Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ontstellende boek oor mens se verraad ná geld en bloed

Plunderwoestyn

Christiaan Bakkes

PROTEA, R220

Biografiese Fiksie

“Ons stryd is nie verby nie. Waarskynlik sal dit nooit verby wees nie. Die natuur word op alle fronte aangeval. Maar eendag wil ons hier kom bly, omring deur die natuur.”

Dit is deel van die slotparagraaf van Christiaan Bakkes se jongste biografiese roman Plunderwoestyn oor die stroping van Namibië se swartrenosters.

Dit is ’n roerende, intense boek van ontnugtering, verwoesting, liefde, afskeid en die onthulling van wat in dié land gebeur: Die slagting van die land se kosbare natuurerfenis.

Plunderwoestyn is die sesde in sy Stoffel-reeks. Die eerste was Die lang pad van Stoffel Matthysen waarin Stoffel Matthysen die stem geword het van Christiaan Bakkes in sy lewe as veldwagter.

Die drif, vuur en avontuur waarmee hy sy omswerwinge dekades terug afgeskop en by die dood omgedraai het toe ’n krokodil hom in die Krugerwildtuin beetgekry het, het plek gemaak vir ’n koue woede.

Die ouer, wyser veldgids is ontnugter oor wat voor almal se oë in die Kaokoland en Damaraland gebeur.

Die base van natuurbewaring, politici en die stamhoofde konkel saam met die Oosterse slagters en oorsese jagters om die wildlewe af te maai. Of druk net oë toe.

Dit is ook ’n diep persoonlike reis vir Bakkes.

Hy reis na Suid-Afrika, die land van sy jeug en familie, om sy pa, Cas, vir oulaas te groet voor sy dood en om sy nuwe vriendin, die Amerikaanse Indiaanse vrou, Veertjie, wat hy in Namibië ontmoet te midde van die plundery, aan sy pa en familie voor te stel.

Bakkes en Veertjie word in Namibië as uitgesproke teenstanders van die land se beroemde gemeenskapsbewaringsprojek, waar die mense self die wild in hul omgewing bestuur, al hoe meer uitgestoot en selfs gedreig.

Hulle twee onderneem reise saam na Amerika waar hulle op ’n tradisioneel Iroquoi-Indiaanse seremonie in Arizona trou. Veertjie is geklee in ’n tradisionele hertvelgewaad en hy dra sy cowboystewels, Levi-jeans en been-, riem- en perlemoenhalssnoer van die Ojibwakryger wat Veertjie vir hom gegee het.

Die huwelik is een van die mooiste dele in ’n onlangse Afrikaanse roman omdat dit so uniek is. Waar Afrikaans en Apache saam in een seremonie twee mense van twee kulture en twee kontinente se liefde verewig.

“Veertjie bring haar fluit te voorskyn en speel soos sy gespeel het op ons eerste keer hier in die reën. Ek sing die tradisionele lied, Shenandoah, oor ’n witman se liefde vir ’n Indiaanmeisie oorkant die wye Missouri.”

Dan sê Bakkes die gedig “Op die Hoëveld” van Toon van den Heever op om iets van sy eie kultuur in te bring. Shanandoa, die tradi-sonele geneser, tel die Navajokombers op en drapeer dit om hom en Veertjie as simbool van hul eenheid.

Daarna sê sy die Apache-seënwense op:

Mag skoonheid julle omring

in die reis vorentoe deur die jare.

Mag geluk julle metgesel wees

en julle dae tesame goed en lank op aarde wees.

Bakkes en Veertjie word in Namibië as uitgesproke teenstanders van die land se beroemde gemeenskapsbewaringsprojek, waar die mense self die wild in hul omgewing bestuur, al hoe meer uitgestoot en selfs gedreig.

Maar dit is gou duidelik dat die kanker van hebsug deur die land begin spoel en renosters en ander wild, net soos in Suid-Afrika, in ’n groot bloedbad doodgeskiet word.

Die besonderhede van hoe die korrupsie in natuurbewaring wortel skiet, laat jou hare rys.

Dit is ’n skerp teenstelling – amper ’n regstelling – van Doc Immelman se romantiese jag- en liefdesverhale in die ou Suidwes.

Pres. Cyril Ramaphosa se paaiery oor die Chinese wat met vroom gesigte en edel motiewe in Afrika belê, moet geweeg word teen Bakkes se opsomming van hul strategie oor dekades.

Die Chinese is al geruime tyd in Namibië, skryf hy.

“Hulle het mettertyd geleer wie hulle kan omkoop. Eers mense in die regering en dan op die grond. Hul onskuldige winkeltjies was die fronte waarmee hulle smokkelhandel kon begin. En so het die ketting boontoe begin loop.”

Bakkes skryf hoe die stropers al hoe morsiger word. Die stroper Venomamba Tjingee het een koeël nodig gehad om ’n renoster te skiet, maar die stropers begin losbrand. Een karkas het 13 koeëls gehad.

Plunderwoestyn is myns insiens Bakkes se beste boek tot nog toe.

Dit is ’n ontstellende boek. Dit is die storie van hoe verraderlik die mens word as hy bloed en geld proe. Dan verwoes en plunder hy. En dit is ’n onheilspellende, verdoemende voorspelling van hoe Afrika verander.

Dit is ’n skerp teenstelling – amper ’n regstelling – van Doc Immelman se romantiese jag- en liefdesverhale in die ou Suidwes.

En dié resensent is verslaaf aan daai stories.

Die nuwe Nam het ’n oorlogsone geword met die lyke van renosters, olifante, en kleinwild wat gesaai lê in die plunderwoestyn.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Charles Smith is nuushoof van Netwerk24: Sentraal.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.