Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Opregte briewe sonder pretensie, maar met diep lae

Helene Olivier se oënskynlik eenvoudige ‘Briewe uit Brielshoop’ staan in die tradisie van die brief- en plaasroman, maar kring uit tot ’n verbysterend diggeweefde besinning oor die menslike bestaan, skryf Anna Kemp.

Briewe uit Brielshoop deur Helene Olivier. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R220.

’n Mens ys as jy in Helene Olivier se beskeie bedankingswoord lees dié briefroman is uit die asblik gered. Dit sou ’n enorme verlies vir die Afrikaanse – nee, die Suider-Afrikaanse – letterkunde gewees het as Briewe uit Brielshoop nooit verskyn het nie. Hoewel die roman stewig staan binne die tradisie van die brief- én plaasroman, kring dit uit tot ’n diggeweefde besinning oor die menslike bestaan.

Henna Briel, die briefskrywer in die verhaal, erf onverwags ’n plaas buite Brielshoop wat die drome van haar man, die “befaamde ginekoloog” Stone Thorsson, bewaarheid.

Teen die agtergrond van die onstuimige politieke situasie in Suid-Afrika gedurende die 1970’s tot ’90’s begin Henna met die moeisame opbou van dié verwaarloosde familieplaas, Groenpan, en teken alles aan in briewe aan haar “enigste klankbord”, haar “vriendin van baie jare”, Ida.

Uit die briewe leer lesers – ons, die uiteindelik aangesprokenes – Henna ken as ’n skerp, gevoelige waarnemer wat kreatief ervaar en leef, ’n filosoof van formaat. Daarby is sy wyd belese oor kuns en musiek. Prosa, poësie, geskiedenis, filosofie, noem maar op, is as’t ware ingeteel in elke sel van haar liggaam.

Tog kry sy die haas onmoontlike reg: Die briewe is opreg, eenvoudig en gestroop van pretensie en geen aanhaling van ’n gedig of flarde prosa of verwysing na ’n magdom uiteenlopende bronne voel opdringerig of uit plek nie.

Uit die aard van die losser narratiewe struktuur en die (op die oog af) spontane toon van ’n briefroman, kry die leser in één brief dikwels ’n heerlike mengsel van boerderymetodes, kleindorpse politiek, Henna se verhouding met haar komplekse eggenoot, verstedeliking, die Rooi en Swart gevaar, feminisme, genetika, ons plek in die heelal – met daarby verwysings na Plinius senior of Herodotus of “Bylieg” Josephus of Gibbon.

Trouens, die lys van temas wat Henna aanspreek, en waaroor sy besin, dek letterlik elke aspek van leef, die lewe, van bestaan.

Vernaam oor boerdery kan ’n mens heelwat by haar leer. Sy het haar navorsing gedoen, sy luister na die goeie raad van ooms in die kontrei en sy neem self waar. Bees- en skaaprasse ken sy op die punte van haar vingers. Die aanplanting van graan- en grassoorte, waterbeheer, kampbestuur, voorbrande, draadspan en vendusies is haar daaglikse kos.

Sy besin oor kleinboere, kommersiële boerderye, die etiek van diere grootmaak en slagpale toe stuur (self eet sy lank­al nie meer vleis nie) en die boerderymetodes van Suid-Afrika se vroegste inwoners. Sy ervaar die pyn wat natuurrampe – ontydige kapok, uitmergelende droogtes – oor land, dier en mens bring.

Henna raak ook temas aan wat verwant is aan die plaas en boerdery: die hunkering na ’n stukkie grond van jou eie; die “Boplaas” waaroor D.J. Opperman (die “Übermensch van digters”, soos sy hom elders noem) dig; verstedeliking; die kontras tussen stad en platteland.

Hierdeur weef sy die politiek van grondeienaarskap en plaaswerkers (hul armoede en gebrek aan regte) wat die politieke situasie in Suid-Afrika belig: die onreg van ’n nieverteenwoordigende regering, die Grensoorlog, die Totale Aanslag, die patriargale stelsel wat soveel van die onregte onderlê.

Sy beskryf en besin oor familiebande en genetika (ook van diere) en haar skerp blik val ook op sosiale verhoudings tussen mans en vroue, tussen geslagte, tussen rasse.

Verskillende gelowe en kulture word met groot insig en respek hanteer, want die een kultuur se rituele en mites en dwaal- en spookstories is die ander se waarheid.

Ook die verhouding tussen Afrika en Europa deur eeue heen word belig. Sy skenk aandag aan die rol van taal in al hierdie verhoudings: die aanleer van ’n ander se taal, sosiale registers, taalvariante (haar oor mis g’n enkele nuanse nie). Henna se persoonlike taalgebruik is ’n meesterklas in register- en variasiewisseling, en net soos met haar naamgewing aan diere, plase, mense om haar, haarself, haar geliefde man en Ida wat in die briewe aangespreek word, skep sy wêrelde van verwysings en emosies.

Al die drade in dié veelkleurige en digte weefwerk hou Henna (en Helene Olivier) stewig in die hand. So subtiel gaan sy te werk dat die leser bykans nie merk hoe stewig die struktuur van dié brief­roman is nie.

Skynbaar terloopse verwysings na klippe en bome vorm uiteindelik die simboliese ruggraat van die briewe. Henna ervaar ná traumatiese terugslae aan eie lyf die lewegewende krag van klippe. Sy vind vreemde – vroulike en manlike – klippe op haar toevlugsberg op die plaas, wat volgens ’n kenner verband hou met die Hindoe-geloof.

Bome het siele, bewussyn (hulle ween as hulle sterf), hulle kommunikeer, trouens, hulle ís boeke en woorde, hul vallende blare soos bladsye uit ’n boek.

Henna se psigologiese projeksies en fisieke meelewing – haar léwe – word ten nouste geknoop aan hierdie twee simbole. Lesers van Jung (om maar één goue draad uit te lig) sal groot vreugde daaruit put om Henna se psige – onder meer haar drome, haar derde oog en haar obsessie met die drie sirkels op die plaas – aan die hand van hierdie kenner van die on(der)bewuste te bestudeer.

Dante se Inferno en die boek Job in die Ou Testament is nog twee goue strukturerende drade deur die verhaal en deur Henna se emosionele en fisieke ervarings, maar om slegs dié drie uit te sonder voel byna onregverdig teenoor ál die ander.

So kan musiekverwysings net sowel as ’n goue draad tel (Henna se beskrywings van Bach se musiek is van die allermooiste), of haar verwysings na beeldende kuns en uiteraard poësie.

Dit is dan ook gepas dat hierdie merkwaardige roman afgesluit word met ’n gedig van Wilna Stockenström: “Die bome, my vaders en moeders . . . ek slaan my arms om julle, . . . Bly goed wees vir my.”

Briewe uit Brielshoop is een van die beste boeke van die jaar, wat reeds ’n indrukwekkende oes opgelewer het. Dit verdien niks minder nie as vyf (uit vyf) sterre.

  • Anna Kemp is ’n kortverhaalskrywer en ywerige leser van Koringberg in die Swartland.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.