Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Onthutsende debuut verras

Fiksie

Klikbek

Sidney Gilroy

HUMAN & ROUSSEAU, R280

Niemand wil ’n klikbek genoem word nie. Sekere dinge in die lewe moet egter uitgebasuin word, vroeër eerder as later.

Sersant Sollie Mthembu by die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein is ongedurig. Hy wil van ’n vervelige roetine wat administratiewe takies behels, ontsnap en sy eerste saak as volbloed speurder hanteer.

Die megaboer Tillman Wagenaar verdwyn. Nie net is Wagenaar ’n vriend van die polisiekommissaris nie, maar die polisie in Bloemfontein benodig dringend ’n suksesstorie.

Ná deeglike oorweging gee kapt. Maartin Brummels die dossier aan Sollie. Die dorpie waarheen Sollie hom moet haas, is immers net “ ’n kolletjie op die kaart” en Brummels vermoed dit is dalk net huismoles wat gou iets van die verlede sal wees.

Sollie se ondersoek na die omstandighede waarin ’n vooraanstaande boer verdwyn het, word ’n kitskursus in motief, oorsaak en gevolg onderlê deur jaloesie en wraak as twee moorde die saak verder kompliseer. Die spil waarom die drama draai, is die spogplaas Onverwacht wat “ ’n laslapkombers van ander mense se ongeluk en mislukking” is.

Ek wil my verstout om te sê dat Bloemfontein en die Vrystaat as literêre ruimte nogal afgeskeep word in ons kontemporêre letterkunde. Klikbek is ’n welkome korrektief.

Wanneer Sollie die pad vat na die fiktiewe dorp Rhynveld toe, ontvou ’n tipiese Vrystaatse landskap voor hom – die pad lê reguit voor hom uitgestrek met ’n wye niks op die horison. So onopgesmuk egter as wat die omgewing blyk te wees, so kompleks is die mense en interpersoonlike verhoudings waarmee hy gekonfronteer word.

Met sy getemperde register en woorde wat voel soos ’n vars bries op ’n soel somersdag is Klikbek ’n teks wat sy leser van begin tot einde boei. Voeg hierby verrassende kinkels soos die raaisel oor die ontvoering en die moorde verdiep. Met ’n sterk storielyn en knap karakterontwikkeling is dit ’n verhaal, om by PG du Plessis te leen, met “narrative pull”.

As karakter word Sollie Mthembu ’n prisma waardeur die leser kan sien hoe konvensies en sosiale kodes wat tot die verlede behoort, springlewendig is daar waar die kollig nie is nie. Sollie se lewensreis van Matatiele in die Oos-Kaap tot by die Parkweg-polisiekantoor is aangrypend. Die letsel aan sy gesig is ’n fisieke herinnering aan die geestelike pyn wat die verlede aan so baie mense in ons land besorg het.

Klikbek is ’n onthutsende debuut waarin die psigiese letsels van die karakters pynlik en genadeloos blootgelê word.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Sidney Gilroy  |  Klikbek  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.