Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kanker schmanker!, sê Madelein Rust

Leefstyl

Kanker schmanker!

Madelein Rust

LAPA, R265

Opgedra aan “die gevalle helde in (haar) binnekring”, is hierdie wonderlik menslike leeservaring ’n onverwagte juweel wat jou nuwe waardering vir die skrywer gee.

As aanhanger van haar boeke, wat met reëlmaat elke jaar verskyn, en een wat soos die meeste van ons al geliefdes met kanker aan die dood afgestaan het, was ek vooraf ’n bietjie sku vir die titel. ’n Buiteblad wat net te opgeruimd voorgedoen het. Kanker is mos nie iets wat jy sommer so afskud nie, of hoe?

Met ’n proloog en 51 kort, spitsvondige of soms hartseer hoofstukke vertel Rust presies hoe haar stryd met borskanker haar op fisieke, emosionele en geestelike vlakke geraak en afgetakel het.

Sy hou die vertelling intiem, gemaklik, soos ’n lang gesprek met ’n beste vriendin. Sy draai nie doekies om soos sy boekstaaf hoe dit was dat haar liggaam moes baklei vir oorlewing nie.

Wanneer ’n aar van pyn en rou seer raakgeboor word, is jy daar saam met haar.

Worsteling met vrouwees, haar identiteit, intieme verhouding met haar man, Jaun, en haar voorkoms word weergegee met verbluffende balans tussen erns, aanvaarding en weerstand. Wanneer ’n aar van pyn en rou seer raakgeboor word, is jy daar saam met haar.

Trane sit maar vlak soos jy saam die reis van eerste diagnose tot kankervrye blydskap en dankbaarheid meemaak. Ja, dit is ’n storie van oorlewing en innerlike krag, en daar is ’n verhouding met God wat openbaar word, maar sonder dat daar gepreek word.

Hoewel sake van lewe en dood hier met patos en insig oopgeskryf word, het ek dit beslis waardeer dat Rust soveel moontlik van haarself kon weergee in die manier waarop sy haar verhaal vertel.

Rust se verhouding met haar kinders en haar liefde vir diere, veral ’n aanneemkatjie, laat ’n mens glimlag. Daar word ruimskoots voorsiening gemaak om klein oomblikke en episodes weer te gee wat ’n speelse, stuitige, gemaklike vroulikheid vasvang te midde van intense beproewing.

Kyk uit vir ‘Fiona the fake boob’, Rust wat oopmaak oor haar liefde vir mooi onderklere, en ’n skreeusnaakse onthulling oor ’n bors wat net nie op die regte plek wil bly sit nie. Glo my, hierdie boek is bitter snaaks.

Die lyn tussen tragedie en komedie vervaag algaande soos Rust, die mens agter die naam, diep in jou hart kruip. Jy voel die tonele in die spreekkamer en die teater aan jou lyf. Die verhouding tussen Rust en haar man, en die wipwarit wat elk ervaar, word eenvoudig lieflik en teer geskets.

Hier is hoop, hier is houding, hier is ’n omarming van lewensvreugde.

Bravo, Madelein Rust, bravo!

Jonathan Amid is ’n vryskut-taalpraktisyn en -resensent van Stellenboch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.