-Ghrett Erasmus, Yolande en Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee by die Breytenbach-sentrum in Wellington. Foto: Francois Lötter

“Ampie het ’n besonderse aantrekkingskrag gehad,” sê Miles.

“Afrikaanse studente het juis by Wits gaan studeer om by hom klas te kry. Vir ’n hele klomp jare was hy my naaste vriend, en so te sê my kinders se enigste oom. Ons het saam na plekke soos die Bosveld en Namibië gegaan. Ons het saam rooiwyn gedrink. Hy kon lekker kos maak. Ek onthou sy hoenderkerrie.”

"Hy was die eerste, en waarskynlik die laaste, mens in my lewe wat uit bully beef iets lekkers kon maak."

Miles onthou ook sy lag.

“Hy kon ernstige sake temper met ’n lag. Ek dink dis ’n noodsaaklike persoonlikheidseienskap.”

Miles, wat op ’n plaas in die Noord-Kaap woon, en Coetzee het mekaar in 2019 die laaste keer gesien.

“Ons het op die stoep van die Breytenbach-sentrum gesit en gesels. Ek sal altyd onthou hoe hy Breyten se naam lewend gehou het terwyl hy in die gevangenis was. Ampie had ’n lojaliteit aan sy vriende.”

Prof. Ampie Coetzee Foto: Leane Stander

Prof. Gerrit Olivier, emeritusprofessor aan Wits, onthou ook Coetzee se slag met kosmaak.

“Ek onthou ’n keer in Botswana: Hy was die eerste, en waarskynlik die laaste, mens in my lewe wat uit bully beef iets lekkers kon maak. Hy was ’n wonderlike kollega, maar ’n plofbare persoon. Hy was energiek. By hom was daar nooit verveling nie.”

Olivier loof ook sy letterkundige bydrae.

“Hy het miskien die prominentste rol gespeel om die letterkundige verbintenisse met politieke vraagstukke na vore te bring.”

Coetzee is die skrywer van boeke soos ’n Hele os vir ’n ou broodmes: grond en die plaasnarratief 1595, Letterkunde en krisis en Marxisme en die Afrikaanse letterkunde.

Hy was ook die samesteller van verskeie publikasies.

Die digter Louis Esterhuizen meen ’n mens het altyd baie gemaklik in sy teenwoordigheid gevoel.

Ampie Coetzee
Ampie Coetzee Foto: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

“Sy eerlikheid staan veral uit. Hy het ’n ding gesê soos hy voel. Hy het met sy hart op sy mou geloop. Hy het die gordyn oopgetrek vir die dinge wat Afrikaans en Afrikaanssprekende mense versluier het.”

Coetzee het groot geesdrif vir Afrikaans gehad.

“Hy kon ongemaklike oomblikke besweer met sy kenmerkende lag en sardoniese opsommings."

“Maar hy was ’n taalstryder met ’n inklusiewe beskouing, op ’n eerlike en deursigtige manier en daarvoor sal mense wat van hom verskil het, hom ook respekteer.

Prof. Ena Jansen, emeritusprofesser aan die Universiteit van Amsterdam en skrywer van Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, beskryf Coetzee as ’n “dierbare” kollega.

“Slim, onnutsig, sy lekker lag sal ek altyd onthou. Ampie se belangstelling in die Marxisme, arbeidsverhoudings, literatuursosiologie en sy boek oor grond het my baie geïnspireer in die navorsing wat ek vir Soos Familie gedoen het. Die laaste keer dat ek hom gesien het, was laasjaar Februarie toe Breyten se Op weg na Kû bekend gestel is. Ek sal hom mis.”

Die boekjoernalis Amanda Botha, wat Coetzee sedert die 1970’s ken, sê hy het nooit geskroom om ’n uitdaging te aanvaar nie.

“Sy bydrae met die totstandkoming van Taurus, wat selfs klandestien boeke uitgegee het nadat dit nie by hoofstroomuitgewers aanvaar is nie weens die risiko dat dit verbied sou word, het gesorg dat die boeke vinnig by lesers uitgekom het voor enige beslaglegging.

Dit was ’n belangrike bydrae om Afrikaans as skryftaal onafhanklik te hou.

Ampie Coetzee
Ampie Coetzee op die Tuin van Digters in Wellington. Foto: Marlene Malan

Hy was ’n besonder fyn leser van poësie en sy oordeel is wyd gerespekteer.”

Ian Raper, uitgewer en biograaf, het Coetzee op universiteit ontmoet.

“Ek het hom as geestig en “stiptelik” beleef. Hy was op baie maniere belangrik vir Afrikaans. Belangriker as honderde politici wat die taal wou afdwing op mense en glo dit sal die taal “bevoordeel” pleks van “bevorder”. Hy het baie met Breyten se werk gedoen en sy nalatenskap bly seker van die beste kritiek daaroor. Ook sy anti-apartheidswerk as letterkundige aktivis.”

Die skrywer en resensent Kerneels Breytenbach sê hoewel die letterkunde baie “kleurryke” figure opgelewer het, was Coetzee enig in sy soort.

“ ’n Mens met ’n groot visie en die spreekwoordelike klein hart. Hy kon krities en indringend oor sowel letterkunde as politiek skryf, maar het hom met groot deernis ontferm oor die enkeling en getroffenes.

“Hy kon ongemaklike oomblikke besweer met sy kenmerkende lag en sardoniese opsommings. Hy het ná die sluitings van Taurus en Hond die aanvoorwerk gedoen om Breyten Breytenbach as digter weer by Human & Rousseau te laat uitgee, waaroor ek hom altyd baie dankbaar sal wees. Wat hom in my oë nog wonderliker gemaak het, was dat hy so ’n goeie kok was. Sy bouillabaisse was legendaries.”

Coetzee word oorleef deur sy vrou, Anne-Ghrett Erasmus, en twee kinders.

• ’n Byeenkoms om Coetzee te onthou en sy nagedagtenis te eer, word op op 25 Oktober om 11:00 tussen die gedigte in die digterstuin by die Breytenbach Sentrum gehou.

Meer oor:  Ampie Coetzee  |  Breyten Breytenbach  |  Wellington  |  Letterkunde  |  Taalstryder  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.