Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ontroerende debuut erken die onerkendes

Die sjarme van Lize Albertyn-du Toit se debuutroman lê in die gevoelige beskrywing van die Kaliempie-gesin se seisoenale roetine op plase in die Karoo en die Swartland, en die skrywer se buitengewone oog vir detail, skryf Louise Viljoen.

Lize Albertyn-du Toit boer saam met haar man op die plaas Vlakkerug naby Riebeek-Wes en is ook ’n remediërende onderwyseres by die Riebeeck Vallei Spesiale Skool. Foto: Brenda Veldtman

Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R310.

Lize Albertyn-du Toit se debuutroman, Die kinders van Spookwerwe, is ’n onderhoudende vertelling wat baie lesers se oë sal oopmaak vir die lewens van mense wat dikwels ongemerk en onerkend hul deel doen.

Dit gaan hier oor die Kaliempie-gesin, wat bestaan uit die pa, Hennerik, die ma, Mieta, en die seun, Milano (genoem na sy oupa wat ’n Italiaanse krygsgevangene was). Wanneer die roman begin, is ’n tweeling van minder as ’n jaar oud ook deel van die gesin, maar hulle sterf op tragiese wyse binne die eerste paar bladsye van die vertelling.

Omdat Mieta die karakter is in wie die vertelling grootliks geanker is, is haar droefheid oor die dood van haar kinders ’n deurlopende ondertoon in die roman, soos af te lei uit die volgende opmerking: “Die dood is ’n losloperding. Hy stap saam met jou op die werf, kyk vir jou met dowwe oë terug in die spieëltjie. Hy maak mense in die dorp nuuskierig. Saans klim hy met sy koue pote saam met jou in die kooi en kom steel jou slaap.”

Hennerik werk saam met Geelsuiker, ’n ou man wie se pa een van die “geelmense” was, op die plase Huurkop en Spookwerwe in die Bo-Karoo. Die eienaar van die plase woon in die Kaap.

Die skim van Suid-Afrika se ongelyke maatskaplike bestel doem eintlik net in die agtergrond van die gebeure op, al is dit onmiskenbaar daar.

Mieta versorg haar gesin, en Milano is een van die nabygeleë plaasskool se skranderste leerlinge. Boonop het hy ’n buitengewone liefde vir die omgewing en word hy deur Geelsuiker ingewy in alles wat met die veld en oorlewing te doen het. Wanneer die plaasskool moet sluit, plaas dit sy ouers voor ’n moeilike keuse: Moet hy uit die skool gehaal word, of moet hy en Mieta op die dorp gaan loseer? Dit is Hennerik wat, tot Mieta se ontsteltenis, op sy eie die besluit neem dat hulle na die Swartland moet trek waar hy werk op ’n plaas kry en Milano uit die huis kan skoolgaan. Die gesin verhuis dus na die Swartland waar hulle hulself moet wen aan ’n nuwe omgewing en nuwe mense.

Al word die presiese ligging van die plase in die Bo-Karoo en die Swartland waar die Kaliempie-gesin woon vaag gehou, blyk daar in albei gevalle ’n sterk sintuig vir die omgewing (dit wat die Engelse ’n “sense of place” noem). Die Bo-Karoo word met ’n noukeurige aandag vir die besonderhede van die plante, diere, grond, seisoene en lewensomstandighede beskryf, terwyl die Swartland-omgewing eweneens beskryf word met ’n buitengewone oog vir detail. Die tyd waarin dit alles afspeel word aanvanklik nie vermeld nie, maar dit blyk naby aan die einde dat die gebeure in die 1970’s afspeel.

Die sjarme van die roman lê in ’n groot mate in die rustige beskrywing van die Kaliempie-gesin se lewensloop. Ten spyte daarvan dat die verhaal begin met die tragiese dood van die tweeling, gaan dit nie oor ’n intrige wat spannende hoogtepunte en dramatiese wendinge najaag nie. Dit gaan oor die pynlik-langsame manier waarop Mieta die verlies van haar kinders verwerk, die daaglikse en seisoenale roetine van hul lewe op die Karooplaas en later in die Swartland en die manier waarop hulle hul seun grootmaak deur siekte en adolessente beproewing.

Met hul verhuising word daar byvoorbeeld op genoeglike wyse gefokus op die manier waarop Mieta die verwaarloosde plaaswerkershuis wat aan hulle toegewys is, reg­ruk. Daar word ook verwys na die soms moeisame opbou van betrekkinge met hul bure, onder andere die Mentoor-familie en hul dogter Geraldine wat ’n maat vir Milano word.

Daar is ook ander elemente wat met ’n byna antropologiese sin vir deeglikheid aandag kry, gelukkig selde so dat dit die vloei van die vertelling strem, byvoorbeeld hoe om ’n brood in te suur, melksnysels te maak, ’n geslagte skaap te verwerk, ’n hoender met luise te behandel, ’n slang te vang met ’n lewendige muis, die spoor van ’n jakkals in die veld te sny, vroedvrou te speel by ’n onverwagte bevalling, ’n wingerd te snoei, veldmedisyne te vind wat sal help vir ’n ontsteekte oog en nog vele meer. In dié opsig is dit byna ’n inventaris van inheemse oorlewingskennis.

Te midde van die fokus op die daaglikse gang van die Kaliempie-gesin se lewe bou die spanning tog gaandeweg op tot by ’n hoogtepunt waarin ’n huis afbrand en ’n baba gebore word. Sonder om die ontknoping te verklap kan ’n mens wel sê dit is pas dán dat die titel se verwysing na die “kinders” van Spookwerwe sin kry en daar in ’n mate vir Mieta se verlies vergoed word, al is dit dan deur traumatiese gebeure.

’n Mens is teësinnig om Kinders van die Spookwerwe op te saal met die beskrywing “plaasroman”. Die roman skep nie die indruk van ’n bewuste inskryf teen dié tradisie nie, maar is wel uitsonderlik in die sin dat dit onverdeeld die aandag vestig op die werkers wat plase in stand hou met hul arbeid.

Die skim van Suid-Afrika se ongelyke maatskaplike bestel doem eintlik net in die agtergrond van die gebeure op, al is dit onmiskenbaar daar. Die plaaseienaars is vae, meestal goedgesinde agtergrondsfigure wat nie in die fokus van die roman staan nie.

Volgens die erkennings het die skrywer van Kinders van die Spookwerwe heelwat mense geraadpleeg met die skryf van die roman.

Dit het duidelik neerslag gevind in ’n vertelling wat daarin slaag om met gevoeligheid en vaardigheid ’n verhaal te vertel wat baie lesers sal boei en ontroer.

  • Louise Viljoen is professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Lize Albertyn-Du Toit  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.