Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ontmaskering van NGK-lidmate se hongerdieet

Wat moet ons met ons Kerk doen? deur Jurie van den Heever. Uitgewer: Naledi. Prys: R225.
Resensent: Jean Oosthuizen

Met sy boek Wat moet ons met ons Kerk doen? gooi die paleontoloog Jurie van den Heever ’n stok in die kerk se wiel wat die kerkvaders waarskynlik na hul asem sal laat snak.

Van den Heever, bekend om sy deelname aan RSG se radioprogram Hoe verklaar jy dit?, maak verskeie omstrede stellings wat vir die meeste gelowiges dalk aardskuddend kan wees.

Sommer met die eerste blik na die boek se buiteblad val die teenpole tussen kerk en wetenskap ’n mens op.

Die kerktoring, as plattelandse ikoon, vergestalt die oorheersende posisie wat die kerk in die groter samelewing en spesifiek in die leefwêreld van die Afrikaner beklee het, terwyl die individue wat deur die veld aanstryk, die bewese evolusionêre ontstaan van die mens illustreer.

Dit is hierdie statiese leefwêreld wat kerklidmate oor die jare heen soos in ’n hongerdieet deur die kerkvaders gevoer is, waarteen die skrywer hom verset en wat hy ontmasker.

Sy benadering is om met ’n historiese narratief te werk en te probeer vasstel wat die Bybel regtig vir ons wil sê met inagneming van al die nuwe kennis waaroor die mens vandag danksy die wetenskap beskik.

Die kerktoring, as plattelandse ikoon, vergestalt die oorheersende posisie wat die kerk in die groter samelewing en spesifiek in die leefwêreld van die Afrikaner beklee het...

Daar is geen twyfel nie dat hierdie boek ’n opskudding in kerkgeledere (en veral die NG Kerk waarop dit primêr gemik is) gaan veroorsaak.

Dat Van den Heever die omstrede aard van sy boek goed besef, blyk uit die feit dat hy nie die individue wat hom met die finale weergawe daarvan beïnvloed en bygestaan het, by name wil bedank nie.

Hy haal wel ruim aan uit die gepubliseerde werke van ander teoloë en skrywers.

Sy stelling dat die Christelike geloof nie noodwendig ’n opgestane Jesus nodig het nie, sal veral in die Paastyd baie wenkbroue laat lig, maar hy verduidelik wáárom hy so sê.

Met wetenskaplike bewyse word die ondeurdagte besluite en uitsprake deur veral die NG Kerk wat in ’n toenemend onverdedigbare posisie is, op die skaal geplaas. Daarteenoor weeg hy die relevante bydraes van Bybelwetenskaplikes, argeoloë en veral bioloë wie se werk met eentonige reëlmaat deur die kerk geïgnoreer word.

Hy voer sy argumente terug na die ontstaan van godsdiens as universele verskynsel en trek dit deur tot waar dit mettertyd ontwikkel het in ’n tipies Suid-Afrikaanse neo-Calvinisme.

Dit is veral hierdie eiesoortige, onwetenskaplike neo-Calvinisme waarbinne die NG Kerk ’n belangrike rol gespeel het waarteen die skrywer dit het.

Hy toon met vers en kapittel aan hoe die Bybel kwistig gebruik is om apartheid te regverdig.

Al het die NG Kerk apartheid uiteindelik formeel afgesweer, is die naïewe realisme volgens hom kerngesond en figureer steeds sterk in die kerk en samelewing.

Soos ander skrywers voor hom toon hy aan hoe die Bybel en veral die Ou Testament die teologie telkens onkant betrap.

“Wie die Bybel in sy geheel as die Woord van God aanvaar, moet ongelukkig ook die meer as 1 500 gevalle van ongekende wreedheid, afguns en jaloesie in die Skrif konfronteer en verwerk,” skryf hy op bl. 47.

Sy raad aan die kerk is om die talle ongerymdhede, mites en stories te erken en uit te sif.

Die onbeholpe manier waarop die NG Kerk homoseksualiteit in die verlede benader het en steeds mee volhou, skep volgens Van den Heever nie net vir die kerk nie, maar ook vir alle denkende gelowiges, ’n onhoudbare situasie.

Nadat hy ’n dik rooi streep deur verskeie “geloofswaarhede” getrek het (onder meer Jesus se maagdelike geboorte, sy goddelikheid, hemelvaart, die bestaan van die duiwel, die hemel en die hel) bied hy met behulp van die biologie ’n alternatief hoe die kerk kan loskom uit die hoek waarin hy homself vasgeverf het.

Die Bybel kan byvoorbeeld nie as riglyn gebruik word om mense se seksuele voorkeure te beoordeel of uitspraak daaroor te lewer nie.

“Om selfs ’n mate van geloofwaardigheid te behou, behoort die Kerk sy onvermoë in dié verband ruiterlik te erken en die bewese navorsing oor menslike seksualiteit volledig onderskryf.”

Spiritualiteit word uit ’n wetenskaplike hoek bekyk sonder om die baba saam met die badwater uit te gooi.

Hy voer met oortuiging aan hoe die biologie ’n bydrae kan lewer tot ’n rasionele en moreel-etiese lewens- en wêreldbeskouing wat ’n gewyde of selfs heilige dimensie kan aanspreek, maar wat nie noodwendig ’n opperwese insluit nie.

Hy raak verskeie geldige en netelige kwessies in sy boek aan waaroor die kerk gerus kan nadink – selfs al koop hulle nie ál sy argumente nie.

Soos hy tereg opmerk, kan die kerk eenvoudig nie meer lidmate probeer weghou van die bevindings van hedendaagse Bybelwetenskaplikes en argeoloë nie.

  • Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Ng Kerk  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.