Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Oor verandering, oorlewing en herinneringe

Die verkope van niefiksieboeke oor Suid-Afrika – sy politieke geskiedenis, sy mense, sy maatskaplike en ander probleme – het volgens uitgewers die afgelope jare die hoogte ingeskiet. Theunis Engelbrecht kyk na ’n paar nuwe titels.

Change: Organising Tomorrow, Today deur Jay Naidoo. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R200.

Jay Naidoo se vurige, besielde toespraak by die stigting van die nuwe South African Federation of Trade Unions in April het ’n klompie mense laat regop sit en laat dink só moet ’n leier wat sy sout werd is mos praat. Reguit en uit die hart uit. (Van watter ander politieke leiers kan ’n mens nog so iets sê?)

Naidoo, deesdae ’n grootkop by die Global Alliance for Improved Nutrition, het as jong man naam gemaak as vakbondorganiseerder en voorvegter vir die regte van werkers wat misbruik word. Van 1985 tot 1993 was hy sekretaris-generaal van Cosatu en van 1994 tot 1999 het hy in pres. Nelson Mandela se kabinet ge-dien. Daarna het hy in verskeie hoedanighede vir die Verenigde Nasies diens gedoen.

Hy glo ANC-leiers het nie net die party se lede nie, maar ook die res van die land in die steek gelaat sedert 1994. In die voorwoord vertel hy hoe verbysterd hy was toe sy dogter vir hom sê sy sien nie kans nie om ’n kind in die lewe te bring in ’n wêreld “waar al ons hoop vernietig is”, en waar die menslike waardes waarvoor haar pa sy lewe lank geveg het, deur geld en gierigheid vertrap word. Gou het hy besef dat mense in Suid-Afrika en die res van die wêreld – en veral die jeug – hul vertroue in politici verloor het.

Change kan dus op een vlak gelees word as Naidoo se pogings tot ’n antwoord vir sy dogter, met grepe uit sy eie lewensverhaal ook tussendeur geweef. Hy put ook uit sy ervarings in Suid-Afrika, Nigerië, Brasilië, Bangladesj en ander lande in sy soeke na oplossings vir vraagstukke soos armoede, klassestryde, politieke bestuur en ook klimaatsverandering.

Naidoo is ’n skerpsinnige ontleder en waarnemer en die toon in die boek spreek deurgaans van opregtheid en passie. Al bly ’n mens wonder hoe al sulke veranderinge prakties geïmplementeer kan word, dra dié boek ten minste by tot ’n gevoel van dat daar tóg hoop kan wees.

Dis tyd dat Naidoo terugkeer tot die politieke verhoog. Ons het skerp breine soos syne nodig.

How Long Will South Africa Survive? The Current Crisis deur R.W. Johnson. Jonathan Ball. Prys: R260.

Mense wat dié topverkoper van R.W. Johnson gelees het nadat dit die eerste keer in 2015 uitgegee is, kan met reg die donder in wees vir die skrywer en uitgewer noudat die tweede uitgawe daarvan pas die lig gesien het.

Wat is dié keer anders? Die omslagontwerp, die subtitel (die eerste uitgawe s’n was The Looming Crisis) en ’n nawoord van slegs 20 bladsye is bygevoeg waarin Johnson sy mening gee oor verwikkelinge in die land die afgelope twee jaar sedert die eerste uitgawe verskyn het.

Johnson se deurtastende ondersoeke na die situasie in die land op politieke, ekonomiese, kulturele en staatkundige vlak het reeds in sy vorige boek, South Africa’s Brave New World: The Beloved Country Since the End of Apartheid, gesorg vir pakkende leesstof, en hy het dit voortgesit met How Long Will South Africa Survive? Albei boeke is ’n onthutsende leeservaring wat jou nie met veel hoop laat vir die toekoms nie. Van South Africa’s Brave New World het Rian Malan byvoorbeeld gesê: “A masterpiece, utterly devastating for anyone who still cherishes illusions about the Rainbow Na-
tion.” Dieselfde kan van die opvolger gesê word.

Mense wat dus die eerste uitgawe gelees het en wil weet wat Johnson oor meer onlangse gebeure in die land te sê het, sal dus moet opdok vir die ekstra 20 bladsye of, as hulle verstandig is, wag tot dit eendag in die biblioteek is.

Diegene wat dit nog nie gelees het nie, word aangeraai om moeite te doen om die boek gelees te kry omdat hope inligting daarin na vore kom oor Suid-Afrika onder ANC-bewind – op politieke, ekonomiese, opvoedkundige én kulturele vlak. Johnson gooi sy net wyd, en sy vermoë om soveel inligting te verwerk is merkwaardig.

R.W. Johnson is nie geliefd onder politiek korrekte siele nie en hulle probeer hom graag verdag maak deur hom as “verregs” te etiketteer. Hoekom? Waarskynlik omdat hy oor dinge skryf wat hulle nie wil hoor nie omdat dit hul reënboog-illusies, soos Malan tereg uitwys, laat verkrummel.

Johnson lê byvoorbeeld baie klem op hoe ’n groot rol stamgebondenheid (tribalism) nog in Suid-Afrika speel en dat dit iets is wat die politiek korrektes se nekhare laat regop staan as hulle dit hoor.

Dit is onthutsende leesstof en bied bewyse van in hoe ’n mate die staat al gekriminaliseer is en die ekonomie op sy knieë gedwing is weens korrupsie en magstryde. Dit laat jou twyfel of heropbou, heling en hoop hoegenaamd nog moontlik is.

Memories of Love and Struggle deur Fatima Meer. Uitgewer: Kwela. Prys: R280.

Ek het lank na die omslagfoto van hierdie boek gestaar voor ek dit oopgemaak het. Wat ’n beeldskone vrou was Fatima Meer nie. Die foto straal intelligensie, krag en ’n gevoel van moederlikheid en empatie uit. Dit vertel meer as wat duisend woorde kan.

Prof. Meer, wat in 2010 oorlede is, was ’n legendariese figuur in Suid-Afrika se struggle-geskiedenis en het naam gemaak as skrywer van agt boeke, akademikus en aktivis. Sy het haar outobiografie in 2000 begin skryf terwyl sy besig was om die boek A Fortunate Man, ’n biografie oor haar man, die eweneens bekende aktivis Ismail Meer, te voltooi. Dié boek het in 2002 verskyn, en kort daarna het Fatima ’n beroerte gehad.

Sy het haar werk aan haar outobiografie in 2006 hervat, en hoewel dit teen die tyd van haar afsterwe in 2010 nog nie voltooi was nie, was daar genoeg materiaal sodat haar dogter, Shamim, dit kon voltooi. Nou, sewe jaar later, is dit op die rak.

En wat ’n pragtige boek is dit nie. Nie net gee dit ’n mens groter insig in die rol wat Indiërs in Suid-Afrika gespeel het nie, maar is Meer se verhaal van moed, ontbering en vasberadenheid inspirerend.

Sy vertel uitvoerig van haar kinder- en jeugjare in die 1930’s, van haar politieke bewuswording as 17-jarige, en dan haar lewe en loopbaan van die 1940’s tot 1968. Die vierde deel van die boek dek 1970 tot 2010 en bevat die materiaal wat deur Meer se dogter verwerk is.

Benewens die vertelling oor die politieke stryd in die boek – onder meer oor hoe sy ’n sluipmoordaanval oorleef het en van haar vriende wat vermoor is – vertel die boek ook ’n eg menslike verhaal van ’n persoonlike lewe vol hoogte- en laagtepunte.

Die talle foto’s verlewendig die teks en as lewensverhaal bewys dié boek dat geeskragtigheid ’n teenvoeter vir wanhoop kan wees. En dat dié krag sterker is as die magte wat dit wil vernietig.

Meer oor:  Jay Naidoo  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.