Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Onwillige held’ belig donker era

‘The SABC 8’ boei van begin tot einde, al is dit ’n bondel vervlegte stories wat wissel van die hoogs persoonlike tot die byna formeel historiese optekening van ’n belangrike tyd van verandering, skryf Albertus van Wyk.

Foeta Krige Foto: Deon Raath

The SABC 8 deur Foeta Krige. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Die nuusjoernaalprogramme van die SAUK se Afrikaanse diens, RSG, met die twee uur lange oggendprogram Monitor as vlagskip, het sedert 1994 net twee betekenisvolle base (uitvoerende regisseurs) gehad: wyle Chris Louw en sy vriend Foeta Krige.

Albei is Afrikaanse seuns uit ’n soortgelyke agtergrond: diep Calvinisties, Christelik-nasionaal (Louw se pa was ’n Gereformeerde dominee in die destydse Suidwes en Krige se pa ’n geskiedenisonderwyser aan die Oos-Rand). Hulle het op uiteenlopende maniere van hul konserwatiewe wortels weggebreek en ’n invloed gehad op die Afrikaanse wêreld ná 1994.

Louw was die pionier en uitgesproke rebel wat Monitor uit die borstrok bevry het, en Krige ná hom die pragmatis en uitbouer wat met al hoe minder hulpbronne die standaarde verder verhoog het. Monitor het onder dié twee fel onafhanklike persoonlikhede die daaglikse Afrikaanse nuusbron met die meeste gebruikers én die diepste penetrasie landwyd geword met ’n nuusintegriteit wat te alle tye bo verdenking was.

Louw het nie weggeskram van omstredenheid en die kollig nie, maar Krige sou sy invloed eerder van agter die skerms laat geld, al is hy nie ’n minder kleurvolle karakter nie. Meer as twee dekades lank was daar min of meer geen politieke inmenging by die nuusprogramme Monitor, Spektrum, Naweek Aktueel en Kommentaar nie. In 2016 was Krige al 11 jaar die baas by Monitor. Was dit nie vir die dramatiese kaping van die nuusafdeling by die nasionale uitsaaier nie, sou Krige waarskynlik sy laaste drie jaar by Monitor rustig uitgeleef en afgetree het om bolplante te kweek en met sy Land Rover ’n paar draaie deur die buurlande te ry.

Hy hanteer selfs HlaudiMo­tsoeneng met deernis.

Maar dit is asof die heelal ander planne vir hom gehad het, asof hy en sewe ander SAUK-joernaliste met opset én ’n doel in die pad van Hlaudi Motsoeneng geplaas is. Motsoeneng en ’n hele span meelopers en boelies was immers besig om die SAUK as propagandavoertuig vir die staatskapers in te palm.

Dit het met rukke en stote gebeur: Eers is daar op sonskynjoernalistiek gefokus; daarna het nuushoofde verwag dat joernaliste en joernaalprogramme nie stories moes dek waar die SAUK in ’n slegte lig gestel word nie, en uiteindelik het Motsoeneng ’n beleid ingestel waarvolgens die SAUK, kort voor die munisipale verkiesing in 2016, nie meer gewelddadige protesoptrede sou dek nie.

Vroeg in 2016 het Thandeka Gqubule, ekonomiese redakteur, Krige, en Suna Venter, ’n verslaggewer van Monitor, protes aangeteken by ’n interne nuusvergadering. Vyf ander SAUK-joernaliste het ook op verskillende maniere hul misnoeë laat blyk. Gqubule, Krige en Venter is eers geskors en dissiplinêr aangekla, maar voordat hulle nog verhoor kon word, is hulle summier afgedank. Van hierdie punt af het die media hulle die “SAUK-8” gedoop.

In The SABC8 beskryf Krige homself as ’n toevallige, amper onwillige held. Ook opvallend is dat die meerderheid van die agt almal joernaliste is wat die kollig eerder sal vermy. Vier van die agt was senior uitvoerende redakteurs van nuusprogramme (Krige by RSG, Krivani Pillay by SAfm, Gqubule die ekonomiese redakteur by die nuusafdeling en Busisiwe Ntuli, uitvoerende redakteur by Special Assignment); drie was senior verslaggewers en redakteurs (Suna Venter by Monitor, Lukhanyo Calata in die parlement en Jacques Steenkamp in die Johannesburgse nuuskantoor); en slegs een – Vuyo Mvoko – was soms in die kollig as televisie-aanbieder van onder meer On the Record.

Hoewel Krige se boek op die oog af slegs die verslag is van hierdie agt joernaliste se weerstand teen Motsoeneng se kaping van die korporasie, is dit ’n bondel vervlegte stories. Bo en behalwe die verhaal van die weerstand teen Motsoeneng is dit ook die storie van agt Suid-Afrikaners met verskillende persoonlikhede en uit diverse agtergronde wat deur hul beginselvastheid saamgegooi word om onder groot druk standpunt in te neem teen duister magte.

Dit is ook die storie van die ingewikkelde dinamika binne hierdie groep.

The SABC 8 vertel eweneens die verhaal van die agteruitgang en uiteindelike dood van die joernalis Suna Venter, ’n hoogs begaafde dog komplekse en tragiese persoonlikheid, en ’n gesoute en soms siniese ouer redakteur se verhouding met ’n idealistiese jong verslaggewer. Dit is voorts die geskiedenis van staatskaping in die kleine wat dieselfde patrone by ander staatsondernemings en tot op die hoogste vlak volg. Daarby kom die storie van ’n verenigde Suid-Afrika wat nie meer so nuut is nie, wat sy reënboog-onskuld verloor het en wat al vergeet het van sy wittebrood.

The SABC 8 beweeg dus op verskeie vlakke wat wissel van die hoogs persoonlike tot die amper formeel historiese. Dit is ’n besondere uitdaging om so ’n veelvlakkige werk te laat slaag as populêre boek en terselfdertyd sy integriteit as historiese joernaal van ’n belangrike tyd van verandering te behou.

Die skrywer moet ’n gesonde balans vind tussen die momentum en spanning wat geskep word deur ’n lekker storie te vertel en die behoefte om die feite so volledig as moontlik weer te gee. Die feite is meestal opgesluit in amptelike briewe, hofdokumente, transkripsies van vergaderings, mediaverklarings, WhatsApp-gesprekke en memorandums.

Krige en Penguin se redakteurs het gekies om alles so volledig as moontlik aan te pak, en tog slaag hy verbasend goed daarin om dit boeiend te hou. Hy maak dit maklik vir lesers wat meer in die persoonlike verhaal belang stel om net ’n oog te gooi oor die formele dokumente, wat plek-plek volledig by die teks ingesluit is. Krige hanteer die kompleksiteit van tekste en verhale met ’n meesterlike tegniek wat slegs opgebou kan word deur dekades lank met narratiewe en teks om te gaan en stories te vertel.

Die meeste nuusslawe het ’n goeie idee van die breë trekke van die SAUK-8 vs. Motsoeneng-sage, maar nuusberigte dek nie al die vrae wat gedurende só ’n sage ontstaan nie. Sedert Krige en Venter byvoorbeeld vroeg in die stryd besluit het om as lede van Solidariteit van dié vakbond se arbeidsregsdienste gebruik te maak, het ek gewonder watter invloed dit op die uiteenlopende groep se samehorigheid gehad het.

Nie Krige óf Venter het ’n regse of rassistiese beentjie in hul liggaam nie, maar Solidariteit maak gebruik van die beste arbeidsregspanne in die land en daarom was dit ’n goeie keuse as diensverskaffer. Krige bevestig in die boek dat hul keuse van Solidariteit deurgaans die kern gevorm het van die stryd wat veral tussen Venter en Gqubule ontstaan het. Dit werp ook lig op hoe die vakbond by verskeie geleenthede politieke munt uit die situasie probeer slaan het.

Krige, wat duidelik ’n noue soort vader- of ouerbroerverhouding met Venter gehad het, vertel ook die verhaal van Venter se psigiese en fisieke agteruitgang, intimidasie en intense teistering so volledig as wat dit in so ’n teks weergegee kan word. Hierdie sage sou op sy eie ’n boek werd wees.

Dit werp lig op haar ervarings in Sirië, waar sy op eie inisiatief gaan werk het, en moontlike bande met internasionale intelligensie-agentskappe wat die soort konteks is wat nooit in nuusberigte na vore sou kom nie. Hy skram ook nie weg van die feit dat Venter se posisie, uitgesprokenheid en geaardheid tot verdeling in sy eie span en ook in die SAUK-8 gelei het nie – ’n omstredenheid wat die afgelope weke nog in die media opgevlam het.

Een van die eienskappe wat ’n briljante joernalis van ’n bloot bevoegde joernalis onderskei, is sy vermoë om soveel as moontlik konteks te skets sodat lesers sélf die karakters se dade en besluite kan interpreteer.

Krige hanteer selfs die geheel en al gediskrediteerde Motsoeneng met deernis en gaan haal sy storie doer in QwaQwa, waar Motsoeneng die eerste lig aanskou het. Nadat ek The SABC8 gelees het, verstaan ek selfs vir Hlaudi ’n bietjie beter, sover dit moontlik is.

Met The SABC 8 bewys Krige hom as ’n uitstekende, boeiende skrywer wat hopelik ná sy aftrede nog ’n paar komplekse onderwerpe of stories sal aanpak.

Meer oor:  Foeta Krige  |  Jacques Steenkamp  |  Lukhanyo Calata  |  Thandeka Gqubule  |  Suna Venter  |  Sauk-8  |  Rsg  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.