Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Oorlog is nie helde wat op perde jaag en in slote lê nie

Mentje Kind van Pas-Opkamp

Irma Joubert

LAPA, R295

Historiese Fiksie

Op die eerste drie bladsye van Mentje de Vries se verhaal van oorlewing tydens die Tweede Wêreldoorlog het my maag op ’n knop getrek en ek het geweet dit gaan bly sit vir die res van die verhaal. Dit het. Tot op die héél laaste bladsy.

Mentje, kind van Pas-Opkamp is die tweede boek in ’n oorlogstrilogie deur Irma Joubert. Dit vertel die verhaal van die Nederlandse meisie Mentje, wat ná haar pa se verdwyning saam met ’n klomp Jode in ’n gedeeltelik ondergrondse geheime kamp in ’n woud onderduik, maar hulle moet vlug as iemand hulle verraai.

Sy word geneem na familie in Arnhem wat haar onwillig ontvang, maar waar sy toenemend die rol van verantwoordelike ouer inneem. Dít doen sy ter wille van oorlewing, aangesien tante Maria emosioneel geknak is ná die onlangse dood van haar man en apaties en vol selfbejammering sukkel om haar vier kinders te versorg en te beskerm.

Die menslikheid in romans met ’n oorlogsagtergrond is vir my fassinerend, veral waar die klein onskuldige kind, wie se lewe oorweldig en verander word deur ’n oorlog, die hoofkarakter is. Hierdie verhaal kan wat dít betref sy skoene volstaan langs boeke soos The Boy in the Striped Pyjamas deur John Boyne, Little Girl Lost deur Barbie Probert-Wright en die plaaslike Wilhelmina: Kampkind op Java deur Mariël le Roux. Soos Barbie en haar suster Eva in Little Girl Lost, word Mentje se pa ook gevange geneem en onderneem sy ’n hartverskeurende reis.

Die skrywer slaag uitstekend daarin om ’n slim, dapper meisie se leefwêreld te verbeel. Die skrywerstem bly grootliks op die agtergrond, waar dit hoort. Die leser beleef Mentje se wêreld asof jy die kindjie ken.

Navorsing en geskiedenisfeite is deurgaans uitstekend geïntegreer in die verhaal.

“Daar is nog ’n kind êrens . . . Net nog ’n kind . . . Ek is maar net ’n kind.” Hierdie sinsnedes maal voortdurend deur Mentje se kop, wat beklemtoon hoe weerloos sy eintlik was, ten spyte van haar dapperheid. Juis dít het haar gehelp om situasies te hanteer en haar vrees te oorkom. Emosioneel amper bomenslik sterk en wys, wat my soms laat wonder het oor die geloofwaardigheid van die karakter, maar soos Mariël le Roux se ware verhaal oor klein Will van Halewijn aangedui het, is Nederlandse meisies blykbaar van daardie stoffasie.

Waar The Boy in the Striped ­Pyjamas die skoonheid van ’n kind se onskuld in oorlogstyd ondersoek, die gemeenskaplike begeerte wat ons almal het vir vriendskap, konsentreer Mentje eerder op innerlike krag en ondersteuning aan ander, hoe mense ontheem word, aanpassing op vreemde plekke, aanvaarding van aaklige situasies, emosionele weerbaarheid, verlies, die dood en hantering van vrees.

In Arnhem help Mentje om die swaargewonde Suid-Afrikaner Tinus van Jaarsveld en sy makker, Andrew, te versteek en te verpleeg. Die laaste deel van die boek speel in Suid-Afrika af, waar Mentje op die plaas Buffelspoort onder Tinus se voogskap beland, waar drie geslagte Van Jaarsvelds ook met emosionele skade, verlies en versoening gekonfronteer word.

Tans is Joubert waarskynlik die gewildste plaaslike skrywer van historiese romans en met Mentje bewys sy weer waarom. Die boek lees maklik, die feite is histories korrek en op só ’n manier in die boek ingevleg dat die grense tussen feit en fiksie vervaag. ’n Mens is die hele tyd bewus van die ongelooflike spanning van die oorlog, tot by die verrassende ontknoping. Dit laat ’n mens ook uitsien na die derde boek, wat belowe om te vertel wat uiteindelik van Mentje en Tinus word, en ook van Hildegard uit die eerste boek van die trilogie, Immer wes.

Die enkele aspekte wat my gepla het, was dat nêrens melding gemaak word van die praktiese goed soos wasgoed, ablusies in die kelder en algemene higiëne, of die gebrek daaraan en die invloed op hulle nie. Wat die boek self betref – die smal kantruimte aan die binnekant van die bladsye en onder is ongemaklik vir so ’n dik boek, jy moet hom letterlik oopkraak. Dit doen die stemmingsvolle voorblad ’n onreg aan. Moenie dat hierdie kritiek jou weerhou om die boek te lees nie. Selfs mense wat nie hou van geskiedenis en te veel feite nie, sal nie teleurgesteld wees nie. Sou jy juis daardie aspek waardeer, Joubert het die perfekte middeweg gevind.

“Die kinders hier, en die meeste grootmense, weet nie wat oorlog is nie . . . Hulle dink oorlog is helde wat op perde jaag of in slote lê en mekaar skiet, en verpleegsters wat wit klere dra en kinders wat in kampe siek word.” Dankie, Mentje, hierdie woorde van jou laat my besef dat ek ook nie regtig ’n idee het wat oorlog is nie.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Trisa Hugo is ’n vryskutresensent van Kleinmond.
Meer oor:  Oorlog  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.