Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Openhartig, ongehoord en totaal onverbloemd

Biografie

André P. Brink en die spel van liefde

Leon de Kock

JONATHAN BALL, R350

Nommer asseblief!

Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.

Brink was en bly ’n belangrike teoretikus, ’n uitnemende kritikus, behalwe oor Karel Schoeman se werk of ’n paar opponente soos Pieter van der Lugt wie se digkuns hy verminder het. As hy gedink het Eleanor Baker skryf goed, moes Rita Gilfillan uit die pad gevee word.

As ’n romanskrywer het hy etlike bakens geskep: Lobola vir die lewe, Die ambassadeur, Kennis van die aand, Inteendeel, om ’n handvol te noem.

Sy dwarsklap na Nadine Gordimer wys op ’n breuk tussen die openbare beeld en persoonlike siening: applous vir Gordimer in die openbaar; venynig agter die hand. Hy noem haar ’n “colonial Tory” (bl. 166). Die skrywer Wilhelm Liebenberg, wat die voortreflike parodie As die nood hoog is (1993) gepubliseer het, kry wel die kans om sý kant van die saak te stel as voormalige kollega van Brink op Rhodes.

Brink se werkvermoë en -drif is bekend: Kyk gerus na sy bydrae ook as vertaler en mentor vir ander skrywers. Sy politieke profiel en optredes kan eweneens vermeld word, nes sy kritiek op apartheid en sensuur. ’n Ware Don Kiesjot. (En dit is ’n roman wat hy vertaal het en waaroor hy insigryk geskryf het.)

Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as ’n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie-Wallace-beurs.

Sy verhouding met Ingrid Jonker is opgeteken in Vlam in die sneeu (2015). In hierdie briefwisseling sien ’n mens Brink in aksie: venynige opmerkings onder andere oor wyle Chris Barnard.

Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as ’n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie-Wallace-beurs. Ek bly egter steeds wonder: Hy was tog ’n gevestigde skrywer met ’n internasionale aansien. Met twee huise, nie waar nie? Nou blyk die geldnood in die biografie . . .

’n Vurk in die pad word dan bitter gou ’n Vark in die pad (soos ’n woedende literator homself weerspreek het).

Leon de Kock had toegang tot die handgeskrewe joernale, geskryf in die “teenwoordige tyd onvoltooid”. Die laaste eggenoot, Mevrou Brink die Vyfde, het dit aan hom oorhandig en subiet is daar in die kusdorpie waar ek woon, bespiegel of die ander vroue hiermee gediend sou wees?

Skuilname word gebruik om mense te “beskerm”, maar ’n literêre speurder weet onmiddellik wié Angela is, en in hoofstuk 8 (“Verootmoediging”) oor ’n minnares se verbintenis met Brink, word sy as ene Yvonne beskryf. Ook hier wis ek van wie gepraat word en ’n mens kan maar net dink wat Yvonne en Xavier hiervan gaan dink. Dieselfde geld die vierde mevrou Brink waaroor ander mense, lewend en dood, negatiewe kommentaar lewer.

Dat hierdie boek ’n mens help om die skrywer se liefdesobsessies en ambivalensies beter te verstaan, is wel so. ’n Mens kry bepaald insig in ’n komplekse en gedrewe persoonlikheid.

Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor ’n eggenote van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen.

Dit staan tog in die gedigte opgeteken.

Ná die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr. Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: “Dit staan tog in die gedigte opgeteken.”

Helaas nie. ’n Gedig is nie op ’n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012).

Dieselfde geld die joernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid en ’n “naked I” op ’n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in ’n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale. Die beheptheid met seks is reeds in die jeug gewortel en die sublimasie van ervarings en teleurstellings word behendig ondersoek.

’n Mens word as leser ontstel oor ’n jeugervaring met die vader, ’n landdros, se optrede teenoor ’n verskoppeling. Hier word Brink se sin vir geregtigheid gebore wat hy in vele politieke romans sal uitspeel. Die verhouding met die ouers (en die invloed op die skrywer se psige) word helder geteken. Die soeke na die moeder se goedkeuring loop deur sy lewe.

Die kyksug (skopofilie) van die outeur Brink word behandel. Buitelandse resensente se negatiewe kommentaar word geanaliseer; nes die Bad Sex in Fiction-toekenning. Ook die skrywer se onsekerheid oor sy eie vermoëns as skrywer.

Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van ’n vriendin.

As jy lus is vir inluister op die plaastelefoon, is die boek vir jou. Nommer asseblief! Drie lang luie en dis jy. De Kock is inderdaad ’n behendige biograaf: gedistansieerd en analities. En dis pakkend geskryf. Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van ’n vriendin.

Soms is daar ’n voetnoot waar die biograaf sy eie lewe betrek, byvoorbeeld die verwysing na die predikant wat Salomi Louw en Brink in die eg verbind het of in die erkennings.

Die “Brink-tuisargief”, soos De Kock dit noem, is deur onderhoude en gesprekke verder geredigeer. Jammer vir onooglike setfoute: finansieël (ble. 351, 352, 353), paralelle (bl. 176), Andre (bl. 177), Eugene (bl. 194), potensieël (bl. 198), implikase (bl. 303) Epos (bl. 405), heroïse (bl. 426).

As jy glo dat mense die reg op privaatheid het en daar is iets soos dekorum, lees maar liewers die skrywer se boeke. Want jy gaan ’n hele paar keer stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.

Lewende mense word nou in hierdie kou vasgevang saam met die veelkantige skrywer, Brink. ’n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader. ’n Mens sou dan ’n psigoanalitiese studie, via Janet Malcolm, kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.

Openhartig, onverbloemd en ongehoord. ’n Fuik in die pad?

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.