Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op die spoor van ’n sluwe seksmisdadiger

Twee bekroonde boeke oor die Harvey Weinstein-seksskandaal wys hoe slagoffers én ondersoekende joernaliste wat dié sake ondersoek telkens verneder en verdag gemaak word, maar gelukkig begin dinge nou verander, skryf Theunis Engelbrecht.

Harvey Weinstein (middel)

She Said: How Two Reporters Broke the Story that Changed the Rules About Sex and Power deur Jodi Kantor en Megan Twohey. Uitgewer: Bloomsbury. Prys: R320.

Catch and Kill: Lies, Spies and a Conspiracy to Protect Predators deur Ronan Farrow. Uitgewer: Little, Brown and Company. Prys: R340.

Die eens magtige rolprentmagnaat Harvey Weinstein (68) is onlangs 23 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting en verwante seksmisdade. Albei hierdie boeke is geskryf deur ondersoekende joernaliste wat die skandaal oopgevlek het: Jodi Kantor en Megan Twohey van The New York Times en Ronan Farrow, voorheen van die Amerikaanse TV-nuuskanaal NBC. In 2018 is al drie skrywers met ’n Pulitzerprys vereer vir hul werk.

Indien jy graag albei boeke wil lees, is She Said die beste een om mee te begin omdat jy hierin die hele agtergrond tot die morsige en skokkende sage kry. As jy egter net vir een kans sien, lees Farrow s’n. Sy boek is meer lewendig en gekonsentreerd as She Said, maar dit beteken nie laasgenoemde is minder belangrik nie. In hierdie geval is meer beter as minder.

Waar die kollig in She Said grotendeels op die oopvlek van Weinstein se seksmisdade val, fokus Farrow skerper op al die gekonkel agter die skerms in Hollywood, New York en Washington om die joernaliste se speurtogte te saboteer. Farrow het baie teenstand gekry by NBC en is om elke hoek en draai deur van sy seniors ondermyn sodat hy nie kon voortgaan met sy ondersoek nie. (Hy is gevolglik vort by NBC en het uiteindelik sy onthullings in The New Yorker gepubliseer.)

Maar dis nie al nie. Kort nadat Weinstein daarvan bewus geword het dat sy misdade ondersoek word, het hy die hulp ingeroep van ’n gevreesde onderneming, Black Cube, wat spesialiseer in spioenasie, dirty tricks, intimidasie, propaganda en sielkundige oorlogvoering.

Black Cube bestaan grotendeels uit oudbeamptes van Mossad en ander Is­raelse intelligensie-agentskappe en het kantore in Tel Aviv, Londen en Parys. Hulle moes al die vroue intimideer wat gedreig het om onthullings oor Weinstein te maak en klagte teen hom aanhangig te maak, asook die joernaliste wat die aantygings ondersoek het (onder meer deur die verspreiding van vals inligting om hulle te diskrediteer).

Benewens die teenstand van sy eie werkgewer, NBC, moes Farrow ook met dié bedreiging rekening hou, en sy onthullings daaroor maak die spanningslyn in sy boek nóg sterker. Dit is ’n misdaadriller in eie reg – dog helaas nie fiksie nie, maar die waarheid. Dit maak dit nóg meer pakkend as wat suiwer fiksie sou kon vermag.

Albei boeke is besaai met karakters wat ’n mens se bloed laat ys, soos die mense wat selfs die regsprosesse oor seksmisdade uitbuit om soveel geld as moontlik daaruit te maak. So is daar ene Lisa Bloom, wat van die slagoffers verteenwoordig het en hulle almal aangemoedig het om nie teenoor joernaliste te onthul wat hulle weet nie, maar om eerder ’n vertroulike finansiële skikking met Weinstein te bereik. Natuurlik het Bloom op dié manier miljoene rande aan kommissie verdien.

Dit is ook uit albei boeke duidelik watter verrotte plek Hollywood is. Blinde ambisie, rugstekery, kwaadwillige skinderstories, die strewe na “mag” wat kwansuis met roem gepaardgaan en ’n onversadigbare geld- en publisiteitshonger is aan die orde van die dag.

Dit is uit albei boeke duidelik watter verrotte plek Hollywood is.

Dit is ontstellend dat daar mense is wat die slagoffers van seksmisdade slegsê en probeer verdag maak, en dat hulle dus skynbaar meer simpatie het vir die seksmisdadigers oor wie daar aantygings gemaak word. Slagoffers word van bymotiewe verdink, en dan is daar die alewige vraag wat van oningeligtheid getuig: Nou hoekom het dit so lank gevat voor jy iets gesê het? Mense wat nie self as kinders of tieners onsedelik aangerand is of kinders het wat seksueel misbruik is nie, sal nooit weet watter ding dit is om deur te gaan en te probeer verwerk nie.

Weinstein was in ’n magsposisie. Hy kon nie net mense se loopbane maak of breek nie, maar ook hul lewens. Dis te verstane dat dit vir so baie aktrises ’n groot risiko moes wees om uit te praat. So ook vir die slagoffers van ander seksmisdadigers in magsposisies, of hulle nou magnate of onderwysers, joernaliste, Sondagskool-onderwysers, pastore, politici, priesters, predikante of hooggeplaastes in die kultuurwêreld is.

Voorts gee albei boeke boeiende leidrade oor Weinstein se psigometriese profiel. Ek dink nie ’n mens gaan te ver as jy hom ’n narcistiese psigopaat noem nie. Hy het nie omgegee oor watter sielkundige skade hy sy slagoffers berokken nie, hy toon geen berou nie, hy het geen empatie of skuldgevoelens nie.

Dit is skokkend op watter slu en venynige maniere seksmisdadigers soos dié met ’n verdeel-en-heers-mentaliteit hul slagoffers teen mekaar opsweep deur liegstories oor hulle te versprei, veral wanneer ’n slagoffer haar of hom verset teen die seksroofdier en hy nie sy sin kry nie.

Dan is die slagoffer skielik die gewetenlose seksmisdadiger se grootste vyand en sal hy alles probeer om jou te vernietig. Die meeste pedofiele gaan ook so te werk. Hulle is koelbloedige, geslepe manipuleerders wat al talle mense se loopbane, drome en aspirasies verwoes het.

Bewenens al dié aspekte wat albei boeke besonder fassinerend maak, bied She Said en Catch and Kill ook ’n openbarende blik op hoe hard ondersoekende joernaliste werk. Dié van hulle wat hulle sout werd is, is die ware helde in vandag se mal wêreld vol fopnuus en “alternatiewe feite”. Hulle weet hoe om te onderskei tussen feite, liegstories, halwe waarhede en wit leuens. Mense besef nie watter nougesetheid, vreesloosheid en dapperheid dié werk van hulle verg nie. Hulle verdien gerus meer erkenning daarvoor, veral ook dié in Suid-Afrika.

Nog een van die talle belangrike bydraes wat albei boeke lewer, is dat albei beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat slagoffers van seksmisdadigers nie langer moet swyg oor wat met hulle gebeur (het) nie, al is dit hoe moeilik. Daar is niks en niemand om voor bang te wees nie. Geregtigheid móét geskied. En slagoffers wat te bang is om te praat, asook mense wat weet wat met hierdie slagoffers gebeur het, moet mooi nadink oor dié woorde van Kantor en Twohay: We can’t change what’s happened to you, but if you work with us and we work to tell the truth, we may be able to prevent other people from getting hurt.

  • Theunis Engelbrecht is ’n joernalis en skrywer.
Meer oor:  Harvey Weinstein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.