Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pappa maak dorpslewe hel

Fiksie

Skadukant

Rika Cloete

KWELA, R290

Rika Cloete se Skadukant word as huishoudelike noir bestempel.

Dié subgenre van misdaadfiksie belig as’t ware die donker vertrekke van die huishouding en die gesinslewe: Geraamtes kruip uit die kas. Ouers en kinders kwets. Vriende verraai. Eggenote verruil geborgenheid vir agterdog.

Huis en haard word dus ’n plek van onheil en paranoia pleks van ’n veilige hawe. In Skadukant ontaard die hoofkarakter se leefwêreld in so ’n sielkundige hel.

Deirdre O’Brien woon in die rustige (denkbeeldige) kusdorpie Murraybaai naby Hermanus. Murraybaai se saligheid word egter op gruwelike wyse versteur wanneer die geskende lyk van ’n jong swanger vrou op die strand aangetref word. Die vrou se baarmoeder is klaarblyklik – met fetus en al – verwyder. (Staal jou maar vir hierdie makabere aanvangstoneel. As jy egter onthou dat jy besig is om ’n misdaadroman te lees, kan jy begin om die estetiese aard van die beskrywings te waardeer.)

Wanneer Deirdre uitvind dat sy swanger is, word sý die moordenaar se volgende teiken.

Wanneer Deirdre uitvind dat sy swanger is, word sý die moordenaar se volgende teiken. Die boek handel gevolglik oor Deirdre se fisieke en geestelike foltering aan die hand van die gemaskerde moordenaar, wat homself ironies “Pappa” noem.

Skadukant herinner tematies nogal aan Gerda Taljaard se Kelder (2012). Veral met die grieselige deuntjie van “Siembamba” wat deurentyd in die leser se agterkop speel – Pappa se gunsteling.

Cloete het oënskynlik heelwat navorsing betreffende geestesversteurings gedoen en die verwikkeldhede hiervan is suksesvol tot verhaalgegewe verwerk. Dit kon nie ’n maklike taak gewees het nie.

Sy betrek ook ’n wye verwysingsveld – van die klassieke mitologie tot die kunsgeskiedenis. (Dit help dat die hoofkarakter ’n opgeleide kunstenaar is, want sommige van die belangrikste leidrade en intertekste kan in kunswerke gevind word. Kyk byvoorbeeld uit vir ’n betekenisvolle verband met Gustav Klimt se Danaë.)

Wat veral beïndruk, is die roman se keurige taalgebruik. Die boek is besonder netjies afgerond.

Een punt van kritiek is die wyse waarop Deirdre se uitgesponne interne monoloog, retoriese vrae en bespiegelings dreig om die ou skryfskoolbeginsel van “show, don’t tell” te oortree. Verder is daar enkele melodramatiese uitdrukkings – byvoorbeeld waar suggestie en understatement miskien doeltreffender sou gewees het.

Een ding is wel seker: Skadukant hou ’n mens aan die raai. Halfpad deur die boek het ek redelik selfvoldaan gedink: “Ek het dit! Ek weet wie Pappa is.” Maar ek is bevrees ek het die pot mis gesit. Ek daag jou uit om self die raaisel te probeer opklaar . . .

Neil van Heerden doseer Afrikaanse letterkunde aan Unisa.

Meer oor:  Rika Cloete  |  Skadukant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.