Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ons kies die stories wat ons pas

Tinus Horn se vierde roman het nie ’n netjiese begin, middel en einde nie, en tog het dié onderhoudende vervlegting van miljarde ‘morsige stories’ Kay-Ann van Rooyen enduit aan die lees gehou.

Wat het geword van Dinsdag?deur Tinus Horn. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R285.

Wanneer ’n mens op ’n punt kom waar jy bestek moet opneem van jou lewe, kry jy gewoonlik beter perspektief as jy genoeg afstand plaas tussen jou en jou tuisland. Dit is presies dié bootjie waarin Joe, ’n 37-jarige Suid-Afrikaner, hom bevind wanneer hy net voor die wisseling van die millennium in New York aankom.

Op sy eerste dag in die jeughostel waar hy tuisgaan, “loop [hy] hom in sy verlede en sy toekoms vas” wanneer ’n ou liefde, Nina, hom met ’n blitsbesoek verras en hy ook ’n landgenoot, die verloopte Jood Michael, ontmoet.

Die leser leer Joe ken deur terugflitse na sy grootwordjare in Suid-Afrika tydens die apartheidsjare; sy studentedae op Wits, waar hy kuns studeer en vir Nina ontmoet het; en sy “loopbaan” ná universiteit.

Daar is etlike tydspronge, want Joe se gedagtegang word maklik onderbreek en dan verander die storie skielik van koers. Só vervleg die skrywer nie net verskillende verhaallyne nie, maar hy kry dit terselfdertyd reg om die spanning te behou én jou te laat aanhou lees om uit te vind waarheen ’n spesifieke verhaallyn gaan.

Om terug te keer na Joe se loopbaan: Hy het 15 jaar as kunsvervalser gewerk en vir ’n galery-eienaar en sy vennoot skilderye gemaak wat hulle dan as die werk van minder bekende groot skilders verkoop het. Hy het sakke vol geld gemaak en baie rondgetrek, wat natuurlik nie bevorderlik is om verhoudings te bou en familiebande te onderhou nie.

Wat het geword van Dinsdag? het nie ’n netjiese begin, middel en einde nie. Soos Joe self waarsku: “Die lewe is miljarde stories wat mekaar se wentelbane kruis . . . Ek glo in morsige stories sonder enige betekenis, want hulle strook met my ervaring van die lewe.”

Tinus Horn is benewens joernalis, animasiekunstenaar en skrywer van die romans Droster (1996), Bomskok (2013) en Boas Mei is verward (2015) ook ’n kunstenaar wat duidelik sy kunsgeskiedenis ken. Sy verwysings na bekende skilderye en Joe se besoeke aan die Metropolitan Museum of Art in New York en die National Gallery of Art in Washington prikkel ’n mens se verbeelding en noop jou om die werke te gaan naslaan. Vir dié doel het die skrywer selfs ’n inspirasiebord op Pinterest geskep waar lesers kan gaan kyk hoe die kunswerke lyk wat in die roman ter sprake kom.

Die galeryvennoot Elrike, vlymskerp en ’n meestermanipuleerder, is ’n karakter wat jou bybly. Hoewel Horn die verhaal vanuit Joe se oogpunt vertel, moet die leser fyn oplet om te onderskei tussen die waarheid, die leuens wat Elrike vertel asook Joe se eie verdigsels, soos vals herinneringe ten einde skuldgevoelens te onderdruk, wat hy mildelik verkondig met die hulp van alkohol. Aan die ander kant, sê hy, “die stories wat ek wil vergeet, is dié wat ek die beste onthou”.

Wat het geword van Dinsdag? het nie ’n netjiese begin, middel en einde nie. Soos Joe self waarsku: “Die lewe is miljarde stories wat mekaar se wentelbane kruis . . . Ek glo in morsige stories sonder enige betekenis, want hulle strook met my ervaring van die lewe.” Die skrywer raak temas aan soos ontworteling, selfontdekking, heimwee, verlies en ’n soeke na betekenis. Daar is die vooruitsig van geluk, want deur Michael ontmoet Joe ’n Mexikaanse vrou wat hom die geleentheid bied om vir homself ’n nuwe storie te skep. Al hierdie “morsige stories” is vaardig vervleg om ’n onderhoudende verhaal te vertel wat lekker lees – let net op die waarskuwings en wenke wat Joe subtiel laat val.

  • Kay-Ann van Rooyen is ’n vryskut-teksredakteur van die Paarl.
Meer oor:  Boek  |  Roman  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.