Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op Planeet Pinker het elke donker wolk 'n silwer rand

Ons pessimisme oor die ‘haglike’ stand van die wêreld is heeltemal misplaas, verklaar Steven Pinker in sy ambisieuse nuwe boek oor die indrukwekkende vooruitgang in menslike welsyn die afgelope eeue. Al is Pinker waarskynlik reg, bly die filosoof Andries Gouws twyfel . . .

Steven Pinker: Met sy optimisme wil hy mense nie sus nie, maar mobiliseer.

Enlightenment Now: The Case for Reason, Science, Humanism and Progress deur Steven Pinker. Uitgewer: Alan Lane. Prys: R320.

Dié lywige nuwe boek deur die kognitiewe sielkundige, linguis en populêrewetenskapskrywer Steven Pinker bied ’n omvattende oorsig oor die ingrypende vooruitgang in die wêreld die afgelope eeue. Hy skryf dié vooruitgang veral toe aan die invloed van die Verligting met sy ideale van redelikheid, wetenskap, humanisme en vooruitgang.

Waarom die titel Enlightenment Now? Omdat Pinker die nalatenskap van die Verligting steeds uiters relevant vind, maar ook omdat hy dit wil aanpas in die lig van ons huidige kennis. Hierdie is ’n belangrike boek: Pinker takel nie net baie van die sentrale kwessies waarmee ons vandag worstel nie, maar betrek ook massas interessante navorsing deur ander.

Ons hoor daagliks ontstellende nuus oor die haglike stand van die wêreld. Hoewel Pinker nie ontken dat armoede, oorloë en ekologiese verwoesting sorgwekkend is (en dat ons hard sal moet werk om dit reg te stel) nie, kan ons inspirasie put uit die groot vooruitgang wat reeds geboekstaaf is.

In The Better Angels of Our Nature (2011), een van sy vorige boeke, beskryf hy die skouspelagtige afname in alle vorme van geweld – oorlog, moord, wrede strawwe ensovoorts – oor die afgelope millennia. Volgens Enlightenment Now is die vooruitgang in ál die belangrikste aanduiders van menslike welsyn ewe indrukwekkend: lewensverwagting, gesondheid, voedselsekerheid, welvaart, gelykheid, ekologie, die veiligheid van die daaglikse woon- en werkomgewing, demokratisering, die afname in seksisme, rassisme en homofobie, toeganklikheid van kennis en onderwys, en selfs geluk! ’n Groot deel van die boek bestaan uit kwantitatiewe oorsigte van die vooruitgang op hierdie gebiede, alles georden rondom 72 grafieke. Hoewel hierdie vooruitgang meestal in die Weste begin het, vind die vinnigste vooruitgang nou in ander wêrelddele plaas en krimp die gaping tussen hulle en die Weste vinnig.

Ons pessimisme oor vooruitgang is dus misplaas. Hans Rosling wys in Factfulness (2018) hoe onkundig selfs spesialiste is oor die stand van die wêreld – weens hul pessimisme presteer hulle selfs slegter as toeval wanneer hul kennis met meerkeusevrae getoets word!

Hier is ’n steekproef uit Pinker se syfers oor vooruitgang (maar sonder sy verduidelikings, kwalifikasies en nuanses):

  • In die laat 18de eeu was die gemiddelde lewensverwagting wêreldwyd 30; vandag is dit 71 en in sommige lande selfs 81.
  • Die ontdekkings van ’n skamele honderdtal mediese navorsers het in die afgelope 150 jaar 5 miljard lewens gered.
  • Pokke, wat net in die 20ste eeu 300 miljoen lewens geëis het, is uitgewis.
  • Buite Afrika is hongersnood basies iets van die verlede.
  • Danksy die “groen” revolusie en verwante vernuwings is die opbrengs van een hektaar landbougrond vandag drie keer soveel as 70 jaar gelede.
  • Die wêreld is vandag 100 keer ryker as twee eeue gelede.
  • 200 jaar gelede het 90% van die wêreldbevolking in uiterste armoede geleef; vandag is dit slegs 10%.
  • In 2008 was die gemiddelde inkomste van die wêreldbevolking dieselfde as Wes-Europa s’n in 1964. Volgens prof. Prados de la Escosura se historiese indeks van menslike ontwikkeling (waarin lewensverwagting, inkomste en opvoeding verwerk is) het die res van die wêreld in 2007 die Weste se vlak in 1950 bereik.
  • Die houding van die jeug in Moslemlande oor seksisme, rassisme en homofobie is tans omtrent ewe liberaal as dié van die Europese jeug in die vroeë 1960’s.
  • Sowat 83% van die wêreldbevolking is vandag geletterd; 200 jaar gelede was dit 12%.
  • Vandag leer wêreldwyd ewe veel meisies as seuns om te lees.
  • Die gemiddelde IK neem wêreldwyd met omtrent drie punte per dekade toe – ’n proses wat al meer as ’n eeu duur.

Die skaal van die vooruitgang is inderdaad verstommend en regverdig optimisme daaroor, maar tog sal sommige pessimiste onoortuig bly. Is daar vrees dat daar ondanks dié syfers ander, dieper tendense is wat dui op agteruitgang of ’n dreigende ramp? Pinker se syfers dek egter byna elke dimensie wat belangrik is vir menslike welsyn. Hy voer ook aan daar dreig geen katastrofe op die gebied van die wêreldbevolking, ekologie of die uitputting van minerale of energiehulpbronne nie.

Die syfers wat ek hierbo sonder konteks weergee, is by Pinker ingebed in afsonderlike hoofstukke, elk gewy aan een tema (soos lewensverwagting, ongelykheid of ekologie), waarin hy ook reageer op skeptici en die oorsake van elke soort vooruitgang aandui.

Die titel Enlightenment Now: The Case for Reason, Science, Humanism and Progress vat hierdie oorsake saam:

  • Verligting: Die idees, instellings en ideale wat gelei het tot ons vooruitgang is volgens Pinker te danke aan die wetenskaplike revolusie en die denkers van die Verligting, soos Spinoza, Hobbes, Hume, Smith, Jefferson en Kant. (Vooruitgang word volgens hom bedreig deur die Romantiek, die postmodernisme en ander bewegings wat die Verligting teenstaan.)
  • Redelikheid vra dat ons niks sonder goeie redes glo nie.
  • Wetenskap is al die maniere waarop ons kennisaansprake onderwerp aan streng empiriese en logiese toetse, asook alle bevindinge wat hierdie toetse tot dusver oorleef het.
  • Humanisme: Hiervolgens is die maatstaf waaraan etiese ideale en maatskaplike instellings getoets moet word, die welsyn van individuele mense, en nie godsdienstige voorskrifte of versamelname soos volk, nasie, ras, taal of ekostelsel nie (waardes wat verskillende verteenwoordigeres van die Teenverligting verhef bo die waarde van die individu).
  • Vooruitgang: Dit sou die doodskoot wees vir die ideale van die Verligting indien ontdek sou word dat al ons pogings om hulle na te streef vergeefs was. Pessimistiese gelatenheid sou dan geregverdig wees. Omgekeerd: Hoe meer skouspelagtig die vooruitgang is, hoe meer kan ons vertrou dat ons met gepaste inspannings verdere vooruitgang kan bewerkstellig.

Met hierdie syfers en ander argumente het Pinker dus alle pessimiste van vooruitgang in die visier. Maar is optimisme nie gevaarlik nie? Sus dit mense nie aan die slaap nie? Moet denkers nie eerder die stand van die wêreld so pessimisties as moontlik voorstel nie?

Met sy optimisme wil Pinker mense nie sus nie, maar mobiliseer. Hy verwys na navorsing wat suggereer dat doemprofesieë ’n verlammende uitwerking het en dat mense meer geneig is om probleme soos aardverwarming te erken wanneer hulle dink daar kan iets aan gedoen word.

Pessimisme is byvoorbeeld die belangrikste kenmerk wat ondersteuners van Trump en ander populiste onderskei van ander kiesers. En die pessimistiese oortuiging dat vooruitgang binne die bestaande orde onmoontlik is, is ’n hoeksteen van die revolusionêre pleidooi dat ons enigste hoop lê in die vernietiging van die bestaande, waarna ’n veel beter orde spontaan uit die as sal verrys.

Pinker skets uiteindelik ’n prentjie van die Verligting wat veel ryker is as die kernwoorde in sy titel. Hy noem byvoorbeeld die waardering vir sweet commerce, wat aristokrate en Romantici tipies met afgryse vervul; dit in teenstelling met die nul-som-opvatting van ruil wat ons vind in die ekonomiese intuïsies van leke (folk economics) en Marxiste. Maar daar is ook nuwe insigte waarmee Pinker die nalatenskap van die Verligting wil aanvul, soos die volgende twee:

1. Philip Tetlock se verrassende bevindings oor die verskillende denkstyle van die beste en slegste voorspellers van maatskaplike verskynsels:

’n Slegte voorspeller dink net soos die media se gunsteling- pratende koppe. Hy is getroud met ’n bepaalde teorie of politieke ideologie, wat syns insiens die één korrekte sleutel tot elke waarheid vorm. Hy maak graag swart-wit voorspellings en vind dit onnodig om sy model te toets of aan te pas in die lig van nuwe inligting.

’n Bobaas-voorspeller, daarenteen, is nie verlief op enige teorie of politieke ideologie nie; sy eerste stap is om vas te stel hoe dikwels die tersaaklike gebeurtenis (soos ’n terreuraanval) plaasvind in ’n bepaalde tydsbestek. Hierdie syfer, die basiskoers, word vervolgens aanhoudend boontoe of ondertoe aangepas in die lig van nuwe inligting uit uiteenlopende bronne (Isis-werwingsveldtogte; meer teenterreurpolisielede). Sy voorspellings is nie swart-wit nie, maar druk uit hoe waarskynlik hy die gebeurtenis ag. Die les? Om die samelewing te verstaan moet ons nie-ideologies, pragmaties, eklekties en tentatief wees.

Pinker se politieke instelling is hieraan verwant: Om die beste beleid te vind moet jy van ideologie vergeet en dít kies wat die beste resultate lewer. Mense gedy skynbaar die beste “in liberal democracies with a mixture of civic norms, guaranteed rights, market freedom, social spending, and judicious regulation” (bl. 365) – ’n kombinasie wat nie ooreenstem met die voorskrifte van enige vooraanstaande politieke ideologie nie. Dat politieke partye in Amerika, veral die Republikeine, steeds meer ideologies word, is deel van die rede waarom Trump verkies is.

2. Pinker sien politieke polarisering as die hoofbron van politieke irrasionaliteit. Volgens Daniel Kahan se navorsing word mense oor die politieke spektrum heen verblind deur hul vooroordele sodra ’n standpunt dien as “badge of political identity” – ’n bewys dat jy ’n getroue lid van jou politieke stam is. By kwessies wat nog nie verpolitiseer is nie, kan dieselfde mense egter ’n beleid op sy meriete beoordeel.

Ondanks my ietwat pessimistiese temperament dink ek in breë trekke Pinker is reg. Wat my (benewens Suid-Afrika self) aanhou bekommer, is veral die skrikbeeld van roekelose staatshoofde wat ’n kernoorlog kan ontketen, en die dreiging van aardverwarming. Pinker erken hierdie gevare, maar sien ook hier rede tot hoop.

Wat betref aardverwarming, voorsien hy tegnologiese oplossings om die tempo waarteen atmosferiese CO2 toeneem te vertraag (en CO2-vlakke selfs te verlaag – anders sal die aarde aanhou verwarm, selfs wanneer die vlakke stabiliseer). Hieroor twyfel ek.

Pinker se boek is so vol gegewens en idees dat ’n kort ruimte soos dié geen reg daaraan kan laat geskied nie. Dit sal my nie verbaas as dit blyk uit die debatte wat die boek gewis sal uitlok dat sy ontleding op baie punte verkeerd of problematies is nie – vir so ’n ambisieuse boek kan dit nouliks anders wees.

  • Andries Gouws (www.andriesgouws.com) is ’n kunstenaar en afvallige filosoof van Jamestown, Stellenbosch.
Meer oor:  Science  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.