Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op soek na die Groot Vrystaatse Roman

Drie skrywers uit die Vrystaatse vlaktes het vanjaar die literêre wêreld aan die praat met hul jongste lewerings, waaronder twee debuutwerke. Francois Smith (Die kleinste ramp denkbaar) Madré Marais (Luistervink) en Anton Roodt (Weerlose meganika) praat oor skryfwerk, watter skrywers hulle inspireer en ook oor die Groot Vrystaatse roman.

Prof. Henning Pieterse, dr. Francois Smith, Madré Marais en Anton Roodt. Pieterse en Henning lei die M-graad in kreatiewe skryfwerk by die UV se departement van Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans. Foto: Lientjie Mentz
Wat verg dit om ’n skrywer in die Vrystaat te wees?

Marais:

Dis om ore te spits en gemoed oop te maak in ’n plek waar mense hul toekoms elke dag opnuut teen uitsigloosheid herskik. Iets van Ina Rousseau se “heldeurweekte hemel” en “hemeldeurweekte hel” gedy hier.

Smith:

Jy skryf op ’n onverbiddelike vel wit papier. Alles kan en alles moet. Dit is eintlik net jy en daardie blanko vlak. Maar ek kom van die Vrystaat en dit is asof my sintuie hier iets gekry het wat help met leë velle wit papier.

Roodt:

Dit is ’n voorreg. In die boeke van Vrystaatse skrywers gebeur daar, lyk dit vir my, óf baie min óf jou kop draai. Ek dink dit het iets met die eiesoortige bekoring van die uitgestrekte landskap te doen. ’n Mens moet nogal taai wees om hier te oorleef en dit is ’n wêreld propvol interessante karakters en plekke, as jy weet waar om te kyk.

Wat hoop jy om met jou skryfwerk te bereik?

Marais:

In hierdie stadium hoop ek veral, spesifiek wat Luistervink betref, dat my bundel ’n paar lesers nuuskierig sal maak oor wat die kortverhaal in Afrikaans kan doen, en dat dit hulle na ander bundels sal laat gryp. Daar is al soveel geskryf wat mense se denke sal skud op maniere wat hulle hulself nooit sou kon indink nie.

Smith:

Ek wil die wiel herontwerp, in taal, sodat lesers na my wiel kyk en sê: Ek het nog nooit so ’n wiel gesien nie.

Roodt:

As ek my lesers kan bekoor en laat aanhou omblaai tot aan die einde van die boek, dan is dit meer as waarvoor ek kan hoop.

Madré Marais Foto: Mlungisi Louw
As jy een universele reël kan skep wat nog nie bestaan nie, wat sal dit wees?

Marais:

Dat niemand ooit ’n enkele ding sal doen bloot omdat doen dóén is nie. Deur in eerlikheid met jouself te handel, gaan jy soveel versigtiger met jouself en ander om.

Smith:

Laat jou karakters net op vetveeveilings huil.

Roodt:

Almal moet ten minste een maal per dag ’n tegnologiese objek met opregte gevoel omhels. Dit is ’n belegging in jou toekoms. Wanneer sintetiese lewensvorme ons lewens finaal kolonialiseer, gaan hulle geen genade betoon nie. En onthou: Blue Lives Matter.

Anton Roodt Foto: Verskaf
Watter skrywers hang jy aan en hoekom?

Marais:

Rousseau vir haar klankrykheid, PG du Plessis vir sy mensekennis, Petra Muller vir haar sensitiwiteit, George Saunders vir hoe hy vreemd en donker skrikwekkend herkenbaar maak, Riana Scheepers vir haar vreesloosheid, Francois Smith vir sy beheersing van die ongesegde dinge tussen mense, Jan Rabie vir sy insig in die universele, Raymond Carver vir sy eiesoortige eerlikheid, Stephen King vir hoe hy jou in enkele sinne kan laat omgee wat van ’n karakter gaan word. Amy Hempel is die nuutste toevoeging – ek is nog besig met die heerlike taak om te ontdek hoekom sy op my lysie hoort.

Smith:

D.J. Opperman (omdat ek ’n ingenieur was), Antjie Krog (omdat sy met ’n knopkierie in die linkerhand skryf), Marilynne Robinson (omdat alle groot kuns godsdienstig is), Hilary Mantel (omdat sy my historiese fiksie leer skryf het) en W.F. Hermans (omdat hy Het behouden huis geskryf het).

Roodt:

Ek lees op die oomblik Merk van Rudie van Rensburg. Rudie se karakterisering wys dat hy weet wie sy lesers is. En hy behandel hulle met deernis en volgehoue respek. Sally Rooney se Conversations with Friends en Normal People maak my jaloers dat so ’n jong skrywer so gevoelvol en eietyds oor verhoudings en die liefde kan skryf. Liefdesverhale is dalk die agtergrond-stapelvoedsel van die boekebedryf, en word nie te ernstig opgeneem nie, maar sy verhef die genre tot iets spesiaal en inspirerend.

Francois Smith Foto: Verskaf

Is die Groot Vrystaatse Roman al geskryf?

Marais:

Ek hoop nie so nie. Die moontlikheid dat iemand nog met opset óf per ongeluk so iets kan uitrig, is te opwindend. Klaas Steytler het met In die somer van ’36 sekerlik deksels naby daaraan gekom. Dié roman is eksplisiet aan tyd en plek gekoppel, maar daar is soveel wat absoluut tydloos en universeel staan. Die flapteks lees: “Onder die skrywer se aweregse kyk word die tyd en plek op só ’n wyse afgesonder dat die lees met ’n skok herkenning bring, en deernis, en ’n vereenselwigende lag.” Ek wonder, sou iets hieromtrent nie net so waar kon wees oor Die kleinste ramp denkbaar nie?

Smith:

Schoeman het meer as een geskryf, ’n Ander land en Die uur van die Engel, en ek dink Klaas Steytler se Die somer van ’36 is ook ’n Vrystaatse roman. En wat van Op soek na generaal Mannetjies Mentz? Maar watch this space ...

Roodt:

Die Groot Vrystaatse Roman lê net om die draai of ... dalk nie. ’n Mens weet nooit nie. Ek sou Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz minstens op die lys wou sien, Valsrivier van Dominique Botha en selfs iets van Karel die Grote, maar dalk is dit veel belangriker dat elke leser dink hy of sy het nou net die Grootste Vrystaatse Roman gelees, wat dit ook al mag wees. As daar so iets is, dink ek dat die plek ondergeskik sal wees aan die universele aantrekkingskrag van die roman.

Met Afrikaans onder druk, gaan daar oor 10, 20 jaar nog in Afrikaans geskryf word in die Vrystaat?

Marais:

Ongetwyfeld. Net soos sekere stories vra om as kortverhaal geskryf te word, terwyl ander hul lê in ’n roman kry, kan sommige stories net in Afrikaans vertel word. Nou klink dit asof ek die taal tot ’n stuk gereedskap of ’n gietvorm reduseer. Ek bedoel maar net: Solank mense in Afrikaans leef, sal daar eg Afrikaanse stories wees. En daar sal altyd iemand wees wat moed het om juis daardie stories te vertel.

Smith:

Ja. Ek gaan nog ten minste vir tien jaar skryf, en dan gaan daar ’n dik stroom skryfwerk kom van mense met Sotho- en Moslem-name. Ek sien dit by ons studente.

Roodt:

Ek dink nie Afrikaanse lesers in die Vrystaat gaan in die volgende dekade of twee hul rug op Bennie Griessel draai nie, al is hy dan al 90 en bly hy saam met die 120-jarige Hans van Kraaienburg in die Huis Madeliefie-aftreeoord waar die 70-jarige Ella Neser alle ongerymdhede koelkop uitsnuffel. Kortom: die Vrystaatse driemanskap van Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten gaan die Vrystaat nog lank aan die lees hou.

Meer oor:  Madré Marais  |  Anton Roodt  |  Francois Smith  |  Vrystaat  |  Skryf  |  Boeke  |  Roman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.