Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ons is almal júís so

Jeanne Goosen se werkersklasroman 'Ons is nie almal so nie' het in 1990 die toekennings ingeryg – die destydse driekuns – die M-Net Boek-, die CNA- én die Rapport-toekennings. Willie Burger besin oor die durende belang van dié roman. 

Die eerste uitgawe van ‘Ons is nie almal so nie’ deur Jeanne Goosen.
‘Ons is nie almal so nie’ deur Jeanne Goosen.

Oorspronklik is Ons is nie almal so nie uitgegee as ’n klein rooi boekie in gatsakformaat. Op dié manier het die boekie al gerebelleer teen ’n bepaalde gemáákte “hoë kultuur” van die Afrikaanse letterkunde.

Dit was 1990 en die titel het dadelik resoneer by Afrikaners wat hulle nie met Afrikanernasionalisme en met Christelike nasionalisme wou assosieer nie. Ons wou saam met Doris uitroep: “Ons is nie almal so nie!”

Miskien het die titel te maklik oor ons almal se lippe gekom, want as ’n mens hierdie klein boekie mooi lees, het Jeanne Goosen ons ook daaraan herinner dat ’n mens nogal maklik kan voel jy is nie só nie, maar dat jy dan nog presies só kan wees.

1990 was kort ná die Voëlvrytoer, dit was die jaar waarin FW de Klerk aangekondig het dat die ANC ontban en Nelson Mandela vrygelaat gaan word. Dit was ’n tydperk waarin baie wou sê ons is nie almal rassiste, ondersteuners van ’n onderdrukkende, uitsluitende patriargale, heteroseksuele, wit, Christelike orde nie.

Die novelle is egter bedrieglik. Die woorde waarmee Doris die bure, wat die woonbuurt weens die Wet op Afsonderlike Woongebiede moet verlaat, agternaroep, is nie ’n eenvoudige verontskuldiging nie.

Die Williamse hou nie stil en aanvaar die koek wat sy hulle aanbied nie. En sy bly ’n bietjie verslae agter, op ’n soortgelyke manier as wat baie Afrikaners ook maar verslae voel dat hulle, ten spyte van hul uitroepe dat ons nie almal so is nie, steeds – net omdat hulle wit is en Afrikaans praat – as rassisties en konserwatief beskou word.

‘Ons is nie almal so nie’ deur Jeanne Goosen.

Doris se uitroep dat ons nie almal só is nie, word ingewikkeld in die novelle. As vrou binne die patriargale Afrikaner-stelsel, in die skaduwee van die kerktoring, die skoolsaal en Nuweland se paviljoen, is daar weinig uitkomkans. Doris rebelleer teen haar pa se streng opvoeding deur te rook en te drink en te fliek, maar steek tog al die drank en sigarette weg en eet Sen-Sen vir haar asem en trek haar gesig op ’n plooi en praat mooi wanneer haar pa kom kuier.

Sy is bereid om haar man openlik teë te gaan, maar uiteindelik, ná altwee die mans in haar lewe sterf, keer sy juis terug na die lewe wat hulle voorgestaan het: Sonder drank, sigarette of die bioskoop. Sy bly weg van die Roomse en die kommunistiese gevaar. En daarmee saam verdwyn die verbeelding van alternatiewe moontlikhede van wees en die joligheid uit haar lewe. Dit is ’n droewe waarskuwing.

Goosen kon ons almal ook laat lag. Wanneer Doris kla dat Piet nie meer soos voor hul troue vir haar blomme en tjoklits bring nie, antwoord hy: “ ’n Mens voer mos nie ’n vis wurmpies as jy hom klaar gevang het nie.”

Doris se ma gaan skool toe en vra die hoof om nie die kinders toe te laat om opstelle te skryf nie, want dit leer hulle lieg.

Goosen het ’n verbeelding gehad wat kon lieg – aanhoudend kon vlieg en so van buite na ons beperkte en beperkende wêreld kyk.

Sy was nie soos ons almal nie en het geweier om soos almal te wees. Humor en verbeeldingsvlugte is die maniere waarop sy haar verset teen kleinburgerlikheid in alle vorme uitgedruk het.

Ons is nie almal so nie is so meesleurende omdat dit uit ’n kind se perspektief aangebied word. Die beelde wat Gertie as verteller aanbied, is helder, vol kleur, vol geur, vol smaak, maar fragmentaries. Juis daarom, omdat sy nie die implikasies van al die helder episodes verstaan nie, maar die leser wel, is dit onthutsend. Gertie verstaan nie die onderliggende stelsel nie, maar onthul dit tóg aan die leser.

En die leser wat versigtig lees, besef hoe maklik ons almal juis deel van die sisteem is, selfs al dink ons ons is nie so nie.

Meer oor:  Boeke  |  Jeanne Goosen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.