Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Oor grense: 'n Mediareus se langverwagte boek

Hierdie lank verwagte boek deur die mediareus Ton Vosloo lees op ’n manier soos ’n goeie koerant.

Vosloo is ervare genoeg om sy herinneringe nie chronologies aan te bied nie, maar met die deur in die huis te val. Natuurlik wil jy lees oor die omvorming van Naspers en Vosloo se sleutelrol daarin. Jy wil weet wie en wat is Tencent en hoe Naspers ’n aandeel in daardie geldmasjien gekry het. En jy wil weet of hy en Koos Bekker huisvriende is en gereeld ’n duur bottel wyn saam drink.

Ton Vosloo vandeesweek in ’n onderhoud in sy huis in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Wel, Ton Vosloo gaan antwoorde op daardie vrae sommer binne die eerste hoofstukke verskaf.

Daarna volg ’n hele aantal baie leesbare hoofstukke waarin uiteenlopende temas soos die stigting van M-Net, die krapperige PW Botha en die Waarheid-en-versoeningskommissie aan die beurt kom.

Vosloo se koerant, die een waarvan hy redakteur was, Beeld, het altyd geglo aan mens-stories – en dat jy ’n storie moet hard slaan. Daarom dan ook ’n hoofstuk oor die hard slaan van ’n storie (met ’n paar lekker voorbeelde).

En al die mensstories.

Maar ’n goeie koerant het ook diepte-artikels, sport en ’n geestelike gedagte vir die dag. Vandaar hoofstukke oor die plek van Afrikaans, dr. H.F. Verwoerd se beroemde Loskopdam-aankondiging oor apartheid in sport (gedek deur ’n jongerige Ton wat die enigste koerantman by die geleentheid was) en die vraag of Naspers nog ’n “siel” het.

Sy antwoord op laasgenoemde vraag het my nie heeltemal oortuig nie, maar dat Ton Vosloo wel ’n siel het, is duidelik vir almal wie se paaie met hom gekruis het.

Die storie van ’n seuntjie uit die Oos-Kaap wat sy vakke sleg gekies het en toe nie universiteit toe kon gaan nie, maar uiteindelik drie eredoktorsgrade ontvang het, vertel iets oor vermoë en vasbyt. Ook oor beskeidenheid, want Vosloo het nie doktor Vosloo in die openbare lewe geword nie – al sou hy drie maal dit mog doen. (Terloops, hy skryf daar niks oor nie, maar as jy in die bylaag gaan rondkrap, tel jy dit wel op.)

Vosloo se loopbaan het lank gelede wel ’n draai buite Naspers gemaak, maar hy is volledig ingebed in hierdie maatskappy se geskiedenis van meer as ’n honderd jaar. Seker daarom dat hy sy boek Oor grense genoem het, op spoor van Oor grense heen, wat in 1992 oor (toe nog) Nasionale Pers verskyn het. Só gesien trek hy die drade deur.

Die klem op Naspers, waarvan Vosloo besturende direkteur en voorsitter was, is te verstane. Dit was sy lewe. Sy rol as koerantman en redakteur word uiteindelik oorskadu deur sy rol as sakeman. Maar sáám maak hulle hom, in my boekie, loshande die land se grootste volronde mediarolspeler tot nog toe. Sy herinneringe doen hierdie lewe van menslikheid en prestasie gestand.

Vosloo klou egter nie vas en soek verskonings oor foute van die verlede nie. Hy maak trouens ’n paar bekentenisse en vra verskoning. En hy hou vol dat die verlore boek oor Naspers se honderd jaar dalk tog nog gepubliseer gaan word?.?.?.

Ou en nuwe Naspersers – eintlik almal wat gebruikers van Afrikaanse media is – sal hierdie boek met groot plesier en dankbaarheid lees.

  • Johannes Froneman is verbonde aan die Noordwes-Universiteit en het onder Ton Vosloo in Beeld se redaksie gedien. 
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Ton Vosloo  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.