Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ons leer nog te min van Rian

’n Mens draf die radio-en-TV-aanbieder Rian van Heerden se outobiografie in ’n middag kaf, maar hy laat ons nie in al sy kaarte kyk nie, skryfJohan van Zyl.

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R260.

Die meeste gay mense besef hulle is “anders” lank voor woorde soos “moffie”, “let(tie)”, “homo”, “gay” en “buitestander” vastrapplek kry in hul woordeskat of hulle regtig verstaan wat hierdie etikette beteken.

Selfs die “gelukkiges” wat op vyf of agt of twaalf of sewentien nie noodwendig hulself as “anders” beskou nie, of wat grootword in ’n verligte huis of land of tydvak waar homoseksualiteit nie teen die wet, “sonde” of “afwykend” is nie, kom mettertyd agter hulle het tog ’n eiesoortige, afstandelike, selfs kritiese blik wat meermaal ingrypend verskil van die wêreld om hulle: hul ouers en vriende, spiritualiteit en godsdiens, liefde, seksualiteit, tradisionele geslagsrolle . . .

Omdat gay mense gedurende hul vormingsjare soveel tyd in hul bedompige binnekamertjie deurbring, deurentyd bewus van hul gemarginaliseerde status en vervul met vrees dat die “hoofstroom” hulle sal verwerp wanneer die “waarheid” uitkom, leef baie vir (te) lank met hul “geheim” saam totdat hulle – dikwels heel dramaties – óf uit vrye keuse uit die kas tuimel óf daaruit geboender word.

Dit is wat met die radio-en-TV-aanbieder Rian Esli van Heerden gebeur het. Of soos hy dit op bl. 127 stel: “Ek het myself letterlik 31 jaar van my lewe ontken.” Reeds as “stil, teruggetrokke, onmerkwaardige kind” het hy oor die plakkate van Naas Botha en Danie Gerber teen sy muur gekwyl – en beslis nie omdat hy soos hulle wou rugby speel nie.

In dié outobiografie vertel hy jou van al die relletjies oor die jare en wat ’n mens ook al op die prille ouderdom van 43 op die hart kan hê.

Gevolglik het Van Heerden veiligheidshalwe ’n bangerige, brildraende boekwurm, Bybelroker en (om den brode) bedsokkiesmous gebly wat op 13 aan sy eerste redenaarskompetisie deelgeneem het.

Sy helde was die groot orators Eugène Terre’Blanche van die AWB en Andries Treurnicht van die Konserwatiewe Party wat hom laat besef het met woorde en humor kan jy die wêreld verander.

Dertig jaar later staan Van Heerden bekend as “die bloukaas van die radiobedryf” – lees: ’n aangeleerde smaak – met ’n reputasie as skoorsoeker en moeilikheid- en grapmaker. By Radio Tuks (later Tuks FM), Punt Geselsradio, Jacaranda FM, OFM en kortstondig by 702 maak hy telkens die volk die hoenders in, en in dié outobiografie vertel hy jou van al die relletjies oor die jare en wat ’n mens ook al op die prille ouderdom van 43 op die hart kan hê.

Aan die een kant het Van Heerden geleer as almal van jou as radioaanbieder hou, doen jy beslis iets verkeerd, en aan die ander kant weet hy nou dat die impak van sy woorde dikwels in die verlede veel groter was as wat hy besef het. Hy moes leer jy moet te alle tye weet waarvan jy praat; jy moet weet dat mense luister; jy moet weet dat jou woorde mense kan seermaak.

Sy geselserige trant, selfs ’n blouboordjie-vuisgeveg of twee, en ’n kompakte fotoafdeling laat ’n mens die boek binne ’n agtermiddag kafdraf, en danksy ’n gesonde dosis selfspot raak selfs die uit-die-kasklimmery nooit ’n wroegende affêre nie.

Die dele oor die talle klagtes wat oor die jare by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika teen hom ingedien is, kon wel strenger geredigeer gewees het, en die meeste van die altesame 14 koerantberigte wat woordeliks herhaal word, kon maklik in ’n paragraaf opgesom word.

Van Heerden skryf ook te veel oor mense met wie hy onderhoude gevoer het pleks daarvan om ’n paar van die kaarte te wys waarin hy ons nie wil laat kyk nie.

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie sal vir stoere aanhangers vermoedelik min verrassings of skokke oplewer, en diegene wat hom nie kan verduur nie, sal genoeg skietgoed kry om steeds die Domste Drol-prys aan hom te oorhandig.

Uiteindelik sê die boek veel meer oor sekere soort Afrikaanse mense, wat glad nie so warm en oop is soos wat hulle graag te kenne wil gee nie. Nee, ons volkie se vel is meestal aan die dun en sensitiewe kant. Om die kat in die donker te knyp is soveel lekkerder as onverdunde eerlikheid. En wee die onnadenkende andersdenkende buitestander wat ons heilige koeie kom ontheilig.

  • Johan van Zyl is boekeredakteur van Rapport en mederedakteur van die tydskrif Platteland.
Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.