Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Op soek na ware Levaillant

In Glenn se veelvlakkige ‘The First Safari’ is ’n insiggewende klein bedgenoot in ’n genre van sy eie, skryf Jean Meiring.

The First Safari: Searching for François Levaillant deur Ian Glenn. Uitgewer: Jacana. Prys: R260.

Dis 1795. Of William van Rheede van Oudtshoorn, politieke indoena en graanskuurmeester aan die Kaap, in die onstuimigheid van tóé die tyd of mildheid van gees had om in nuus belang te stel oor die voëlbehepte, Nederlandssprekende Fransman van wie hy ’n dekade of wat vroeër aan die einste Kaap gehoor het, is onseker.

Met die Engelse vlag wat wapper is die Kaap allermins nog Hollands. Frankryk is vir twee jaar al met Nederland in ’n oorlog gewikkel en die toekoms van suidelike Afrika wankel in die weegskaal.

Boonop, soos Dan Sleigh se weergawe van Van Oudtshoorn in sy roman 1795 kla: Daar is geen universiteit aan die Kaap nie. As daar maar een was, die oorlog ten spyt, sou die verskyning in Parys van Second voyage dans l’intérieur de l’Afrique, par le Cap de Bonne-Espérance, dans les années 1783-85, die tweede Suider-Afrikaanse reisbeskrywing uit die pen van François Levaillant, waarskynlik vinnig die onderwerp van koffietafel-besprekings gewees het.

’n Ge-oe en ’n ge-aa sou stellig opgeklink het oor dié ontdekkingsreisiger – ’n voorloper van Alexander von Humboldt heen-en-werend oor Suid-Amerika – se manhaftige ekspedisie noordwaarts langs die Weskus wat in hierdie tweede boek onder die loep kom. Oor sy aankoms by die oewer van die Oranjerivier en sy duiselingwekkende prestasie om ’n kameelperd plat te trek.

Op die eerste tog het hy en sy Khoi-knegte, sy honde en sy byna-menslike bobbejaan, Kees, dít wat vandag sagkens die Tuinroete genoem word met soms ruime moeite deurbeur.

In die voorhuis van een van die aantreklike wonings wat Levaillant in sy eerste Suider-Afrikaanse reisverslag (1790) aangeprys het, sou daar dalk ’n belese kritikus gewees het wat sou sug: In die geheel gesien was die eerste verslag darem maar beter. Ai, en waar is die Fransman se liewe Narina dié slag – ’n jongvrou van die Gonaqua-stam, maar so reg uit ’n muurskildery in Pompeii?

Presies wat die indertydse resepsie aan die Kaap was van Levaillant se twee vernuwende en uitdagende reisboeke en sy ornitologiese prenteboeke (wat in die jare 1796-1810 sou verskyn), is nié die onderwerp van Ian Glenn se sjarmante klein hardeband-mymering The First Safari nie. Lees ’n mens onder meer Sleigh se roman, sou jy kon bespiegel dat die kontemporêre rimpeling uiters gering moet gewees het.

Glenn, ’n voormalige lid van die Universiteit van Kaapstad se Engels-departement en tans navorsingsgenoot aan Kovsies, het as jong akademikus byna per abuis, deur die ondersoek van ontug, op die onderwerp van die sonderlinge Levaillant afgekom.

Al gee hy ruimskoots erkenning aan sy voorgangers, is dit grotendeels aan Glenn se nuuskierigheid en ywer te danke dat Levaillant se twee Suider-Afrikaanse ontdekkingsreise en hulle nasleep in die laaste dekades wyer aandag begin geniet het.

Tussen 1781, toe Levaillant op die skip Held Woltemade hier aangekom het, en 1784, toe hy met onsekere opset terug Frankryk toe is, het hy met groot durf en – soos Glenn argumenteer – organisatoriese vernuf per ossewa sy twee ontdekkingsreise die binneland in onderneem.

Op die eerste tog het hy en sy Khoi-knegte, sy honde en sy byna-menslike bobbejaan, Kees, dít wat vandag sagkens die Tuinroete genoem word met soms ruime moeite deurbeur. Dít als in ’n poging om Levaillant se belangstelling in die vreemde voëls – en gaandeweg ook ander gediertes – hier te lande te bevredig.

Die tweede tog, noordwaarts, word allerweë gereken om met minder presisie opgeteken te wees.

En telkens as die geleentheid hom voordoen, word van die opgestopte voëls en diere terug Kaap toe gestuur om deur Levaillant se vriend, die fiskaal Boers, bewaar te word. Vanweë sy wetenskaplik-vernuwende bewaringstruuks, redeneer Glenn, het sy voëls en ander gediertes baie mooier behoue gebly as dié van sy konkurrente.

In die beknopte, toeganklike en lieflik versorgde The First Safari pak Glenn sy materiaal breedweg histories uit. Soos te verwagte begin hy by die kiem: Levaillant se eerste tien jaar in die soel Paramaribo, hoofstad van Nederlands-Guiana – vandag Suriname – aan die noorderbog van Suid-Amerika.

In sy uitgeweke ouers se voetspore versamel hy insekte en ontwikkel hy ’n belangstelling in die natuur. Én leer hy Nederlands – wat Glenn aan die hand doen een van die redes is waarom sy Kaapse ambisies soveel beter gerealiseer het as dié van sy Skandinawiese voorgangers.

Die verhaal loop in Frankryk tot ’n einde as Levaillant se drome om na Afrika terug te keer gefnuik word deur die verantwoordelikheid van die baie kinders wat hy, binne én buite drie huwelike, versamel het.

Maar óór dié chronologiese ontknoping lê Glenn in bondige en verteerbare brokstukke die tematiese onderdele van sy ambisieuse en prikkelende argument.

Hy betoog dat Levaillant in baie opsigte ’n pionier was: as naturalis, ornitoloog en die tekenaar van voëls en ander diere; as taksidermis; as reisskrywer – sy voorgangers het lyste wedervaringe opgestapel, terwyl Levaillant ’n ware verhaal uit die dag-in-en-dag-uit van die reis getoor het, ook nie sonder stukkies aandikking nie; boonop as etnologiese en sosiale kommentator – baie van sy skrynende kritiek op die Nederlandse koloniale projek is in die Engelse vertalings van sy boeke uitgevee. En, les bes, as skrywer wie se boeke in hoeveel vertalings die wêreld oor uitgewaaier het en onder topverkoper-etikette sou getoring het as sulke dinge toe bestaan het.

Telkens waag Glenn ook sy hand aan die veel moeiliker argument oor invloed: Levaillant het as vegknoper dié persoon of daardie iets beïnvloed. Ook laai hy die idee van ’n safari, wat in die titel voorkom, met dalk te swaar ballas. Dié is natuurlik geen doktorsverhandeling nie en Glenn skets sy argumente in dié verband genadiglik met ’n ligte dog provokatiewe potlood.

’n Derde verhaallaag, wat dié klein bedgenoot in ’n genre van sy eie plaas, is Glenn se deurvleg van sy eie ontdekkingstog as akademikus en navorser.

Wat het geword van Levaillant se opgestopte dieretuin, wat sy eerste vrou so gieriglik aan die vlagswaaiers van die Franse Revolusie probeer verkwansel het? Waar is die ontwykende notaboekies waarin hy sy reiswedervaringe opgeteken het?

Dié derde laag bestaan uit verhale van prekêr aan boekrakke hang, deur bibliofiele stofreën verswelg word, jou eggenoot blink winkels toe stuur sodat jy alleen in die donker op die naambordjies onder hoeveel dooie diere asseblief tog net die naam François Levaillant te lese kan kry.

Sodoende word dit ’n insiggewende besinning oor wat dit beteken om vandag in hierdie land ’n geskiedkundige of letterkundige met ’n historiese oog te wees – trouens enigeen in die geesteswetenskappe.

In ’n tyd waar dekolonisering, ook van kurrikula, aan die orde is, bied die figuur van Levaillant, met snaar en stramboel in die hand en met die idees van Rousseau en Diderot soos bye wat pla, tegelyk ’n groot uitdaging én geleentheid.

Die boek het baie kante. Die oppervlakkies wat dalk effe minder skitter is min.

Dalk kon Glenn wel die soms effe studentikose binnegrappies en slengtaal (“Yup”) gesnoei het. In ’n boek wat die deur vir die breë publiek op Levaillant wil oopmaak, is dit vreemd dat die bronnelys meesal op Glenn se eie akademiese geskrifte gerig is en verbasend die toeganklikste vertaalde en oorvertelde weergawe van die twee reisboeke, The Truth in Masquerade (1973), deur Jane Meiring (geen verwantskap), verswyg.

Ook is die afwesigheid van ’n indeks ’n jammerte. Maar die meeste dele skitter blink en kaats verrassing en insig uit.

’n Mens hoop baie lesers neem die uitgestrekte hand op die voorblad in hulle s’n op en sê-vra: “Die eens onbekende heer Levaillant, is my vermoede reg?”

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.