Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op die spoor van Breyten se woordklippies

Die gevierde digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach word kort voor sy 80ste verjaardag op 16 September by die Tuin van Digters-fees op Wellington gehuldig. Christiaan Boonzaier het met plaaslike en internasionale kenners oor Breytenbach se reusebydrae tot die Afrikaanse én wêreldletterkunde gesels.

Breyten Breytenbach Foto: Cloete Breytenbach

“Afrikaans se belangrikste digters was C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw – maar ek dink Breyten is vandag belangriker as hulle.”

So sê prof. Ampie Coetzee, letterkundige, oor die digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach, wat Vrydag en Saterdag by die agtste Tuin van Digters-fees op Wellington in die Wes-Kaap gehuldig word. Breytenbach word op 16 September 80.

“Ek is seker dat die belangrikste aspek van sy werk – waar hy méér gelewer het as dié wat ek genoem het – is sy bewustheid van die onvermoë van die woord om werklik betekenis te vind,” sê Coetzee.

“As gevolg daarvan, om as ’t ware hierdie belemmering te ontkom, het hy in die metafoor geskep – en dit is in die skep van die metafoor dat sy grootste bydrae tot Afrikaans gekom het.”

Coetzee, wat Breytenbach se werk sedert sy debuut in 1964 met Die ysterkoei moet sweet lees, sonder veral Die windvanger (2007), Die beginsel van stof (2011), Katalekte (2012), Die na-dood (2016) en sy jongste, Op weg na kû (2019), uit as voorbeelde van werk waarmee die digter met “sy temas, tegnieke en metafore” ’n prysenswaardige aandeel tot Afrikaanse letterkunde gelewer het.

Ook dr. Francis Galloway, redakteur van LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), onthou hoe Breytenbach met sy debuutbundel ’n “totale aanslag op my gemoedelike lokale bestaan” gemaak het.

“Dit het my bekende en veilige wêreld omgedop en ’n ander polsende werklikheid daaragter blootgelê,” sê sy. “Dit het my opvattings oor reg en verkeerd, mooi en lelik, en werklikheid en verbeelding ondermyn. Sedertdien loop ek op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker uit sy kies spoeg.”

Dit was min Afrikaanse openbare figure beskore om ’n hele gemeenskap en literatuur tot soveel selfondersoek te dwing en van hul ideologiese aannames rekenskap te laat gee in sowel die apartheids- as postapartheidsera.
Dr. Francis Galloway oor Breyten Breytenbach

Galloway het die boek breyten breytenbach: woordenaar, woordnar saamgestel, wat vanjaar by die Tuin van Digters bekend gestel word en deel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se boekprojek oor Hertzogpryswenners is.

“Met hierdie boek huldig die SAAWK, asook die medewerkers daaraan, Breytenbach se onthutsende én speelse skryfambag en denklandskap met bydraes wat op vernuwende wyse kernaspekte van sy werkwyse en denke toelig,” sê Galloway.

“Dit was inderdaad ’n besonders uitdagende onderneming. Breytenbach se skeppende bydrae is veelvuldig – onder meer as skrywer, skilder, dramaturg, denker en openbare figuur – en speel uit oor dekades en op plaaslike en internasionale vlak.”

Galloway, wat ook die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur geskryf het, sê hy het ’n “sleutelrol in die stryd binne en tussen literêre, politieke en joernalistieke stelsels gespeel”.

“Dit was min Afrikaanse openbare figure beskore om ’n hele gemeenskap en literatuur tot soveel selfondersoek te dwing en van hul ideologiese aannames rekenskap te laat gee in sowel die apartheids- as postapartheidsera.”

‘Ook in buiteland ’n fakkeldraer’

Prof. Yves T’Sjoen, wat Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Gent in België doseer, sê hy beskou Breytenbach as ’n Nobelpryswenner.

“Sy bydrae kan nie in enkele sinne saamgevat word nie. Met sy poësie, maar ook sy politieke kommentaar en prikkelende essays, het hy nuwe geluide in die Afrikaanse letterkunde voortgebring,” sê hy.

“Hy het nie net die taal oopgebreek en verryk nie, maar sy beeldende taal, wat deur die surrealisme, Zen-Boeddhisme en Afrika beïnvloed is, is uniek.

“Hoe ouer hy word, hoe produktiewer word hy en met elke nuwe bundel voeg hy iets fundamenteels by – hy herwin nie materiaal in sy werk nie.”

T’Sjoen sê Adriaan van Dis, Laurens van Krevelen en Krijn Peter Hesselink se vertalings van Breytenbach se poësie en prosa na Nederlands het hom “as ’n skrywer van ’n weergalose oeuvre” en “uitsonderlike talent” in die Lae Lande gevestig.

Jerzy Koch. Foto: Magdalena Koch
Jerzy Koch. Foto: Magdalena Koch

Breytenbach word ook elders as ’n fakkeldraer en lirikus beskou, sê prof. Jerzy Koch, hoof van Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies verbonde aan die fakulteit Engels van die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan, Pole.

“Breyten is g’n politieke outeur nie, al word hy veral in die buiteland as ’n politieke skrywer beskou,” sê Koch.

“Sy politieke en maatskaplike – of liewer algemeen menslike – betrokkenheid vloei voort uit sy medemenslikheid en sy humane en empatiese instelling. Dís hoekom ek sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde ook as lirikus benadruk,” sê Koch.

“Min mense beklemtoon die feit dat hy die eerste Afrikaanse outeur was wat so herkenbaar en bekend was in die wye wêreld buite Suid-Afrika – slegs André P. Brink kan dalk met hom ‘meeding’. Dit het baie belangstelling in (die werk van) ander Afrikaanse outeurs gewek.”

Koch is deur die Poolse uitgewer A5 genader om ’n keur van sy keuse uit Breytenbach se Die singende hand: Versamelde gedigte 1984-2014 na Pools te vertaal, kort nadat die gesogte Zbigniew Herbert-prys in 2017 in Pole aan Breytenbach toegeken is.

“Ek het my op tekste gerig wat my deur beelde of woordformulerings aangespreek het. Sommige van die gedigte is vertaal omdat ek beïndruk was deur klein ‘woordgoggatjies’. Die drang om dit tog in my taal te kry, was groot genoeg om die uitdaging aan te pak.”

Sy bydrae kan nie in enkele sinne saamgevat word nie. Met sy poësie, maar ook sy politieke kommentaar en prikkelende essays, het hy nuwe geluide in die Afrikaanse letterkunde voortgebring.
Prof. Yves T'Sjoen oor Breyten Breytenbach

Breytenbach se vertaalde werk in Pools vul ook die Poolse letterkunde aan, sê Koch.

“Pole is ryk aan digkuns – ons laaste twee Nobelpryswenners (Czeslaw Milosz en Wislawa Szymborska) was digters – maar daar is altyd leemtes in die verwoording van die menslike verwonding oor die wêreld se gang,” sê hy.

“Digters van buite ons taalgebied is goed daarmee – Breyten ook. Hy beweeg op diverse vlakke, van die woord tot groter beelde en verbeeldings. Hy kan ook suiwer op die woord af gelees word, maar sy werk is baie universeel, al is dit moeilik om hom van Suid-Afrika los te maak.”

  • Die agtste Tuin van Digters-fees vind Vrydag en Saterdag, 13 en 14 September, in die Breytenbach-sentrum op Wellington plaas. ’n Kaartjie vir al die aanbiedinge Vrydag beloop R150 en vir al die aanbiedinge Saterdag R250. ’n Tweedagkaartjie kos R350. Studente kan met ’n geldige studentekaart afslag van R50 per dag kry. Toegang is gratis vir opbetaalde PEN Afrikaans-lede. Bespreek by besprekings@breytenbachsentrum.co.za of bel Jeanne-Mari Gerber by 021 873 2786. Besoek breytenbachsentrum.co.za vir ’n volledige program.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.