Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op reis na die laaste aardse bestemming

Niefiksie

Die laaste reis

Karel Schoeman

PROTEA, R200

As die dood die laaste aardse bestemming is, die laaste huis, hoe loop die pad daarheen?

Vir Karel Schoeman het die pad oplaas Afrika íngekronkel deur die golwende heuwels van Lesotho. Wie sou dit kon sien kom by die lees van daardie eerste romans, waarin die blik eers op die stad en toe op Europa gerig was? In daardie jare kon hy die stof van Bloemfontein, waar hy studeer het, nie gou genoeg van sy voete afskud nie.

Ons weet egter nou, nadat Slot van die dag (“los gedagtes oor ouderdom en die einde van die lewe”) enkele maande ná sy afskeid en vertrek op 1 Mei 2017 verskyn het, dat hy reeds tydens sy eerste verblyf in Amsterdam rondom 28 of 29 in 1968-69 selfdood oorweeg het – deels weens “heimwee, verlange na die vertroude”.

Wanneer hy sowat agt jaar later, in die veelbewoë jaar van 1976, uit Amsterdam terug na Suid-Afrika verhuis, het die land, die vasteland, oënskynlik reeds méér huis as Europa geword. Só skryf hy in Onderweg: Reisherinnerings (1978): “Daar kan geen terugkeer wees nie: dit is verby, en Europa is reeds besig om verlede te word terwyl [die lughawe se vervoer-]bande my voortvoer.”

Vervolgens was sy stasies onderweg na die laaste reis onderskeidelik Bloemfontein, Kaapstad, Trompsburg en oplaas weer Bloemfontein, waaroor hy met die terugkeer van sy laaste besoek aan Lesotho in Die laaste reis skryf:

“Met hoeveel vreugde en verligting het ek, moes ek nou oorweeg, die dorpse stad nie vyftig jaar gelede ontvlug om in Johannesburg te gaan werk en ’n eie woonstel te betrek nie, en hoe uitbundig het ek my nie oor Bloemfontein en sy gebreke uitgelaat nie.

Soos in Homeros se Odusseia is die reismotief ook vir Schoeman die belangrikste, wat soos ’n goue draad deur al sy fiksie en reis­beskrywings loop.

“ ‘Kind,’ het my moeder my toe vermaan, ‘zeg nooit, Fonteintje, ik zal nooit weer uit je drinken.’ ”

Soos in Homeros se Odusseia is die reismotief ook vir Schoeman die belangrikste, wat soos ’n goue draad deur al sy fiksie en reis­beskrywings loop. In sy eie lewe en vir talle van sy karakters gaan ’n fisieke reis ’n psigiese reis vooraf, word die reis na iewers die beginpunt van die reis inwaarts, om oplaas die buitekant en die binnekant te integreer in ’n soort tuiskoms. So is dit byvoorbeeld met Versluis in ’n Ander land (1984), of vir die jong Nederlander in Verkenning (1996).

Keerpunte en finale besluite wat ’n mens nooit sien kom het nie, word by nabetragting soms volkome logies. So was dit vir my persoonlik met die aanvanklik skokkende nuus dat Schoeman homself om die lewe gebring het, wat by nabetragting haas onvermydelik blyk te gewees het, hoe hartseer dié gedagte ook al bly.

En hoe dan anders dat hy, wat sy dood soos alle ander aspekte van sy lewe met die grootste noukeurigheid beplan en deurgevoer het, dit vooraf sou gaan met ’n laaste fisieke reis – eintlik drié reise, die drie reise na Lesotho wat in Die laaste reis beskryf word?

Die laaste reis is soos ’n groot komponis se heel laaste strykkwartet, gestroop van alles, totdat slegs die wese van dinge en van die lewe self oorbly.

Teen die tyd dat hy hierdie reise aanpak (hoofsaaklik) saam met sy Sotho-versorgers van die laaste nege jaar van sy lewe, Jemina Meko en Mamohau Lekula – terwyl sy ewe belangrike Afrikaner-versorger van die laaste nege jaar, Jackie Steyn, onvermeld bly, ondanks die feit dat sy saam is op van die reise – het Schoeman reeds geweet die beplande dood wag op 1 Mei 2017. Hy e-pos Die laaste reis dan ook minute voor sy laaste daad aan sy uit­gewer.

Ofskoon tesame met die reismotief al die bekende temas en kenmerke van sy oeuvre, soos filmiese beskrywings van die om­gewing, ironiese waarnemings oor verval, kritiek op blanke Suid-Afrika, die geskiedkundige, en ’n sin vir die mistiek alles in die boek voorkom, lê die eintlike trefkrag van die boek in die leser se wete dat wat gelees word, die beskrywing van die skrywer se laaste reis op pad na sy laaste bestemming, die dood, is – ’n allerlaaste bestekopname van een van die heel groot geeste.

Anders as al Schoeman se reisbeskrywings wat ek al gelees het, word hierdie reis nie alleen onderneem nie, maar saam met die vroue wat hom die laaste nege jaar van sy aardse reis vergesel het, en word hierdie reis ’n bevestiging van Afrika in al haar skoonheid, gebrokenheid en verval, soos selde indien ooit in sy oeuvre.

Hieruit volg roerende beskrywings, byvoorbeeld hoe “intens” Jemina, “kind van ’n Suid-Vrystaatse plaasarbeider wat kaalvoet skool toe gegaan het en net, as ek reg verstaan, tot standerd vier opgevoed is”, dit geniet om in die gastehuis van die sendingstasie Morija “vir die eerste keer met blankes [vir aandete] aan te sit . . . en deur hulle volkome natuurlik en vanselfsprekend as gelyke en as gespreksgenoot aanvaar te word”.

Met sy finale terugkeer na sy Bloemfonteinse woning, “die wit bed wat op my wag aan die einde van die reis, en ek moes dink aan Van Wyk Louw: ‘ ’n Laaste kuil van stilte tussen riet.’ ”

En dan die slotwoorde:

“Op sommige van die foto’s wat Mamohau in Lesotho so geesdriftig met haar selfoon geneem het, verskyn daar iemand wat ek in ’n berig aan ’n korrespondent beskryf het as ’n afgetakelde ou man met wasige blik en verwarde hare. Byna het ek op die treetjies van die hotel in Mohaleshoek gekantel en geval.

“Dit was die laaste reis.”

Die laaste reis is soos ’n groot komponis se heel laaste strykkwartet, gestroop van alles, totdat slegs die wese van dinge en van die lewe self oorbly.

Lees dit – en koester die lewe in al haar geledinge.

Johann Rossouw is ’n romansier en professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat wat deur Schoeman gementor is.

Meer oor:  Karel Schoeman  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.