Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Oor middeljarigheid en ontgogeling
Marita van der Vyver Foto: Robert Hamblin

Die deurwinterde Suid-Afrikaanse skrywer Marita van der Vyver se nuwe roman, Misverstand, is vroeg volgende jaar op die rak by Penguin.

Sy het via Facebook Messenger ’n paar vrae uit die suide van Frankryk beantwoord.

Misverstand vertel die verhaal van Willem Prins, ’n middeljarige Suid-Afrikaanse skrywer wat ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is om ’n boekie erotika, wat hy tot sy skaamte onder ’n skuilnaam geskryf het, bekend te stel. Hier ontmoet hy vir Jackie, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is Jackie wat saam met hom is dié Vrydagaand die 13de toe terreur in Parys losbars.

Hierdie is jou eerste roman vir volwassenes in ’n hele ruk – hoekom so lank?

“Ja, Die blou van onthou het meer as vier jaar gelede verskyn. Die eenvoudige antwoord is dat volwasse romans my nie aan die lewe kan hou nie, dus moet ek ook kinder- en jeugboeke en niefiksie skryf om die pot aan die kook te hou.

“Die minder eenvoudige antwoord is dat ek nie rêrig kies watter stories ek skryf nie, die stories kies my, jammer dat dit nou so half mistiek klink! En dit het ’n paar jaar gevat voordat hierdie storie my gekies het.”

Hoe het die storie hom kom aanmeld?

“Dit het iets met middeljarigheid en ontgogeling te doen. ’n Gevoelte wat ek in myself en vele vriende bespeur en waaroor ek al hoe meer begin wonder het. Toe besluit ek om oor ’n middelmatige kunstenaar te skryf wat uit sy gemaksone gevat word, in ’n onbekende stad en land, en dis hoe Willem Prins in Parys beland het.

“Eers wou ek hom ’n paar dae in Amsterdam laat deurbring, maar toe dink ek skrywers soos Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het Amsterdam al ‘gedoen’, beter as wat ek sou kon. Terwyl daar nie veel Afrikaanse skrywers is wat Frankryk beter as ek ken nie?

Was dit moeilik om as vrou jou in die man se karakter in te werk?

“Nie naastenby so moeilik soos ek gedog het dit sou wees nie. Ek moes myself net bietjie uit my gemaksone kry (indien ek vrouekarakters as my gemaksone kan beskryf), soos Willem Prins.

“Ek het aanvanklik gesukkel om sy stem te ‘hoor’, maar toe ek dit eers hoor, kon ek hom skryf. Sy geslag het nie meer saak gemaak nie.

Hoe lyk die wêreld vir jou post-Trump? Met die terreur in gedagte? Dink jy ons het meer te vrees as voorheen?

“Bedroef en bedrukkend.

“Ek dink ons het beslis meer te vrees. Haat en geweld aan die een kant teel altyd net nog meer haat en geweld aan die ander kant.”

Wat’s volgende?

“Ek spog mos altyd dat ek sal ophou skryf die dag as ek nie reeds ’n vae idee vir ’n volgende boek het teen die tyd dat ek die laaste sin van enige boek skryf nie.

“En ja, ek dink aan ’n storie waarin Kuba ’n rol gaan speel . . .”

Meer oor:  Frankryk  |  Skrywer  |  Boek  |  Messenger  |  Vrae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.