Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Onthutsende verslag oor onbeholpe polisie

Simone Haysom verdien ’n pluimpie vir die pakkende en veelvlakkige manier waarop sy ’n komplekse Kaapse Vlakte-storie uitpluis en vertel in ‘The Last Words of Rowan du Preez’, skryf Theunis Engelbrecht.

The Last Words of Rowan du Preez: Murder and Conspiracy on the Cape Flats deur Simone Haysom. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275.

The Last Words of Rowan du Preez is een van die verontrustendste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het.

Dit speel af van 2012 tot 2016 teen die agtergrond van die ineenstorting van polisiëring in Khayelitsha net buite Kaapstad en die kommissie van ondersoek wat daarna gelas is deur Helen Zille, Wes-Kaapse premier, nadat die nasionale regering niks omtrent die saak wou doen nie.

Haysom vertel die verhaal van Angy Peter, ’n aktivis van die Social Justice Coalition, wat haar verset het teen die toenemende vigilante-aanvalle in die Kaapse township Mfuleni, en Rowan du Preez, ’n albino en slagoffer van ’n halssnoermoord. Voor sy dood het Du Preez aan die polisie gesê dit was Peter en haar man, Isaac Mbadu, wat hom aan die brand gesteek het.

Peter was die persoon in Mfuleni na wie ander inwoners gegaan het wanneer hulle raad wou hê oor hoe om beter diens en reaksie van die polisie te kry. Sy was ’n vuurvreter en het self gereeld na polisiekantore gegaan om beter diens te eis. Sy het hulle daarvan beskuldig dat hulle nie hul werk doen nie en basies ’n spul slapgatte is. Dit het haar baie ongewild gemaak by die polisie.

Die drama begin wanneer Peter en Mbadu se TV gesteel word en daar skynbaar geen twyfel is dat Du Preez die dief is nie. Omdat dit nie help om die polisie in te roep nie besluit ’n paar inwoners om Du Preez te soek en die TV terug te kry.

’n Mens voel verbaas dat die saak nie summier afgewys is nie weens al die brouwerk. ’n Mens kry gereeld die gevoel dit was ’n klug.

Oor alles wat hierna gebeur het totdat ’n sterwende Du Preez langs die pad ontdek is, is daar baie stories. Wat het presies gebeur? Dit was natuurlik ook een van die belangrikste vrae in die hofsaak wat gevolg het nadat Peter en Mbadu en twee medebeskuldigdes, Azola Dayimani en Christopher Dina, in hegtenis geneem is.

Was Peter en Mbadu inderdaad betrokke by die moord, soos Du Preez beweer het voordat hy gesterf het? Of wou hy die polisie op ’n vals spoor sit? Wou hy wraak neem? Daar was hoeka stories dat hy deur ’n offisier by die Blue Downs-polisiekantoor ingespan is om goed vir hom te steel. Of was dit alles net ’n manier om Peter se mond gesnoer te kry?

Wat ’n intrige! Hoe ontrafel ’n mens dit?

Haysom beïndruk met hoe sy dié komplekse verhaal uitpluis en vertel. Sy gee deeglike agtergrondinligting oor al die rolspelers en skets die maatskaplike probleme en verval in Mfuleni met heelwat insig. ’n Mens kan verstaan dat jong werklose mans hulle in sulke omstandighede tot misdaad wend, want daar is geen ander uitweg nie. In Du Preez se geval is dit vererger omdat hy gespot en gemarginaliseer is omdat hy ’n albino was. Hy het gevoel hy is niemand nie.

Haysom verweef dié verhaal met die getuienis wat gelewer word voor die kommissie wat polisiëring in Khayelitsha ondersoek. Die duistere metodes wat die polisie in die Du Preez-saak gevolg het, word as’t ware ’n spieëlbeeld van die onthullings wat voor die kommissie gemaak word. Die polisie se onbeholpenheid, soos dit na vore kom in Peter en Mbadu se moordsaak, is uiters onrusbarend. In die boek word onder meer gekyk na hoe die dossier hanteer is, en die inhoud daarvan laat ’n mens verbaas voel dat die saak nie summier afgewys is nie weens al die brouwerk.

Daarom is dit fassinerend om te lees hoe die hofsaak verloop. ’n Mens kry gereeld die gevoel dit was ’n klug. Was dit? Elke leser moet self besluit. Daar is nie maklike antwoorde in hierdie boek nie. Hier is niks swart en wit nie – alles is ’n grys gebied. Hoe vind ’n mens die volle waarheid in sulke omstandighede? Dit is duidelik dat patetiese polisiewerk en die maatskaplike omstandighede in townships soos Mfuleni en Khayelitsha – en hulle is beslis nie die enigstes nie – die wortel van die kwaad is.

Wat word gedoen om dit reg te stel? En hoeveel mense buit sulke omstandighede uit om politieke magspeletjies te speel?

The Last Words of Rowan du Preez is ’n pakkende, veelvlakkige boek wat ’n mens lank bybly.

Jy wonder oor baie van die karakters: Watter hoop en vooruitsigte was daar vir hulle? Kon hulle dit hoegenaamd bekostig om drome en ideale te hê, of was hulle maar gewoon gedoem tot die verskriklike dinge wat met hulle gebeur het?

Die uitgewer verdien ook ’n pluimpie vir die uitstekende versorging: Dit is ’n komplekse verhaal met baie rolspelers en die leser moet kophou, daarom help die lys name van al die karakters voorin, asook die kaarte van Bardale, Mfuleni en Khayelitsha baie. Daar is deeglike eindnotas asook ’n volledige indeks agter in die boek.

In dié geval is dit die moeite werd om te noem dat die gesoute misdaadskrywer Mike Nicol die redakteur van die boek was.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.