Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Paaie van hoop’ nie sonder duwweltjies

Aanhangers van Nadia Beukes sal dié boek met ’n Christelike strekking geniet, maar dit is nie sonder leemtes nie, skryf Jeanne Henning Els.

Nadia: Paaie van hoop deur Nadia Beukes, soos vertel aan Jana van der Merwe.
Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R170.

Was Nadia Beukes nie taamlik bekend nie, sou hierdie Christelike boek met haar outobiografiese besonderhede en wenke oor lewensvaardighede waarskynlik nie (nou reeds) gepubliseer gewees het nie.

Dié diep gelowige TV-aanbieder en vermaaklikheidskunstenaar is nog maar in haar 30’s en boonop word geen buitengewone besonderhede onthul nie.

Sy sê self naby die einde van die boek haar verhaal is nie uniek nie, maar uniek tot háár lewe en dat dit haar gemaak het wie sy is. Op ’n neerbuigende wyse verseker sy dan die leser: “Net so is jy uniek en is die pad wat jy stap uniek.”

Tog behoort haar aanhangers dit te geniet om die ware Beukes weg van die kalklig beter te leer ken.

Jy ontwikkel deernis met haar: Wie sou kon dink agter hierdie jong vrou met haar dikwelse glimlag lê hartseer en verwerping, soos die meeste mense soms in hul lewe ondervind?

Beukes vertel hoe verwagtinge en drome in haar beroepswêreld en persoonlike lewe nie altyd werklik geword het nie. Nogtans het sy nie moed verloor nie en deurgedruk tot sy weer lig gesien het.

Sy is ook dankbaar oor geleenthede wat sy tot dusver gekry het. En, vertel haar agent, moenie Beukes se vriendelikheid met swakheid verwar nie.

Ook die verteller se pa, die operasanger Rouel Beukes, haar ma, haar man sowel as haar eksman kry kans om van Beukes se bewonderenswaardige eienskappe te vertel.

Sy deel met die leser hoe rowers haar oorval het, dat sy erge depressie gehad het en dikwels die uitdaging het om haar gewig in toom te hou.

Haar eksman het ’n stryd met sy seksualiteit gehad, vertel sy, en nadat hy besef het hy is beslis gay, is hulle geskei. Nogtans het sy dit gewaag om weer te trou en nou is sy gelukkig, saam met die man van haar drome.

Soms hinder herhaalde, weer eens neerbuigende lewenswaarhede, veral dat drome nagejaag moet word en waar kan word. Hier kort ’n stewige redigeerhand.

Die teks sou ook bevredigender gewees het met meer-om-die-lyf-gedagtes van Beukes, pleks dat die leser oorweldig word deur vele aanhalings, van dié van Confucius en die Chinese filosoof Lao Tzu tot Shakespeare, Alba Bouwer en Rick Warren.

Treffend, wel, is die padbeeld in elke hoofstuktitel wat ook deur die teks gevleg word. Soos ompaaie, ’n pap band, padwerke, ’n kruispad, slaggate en die snelweg. Dit gee die emosies van donker tye, maar ook oorwinning veral danksy geloof, ’n visuele atmosfeer.

Voor elke hoofstuk is besonder mooi swart-wit volbladfoto’s van Beukes en op vier ander bladsye sien die leser haar op haar eerste skooldag, op die verhoog, saam met haar ouers en met van haar vriende in die vermaaklikheidsbedryf.

  • Jeanne Henning Els is ’n vryskut-resensent en -rubriekskrywer.
Meer oor:  Nadia Beukes  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.