Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op die spoor van ons spoke

In die byna 70 stories in ‘Ware spookverhale van Suid-Afrika’ lê Daniël Lötter bloot waar spoke hul lêplek maak, hoe hul stories oor eeue ontwikkel het en hoe wetenskaplikes dit probeer verklaar, skryf Jonathan Amid.

Ware spookverhale van Suid-Afrika deur ­Daniël Lötter. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

Het jy geweet al drie die wêreld se bekendste en bes gedokumenteerde spookstories – Die spookwa van die Spokeveld, Die Vlieënde Hollander en Die spookmeisie van Uniondale – kom uit Suid-Afrika?

Daniël Lötter versamel al drie dekades lank ervarings, herinneringe en stories oor spoke en ander bonatuurlike verskynsels wat hy op begeesterde wyse hervertel in sy heerlik loslittige verhalebundel Ware spookverhale van Suid-Afrika wat pas verskyn het. Met dié “reis deur die skemerland” lê hy bloot waar spoke hul lêplek maak, hy kyk hoe stories oor eeue ontwikkel het en hoe wetenskaplikes dit probeer verklaar. Daarna kom die verskillende soort spoke en verskynsels aan die beurt – dié wissel van verjaar-, saampraat- en krisisspoke tot tydspronge, voorbodes, spookdiere, goëlery en geraasspoke.

Om van “spoke” te praat, beteken om die grens tussen kennis en onkunde, geloof en ongeloof, die natuurlike en bonatuurlike, mens en dier, lewe en dood, te bevraagteken. Die opheffing van twyfel en die soeke na antwoorde gaan hand aan hand, maar soms is die beste antwoord ’n oop einde, ’n kinkel in die kabel, ’n knoop in die tou. ’n Mens kan nie “spoke” as ’n enkelvoudige fenomeen beskou nie – dis eerder ’n versamelnaam vir uiteenlopende onverklaarbare gebeure, soos die verskyning van ’n bepaalde mens of figuur of voorwerp wat sigbaar is buite hul normale tyd en milieu.

Die antieke Egiptenare, Grieke en Romeine het almal hul bygelowe gehad.

Lank reeds glo die mensdom dat die lewe hier op aarde nie tot ’n einde kom wanneer die liggaam ingee nie. Tot taamlik onlangs toe was dit tradisie om twee muntstukke op die oë van die gestorwene te plaas as betaling vir die bootsman wat die oorledene oor die “groot rivier” (die Styx) na die lewe Hierna moes roei. Die heel eerste optekening van bonatuurlike verskynsels kry ons onder die antieke Sumeriërs, die mense wat die skryfkuns ontwikkel het.

Die antieke Egiptenare, Grieke en Romeine het almal hul bygelowe gehad. Die Romeine het byvoorbeeld so vas daarin geglo dat gestorwenes een nag per jaar terugkom aarde toe om onafgehandelde sake klaar te maak dat die vaders van die huise in Rome op die “Nag van die Dooies” om middernag deur die huis gesluip het terwyl hulle kos oor die skouer gooi om die rustelose besoekers te paai. Daaruit het die eietydse Halloween ontstaan.

Ek wens ek kon in detail uitwei oor hoe Lötter stelselmatig die soeklig plaas op die ontmoeting tussen die rasionale en irrasionele, tussen uiterstes van vrees en die verrassende besoek van die dooies wat g’n kind of kraai leed wil aandoen nie. Die storie van Jan van Riebeeck se Roode Vos is dalk die eerste deeglik gedokumenteerde spookstorie in ons geskiedenis, maar beslis nie die eerste nie.

Om te verklaar dat Lötter, wat ook twee van sy eie ervarings met die bonatuurlike deel, ’n soort “aanvoeling” of gemak met die tematiek of verhalende onderbou van sy betoog het, gee hom te min krediet. Met die toemaak van Ware spookverhale van Suid-Afrika is dit duidelik dat die kuns om staaltjies en feite met die nodige eerbied en gravitas te vermeng hier bemeester word. Een van die lekkerste uitvloeisels is juis hoe die versameling jou lus maak om nog Afrikaanse spookstories – van Langenhoven tot Herman Charles Bosman en die onlangse bundel Skrik op die lyf (2015) met Gerda Taljaard en Deborah Steinmair as samestellers – te herbesoek. Maar eers nadat jy die skitterende versameling ’n tweede keer deurgewerk het.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.