Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Oorlog uit ’n ander perspektief

Al sluit Marita van der Vyver haar met ‘Grensgeval’ aan by ’n breë oorlogdiskoers waaraan weinig vroue oor die jare deelgeneem het, is dit volgens Annemarié van Niekerk steeds ’n goeie leeservaring wat eerder fokus op die letsels wat oorlog laat.

Marita van der Vyver. Foto: Jaco Marais

Grensgeval deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Toe Marita van der Vyver ’n tyd gelede die Poolse joernalis Ryszard Kapuscinski se aangrypende verslag oor die Angolese burgeroorlog, Another Day of Life (1976), gelees het, kon sy dit nie langer uitstel om indringend oor dié oorlog – en die gevolge van die “onkommunikeerbaarheid” daarvan – te skryf nie.

Anders as die heroïese perspektief waaruit soveel romans in hierdie tradisioneel manlike genre dit benader, wou sy ’n roman skryf oor oorlog as gelykmaker, met as agtergrond die letsels wat dit op individue, verhoudings en families laat, selfs lank nadat so ’n oorlog al verby is. Só vertel die skrywer in onlangse onderhoude asook die erkenningslys in Grensgeval, die roman wat hieruit voortgevloei het.

Grensgeval sluit tematies aan by ’n breë “oorlogdiskoers” waaraan weinig vroue oor die jare deelgeneem het. Dié wat dit wel gedoen het, het belangrike bydraes gelewer. Dink maar aan Virginia Woolf se Three Guineas (1938) waarin sy oor die oorsake van oorlog besin, Simone Weil se The Iliad or The Poem of Force (1939) en Susan Sontag se essays “Looking at War: Photography’s View of Devastation and Death” wat in Desember 2002 in The New Yorker verskyn het en Regarding the Pain of Others (2003) waarin sy onder meer aanvoer slegs diegene wat oorlog meemaak, weet werklik hoe dit voel en kan dit byna nie aan ander oorvertel nie. Net so kan diegene wat toekyk, byvoorbeeld deur beeldmateriaal, dit onmoontlik begryp. Grensgeval is ’n ander genre en ’n totaal ander soort teks, maar laat die leser ook grondig nadink oor oorlog en die gevolge daarvan.

Sy het nie besef sy trou met ’n tydbom nie.

Theo van Velden keer getraumatiseerd terug ná die oorlog in Angola waaraan hy, soos soveel ander jong Suid-Afrikaanse dienspligtiges in die 1970’s en ‘80’s, gedwonge moes deelneem.

“Oorkant die grens, in ’n ander land, het die negentienjarige troep Theo van Velden ’n groot swart gat in homself ontdek, dinge gedoen en gesien en gehoor wat hy vir die res van sy lewe nooit weer sou kon vergeet het nie.” (bl. 11)

Omdat hy nie hieroor kon praat nie, het Theresa Marais toe hulle jare later getroud is, nie besef sy trou met ’n tydbom nie. Die diep beskadigde Theo se enigste tasbare verbintenis met die oorlog was ’n paar foto’s, sy oorlogsdagboek en ’n bloedbevlekte brief van Angel Perez Gonzales, ’n Kubaanse soldaat wat hy doodgeskiet het. Verder was daar die demone in sy kop. Maar dit was veral die inhoud van die brief, wat die sterwende Angel hom gevra het om aan sy dogter te besorg, wat Theo geleidelik tot waansin en sy huwelik die afgrond in gedryf het.

Uiteindelik kon Theresa nie anders as om weg te draai nie, soos iemand wat “wegdraai van ’n medeswemmer wat so diep in die see meegesleur is deur ’n gevaarlike stroom dat jy weet jy kan hom nie meer bereik nie. Nou moet jy jouself probeer red, terugswem na veiligheid, professionele menseredders roep om die diep see aan te durf” (bl. 52).

Ná Theo se dood het die 55-jarige Theresa ’n missie: Sy wil die brief aan die geadresseerde Mercedes Perez Amat besorg omdat dit, volgens haar, die enigste manier is waarop sy namens haar man kan boete doen vir sy aandeel in die oorlog.

Met haar laaste spaargeld reis sy na Kuba waar haar soektog haar, soos in klassieke quest-verhale, aan die hand van gidse – haar chauffeur Ruben word meer as net ’n leidsman – na verskillende plekke wegvoer. Dit word ook ’n reis na nuwe insigte. Wanneer sy heg bevriend raak met Kubane wat destyds in die Angolese oorlog geveg het en hul verhale aanhoor, besef sy die meeste soldate is doodgewone mense met doodgewone drome en vrese.

Aansluitend by dié reismotief is “pad” (veral “al die pad”) een van die hooftemas wat ook verwys na die “lewenspad” waarop ’n mens willekeurig of onwillekeurig beland, sonder kennis oor waarheen dit lei.

Theresa besef uiteindelik (bl. 12): “Dis ’n pad wat jy soos ’n pelgrim aflê terwyl jy jou verliese verwerk. Die verlies van ’n huwelik en ’n lewensmaat, van ’n prentjie van persoonlike geluk wat jy gereken het jou beskore is . . . en uiteindelik kom jy by ’n soort aanvaarding uit.” Ook Theo se oorlogsdagboek en haar eie jeugdagboeke help haar op hierdie weg tot insig.

Die tema van onvervulde drome betrek ook Suid-Afrika. Wanneer Theresa uiteindelik in Freedom Park by die kronkelende muur staan met sy sowat 80 000 name van helde uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis, vind sy dit tog jammer dat “die soldate van die Ou Suid-Afrika wat in die grensoorlog gesterf het, nie ook ’n plek op die muur gegun is nie. Veral die dienspligtiges wat te jonk was om te weet wat hulle doen, die gebreinspoelde kanonvoer wat deur die regering en die generaals misbruik is om wit mag aan die suidpunt van Afrika te behou” (bl. 284).

Tegelykertyd twyfel sy of dit reg sou wees as die name van diegene wat uit ’n haatdraende rassisme aan daardie oorlog deelgeneem het, ook daar sou pryk. Dat daar van die Vryheidspark af ’n voetpad – die “Versoeningspad” – aangelê is tot by die Voortrekkermonument, is vir haar mooi om te hoor, maar tog besef Theresa dat sy en haar landgenote “nog ’n bitter lang pad moet stap om by ware versoening uit te kom” (bl. 288).

Grensgeval stem tot nadenke oor oorlog en versoening, maar ook oor ons verlede en daarmee saam kwessies soos patriargie, rassisme en die leuens van apartheid waardeur Theresa in haar kinderjare gebreinspoel is om te glo dat alle swart mense “kommuniste en terroriste” was, want “dis wat hulle orals genoem is, op skool, in die kerk, in die koerant” (bl. 95).

Ook wit Suid-Afrikaners se Afrika-vervreemding kom aan die bod. Theresa erken byvoorbeeld dat Westerse bestemmings vir haar nog altyd bekoorliker was en selfs bekender gevoel het as Afrika, “selfs bekender as ’n buurland soos Angola” (bl. 139).

’n Swaar en ingewikkelde boek? Beslis nie. Grensgeval is spannend en lees soepel en gemaklik. Met haar geoliede pen en vaardige verteltegnieke voer Van der Vyver ons geboeid heen en weer tussen die verlede (toe Theresa en Theo nog jonk was) en die narratiewe hede. So word haar begaafdheid as skrywer van heerlike good reads nogmaals bevestig: Sy weet hoe om ’n spanningslyn strak te hou en wanneer om skiet te gee; hoe om te speel met die suggestie van romanse; hoe om karakters tot lewe te toor, veral die intelligente, waaghalsige, rebelse en sensuele vrouekarakters wat die Van der Vyver-leser deur die jare leer ken het (hier as Theresa); en hoe om haar vertelling te balanseer tussen pole – pole van verlede en hede, jeug en volwassenheid, humor en erns, bekende en eksotiese omgewings (in hierdie geval Suid-Afrika en Kuba), en om die steeds ontwykende objek van die soektog telkens weer net-net te laat wegglip.

  • Annemarié van Niekerk, ’n letterkundige en boekresensent vir die Nederlandse koerant Trouw, woon in Den Haag.
Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Grensoorlog  |  Grensgeval  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.