Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ou bewussyn’ is sy muse

Dolf van Niekerk kyk in sy jongste bundel terug op ’n lang leeftyd, skryf Daniel Hugo.

Portrette in my gang deur Dolf van Niekerk. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R150.

Dolf van Niekerk het in 1975 as digter gedebuteer met Karoosange. Dit verteenwoordig ’n hoogtepunt van die minimalistiese vers in Afrikaans. Die bundel Dubbelster verskyn 21 jaar later in 1996. Daarna moet lesers tien jaar wag voordat sy beste versameling verse, Nag op ’n kaal plein, die lig sien. Dit bevat ontroerende en soms onthutsende gedigte oor sy jeugjare op die Vrystaatse dorpie Edenburg, waar hy op 22 Februarie 1929 gebore is.

Nog twee bundels verskyn, naamlik Lang reis na Ithaka (2009) en Bleek planeet (2013). En nou op die ouderdom van 86 kyk hy op ’n lang leeftyd terug in die beleë bundel Portrette in my gang. In die gedig “Muse” stel hy dit so: “Geheue maak sy vensters oop”. Sy muse is nie net die onderbewuste nie, maar ook ’n “ou bewussyn”.

Vanselfsprekend behels dié bewussyn ook bespiegelings oor die aard van tydsverloop. In die openingsgedig sê hy dat verlede, hede en toekoms saamvloei in “die nou se durende verlede”. Tyd is nie iets lineêrs met ’n begin, middel en einde nie, maar siklies en herhalend van aard. In “Wiederkehr” kom hy tot die slotsom:

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was.

Die bundel verkry ’n besonder hegte eenheid deur die herhaling van woorde en begrippe soos: tyd, gees, siel, syn, logos, onderbewuste, bewussyn, sin, betekenis en geheue. Dit is alles abstrakte begrippe wat dikwels aan die name van bekende filosowe deur die eeue heen gekoppel word: Herakleitos, Plato, Nietzsche, Hegel, Camus, Sartre en ander. Daarmee verraai Van Niekerk sy kennis van die wysbegeerte waarin hy in 1982 ’n doktorsgraad verwerf het. In hierdie verband herinner Portrette in my gang nogal aan Adam Small se laaste bundel Klawerjas.

Van Niekerk het egter nie ’n akademiese loopbaan gevolg nie, maar jare lank by die departement landbou se inligtingsdiens gewerk.

Sy belangstelling in en kommer oor die verwoesting van ons kosbare aarde blyk uit gedigte soos “Swartberg” en “Tablet”. Albei gedigte handel oor die bedreiging wat hidrobreking vir die Karoo inhou. In die laasgenoemde vers tel hy ’n klip op met die fossiel van ’n varing. Sy wens is dat die “taal van die varing uit skeppingstyd / nie Karoo se grafskrif word”.

Dolf van Niekerk Foto: alet pretorius

In die kragtige politieke gedig “Mutant” word die Europeër in Afrika ’n “eurobaster” genoem, wat nie genoeg gemuteer het om hier volledig ingeburger te raak nie. Hy kom dan tot die pessimistiese gevolgtrekking: “Mutasie is bloot oorgang / van arbitrêr ontstaan na ondergang.”

Daarom soek die digter in “Brose reis” sy heil in die onsienlike “dat hy in sy eie diaspora / ’n tuiste vir sy siel sal vind”. Hierdie reëls eggo die slot van “Steppenwolf”: “godheid (is) tuiste vir die uithuisige enkeling”.

In die gedig “Mastos” oor sy moeder wat by sy geboorte gesterf het, beskryf hy haar portret soos dit op die omslag van die bundel afgedruk is. Vir hom is sy onvoltooid en daarom onsterflik. Hierdie gedig en “Verhuising” wat oor die dood van sy vader handel, sluit ten nouste aan by die herinneringsverse in Nag op ’n kaal plein.

Dolf van Niekerk se jongste bundel het ’n ryk verwysingsveld wat die filosofie, musiek, beeldende kuns en digkuns insluit. Digtersfigure wat opduik, is onder andere N.P. van Wyk Louw, Joan Hambidge, G.A. Watermeyer, D.J. Opperman, H.A. Fagan en Adriaan Roland Holst.

In “Burkea Africana” (wildesering) stel die digter homself, ondanks sy gevoel van ontheemding in Afrika, voor as ’n inheemse boom wat vir oulaas opbloei:

Jou laaste asem

was jou laaste blom:

seisoen van ouderdom.

Mag Van Niekerk se digterlike boom nog baie blomme dra.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.