Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Patti se ‘Alice in Wonderland’

Memoires

Year of the Monkey

Patti Smith

BLOOMSBURY, R350

Patricia Lee Smith, sanger, digter, rebel en swerwer, gebore 30 Desember 1946, staan op die rand van haar 70ste verjaardag. In Year of the Monkey, haar derde outobiografie, word sy gekonfronteer met die onverwagse verlies van ’n goeie vriend, die siekte van ’n ander en haar eie verganklikheid.

Op 1 Januarie 2016, ná afloop van ’n reeks Nuwejaarskonserte in San Francisco by die befaamde Fillmore, staan sy onder die imposante naambord van die Dream Inn in Santa Cruz en begin haar soektog na wat droom en wat werklikheid is.

Enkele aande tevore word Sandy Pearlman bewusteloos aangetref in ’n parkeerarea in San Rafael en beland in ’n koma. Sandy, saam met wie sy na die Nuwejaarskonsert Santa Cruz toe sou ry om by ’n spesiale, geheime taco-restaurant middagete te eet. Sandy, saam met wie sy heen en weer oor die Golden Gate-brug gery het met Wagner, The Doors en The Grateful Dead druisend in hul ore.

Sy besef dat haar teenwoordigheid langs Sandy se hospitaalbed geen verskil gaan maak nie en sy begin haar reis.

Die oorweldigende hulpeloosheid en frustrasie omdat sy nie iets vir hom kan doen nie, bedreig haar standvastigheid. Vriende wat een vir een uit haar lewe begin glip, word meteens een van die onvermydelike vrese van ouer word. Daarby lyk dit of haar sielsgenoot, Sam Shepard, besig is om sy stryd teen motorneuronsiekte te verloor.

Sy besef dat haar teenwoordigheid langs Sandy se hospitaalbed geen verskil gaan maak nie en sy begin haar reis. San Francisco, San Diego. Tucson, New York, Kentucky. Lissabon. Santa Ana. Sy eet viseier-spaghetti (“flying-fish-roe spaghetti”) in haar gunsteling-restaurant in Japantown, maak haar voete nat op Venice Beach se strand en val dag ná dag dieper in ’n denkbeeldige Alice-wêreld. Sy ontmoet Ernest, ’n misterieuse Mad Hatter-figuur met ’n Roberto Bolaño-obsessie wat telkens verskyn, verdwyn en êrens tussen droom en realiteit leef.

Moenie onder die illusie verkeer dat hierdie memoires jou ’n logiese, chronologiese weergawe van ’n jaar in Patti Smith se lewe gaan wys nie. Haar introspektiewe, soms melancholiese, interpretasie van die alledaagse en die unieke manier waarop sy dit uitbeeld, sal jou wel fassineer. Sy verhef die gewone tot byna surrealistiese droomstatus.

Year of the Monkey is sowel die joernaal van ’n gesoute reisiger as ’n ondersoek na tyd en sterflikheid. Daar is geen gelukkige einde nie. Die enigste gevolgtrekking is dat ons nie kan ontsnap van die realiteit deur onsself te verloor in ’n droom of in die verlede nie. Alles verander en vergaan; dis hoe die wêreld werk.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.