Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ontknoping ruk leser, karakters tot stilstand

Roman

Die verevrou

Jan van Tonder

Human & Rousseau

Met ’n storie wat soos die sirokko jou gedagtewêreld inwaai, word die leser genoop om ná die lees van Jan van Tonder se Die verevrou eers tot verhaal te kom om die insigte wat dit bied behoorlik te oorweeg. Want so lekker en vinnig as wat die roman lees, so onderhoudend is die tematiek wat daarby betrek word.

Op haar skoppelmaai op die plaas Finisterre in Algerië in 1948 sou die sewejarige Liora nie bewus wees van die boodskap in Albert Camus se roman La Peste nie. Stip met haar oë op die horison wens sy vir ’n stofwolk wat oom Moshe se lorrie kan wees. Moshe Habib is haar ander pa, die minnaar van haar moeder. Hy bring altyd volstruisvere uit Oudtshoorn vir haar tante se pluimery – dit is eersteklas-vere wat gesog is vir die modegier van daardie tyd. En boeke vir Liora se ma, soos Camus se Die pes.

Die tyd stap aan en Die pes van Camus se metafoor van ontwrigting, anargie en hoe mense daarop reageer word ’n realiteit in Algerië, ook in die lewens van Liora en haar familie. Die beelde van rebellemagte en oorlog en die wreedheid daarvan ontstem en ontstel. Om te vlug of nie te vlug nie, dit is die moeilike keuse, want hoe jy ook al besluit, dit kom teen ’n prys.

Vele wedervaringe en omswerwinge later lyk dit of Liora ’n holte vir haar voet in die Klein-Karoo vind. Want (hoop sy) dit is die plek waar sy haar geliefde oom Moshe en kleintyddrome weer sal opspoor.

In die Klein-Karoo ontmoet sy ’n jong vrou wat ook lief is vir vere – trouens, dié vrou maak ’n bestaan, weliswaar van die hand na die mond, uit die skoonheid wat pluime bied. Candice Amat se verhaal vertel die storie van ’n lewensgeluk waarvan mense soos sy en haar gesin uitgesluit was omdat dit vir uitverkorenes gereserveer is. Candice woon saam met haar ouers buite die witmense se dorp – dit is nou maar hoe die samelewing destyds geproklameer was. Die verhouding tussen Candice en haar pa is so aards en mooi soos ’n sonsondergang in die Karoo. Soos wat ’n skoppelmaai eens op ’n tyd vir Liora in die lug kon hou weg van die onderstrominge van die lewe, net so vind Candice ’n uitlaatklep op stelte hoog in die lug.

Met Die verevrou span Van Tonder ’n wye doek waarteen sy verhaal afspeel.

Dit is ’n hele ses jaar sedert die verskyning van Van Tonder se vorige roman, Is weer Sagie. Lesers sal veral Roepman (2004) onthou, veral omdat dié roman suksesvol na die silwerdoek verplaas is. Dit is wat my betref een van die hoogtepunte in die Afrikaanse rolprentbedryf.

Met Die verevrou span Van Tonder ’n wye doek waarteen sy verhaal afspeel. Die leser pendel heen en weer tussen die 1940’s en die 1990’s. Wat milieu betref, bevind die leser hom saam met die karakters in die woestynagtige Algerië, die wêreldstad Parys, asook Kannaland met sy Karoobossies en annerste Afrikaans. Eksotiese beelde van kameel-karavane in die Sahara, die helder maan bokant Meiringspoort en ’n kosmopolitiese Parys word afgewissel met die reuk van kordiet, bloed en verminkte soldate.

’n Verhaal met ’n taamlik uitgebreide dramatis personae en waarin ontsettend baie met die karakters gebeur. Epies in elke opsig van die woord.

Jan van Tonder Foto: BRENDA VELDTMAN

Liora en Candice is uiteenlopende karakters met verskillende agtergronde. Hul gedeelde liefde vir die estetika van pluime word die raakpunt van ’n vriendskap wat oor taal, ras en klasverskille heen strek. Wat hulle ook met mekaar deel, is hul ontgogeling met ’n wêreld wat andersheid nie verdra nie. In hierdie opsig kom die tematiek van godsdiens, seksuele identiteit, paternalisme en die liefde wat blind is vir mensgemaakte reëls roerend aan die bod.

Stilisties beleef mens die verloop van die verhaal en die afloop daarvan op twee uiteenlopende vlakke. Dit is ’n besige storie wat met ’n snelle pas ontvou.

Van Tonder se beheer oor so ’n wydlopige verhaal bevestig hom as ’n virtuose prosaïs.

Die dénouement ruk die karakters en die leser egter tot stilstand. Dit is gewyde laaste oomblikke wat miskien meer vrae as antwoorde bied. Want al vind jy ’n holte vir jou voet wat landstreek, geloof of liefde betref, is dit oplaas die self teenoor wie jy in die finale instansie verantwoordbaar is.

Die verevrou, ’n hoogtepunt in Jan van Tonder se oeuvre, is ’n ambisieuse werk wat bewys watter wonderlike beelde en emosies woorde by die leser kan wek.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.