Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Paul knoop al die drade styf vas

Dryfhout

Chanette Paul

LAPA, R260

Dryfhout is die vyfde en laaste boek in Chanette Paul se Gys Niemand-reeks. Ander titels in die reeks is Springgety, Fortuin, Boheem en Meetsnoer.

Dié herdruk (die eerste druk was in 2011) trek die leser vanaf die eerste woord in die storie in. Gys Niemand en Faantjie Fortuin moet weer vernuftige speurwerk doen om grieselrige moorde op te los.

Die legende van die vloek van die visvrou van Kruisbaai loop soos ’n styfgespanne snaar deur die storie. Aengel Rousseau soek antwoorde oor dinge wat byna twee eeue gelede gebeur het. Dinge wat tot vandag toe nog ’n misterieuse uitwerking op haar en die mense naby aan haar het.

Verhoudinge staan as sentrale tema in die boek en die karakters is ineengevleg soos ’n fyn verweefde spinnerak – wat die een raak, het noodwendig ’n uitwerking op die ander.

Tussen al die intriges deur is daar ook tyd vir humor, opvlieënde humeure en rooiwarm liefde. Die verhaal het ook sy stiller oomblikke waar die leser voel hy kan asem skep voor die volgende brander oor sy kop breek. Soos hier: “ ’n Rukkie lank drink Aengel die geluid van voëls en die gemurmel van die Heuningrivier in, stap dan na die kerkie en gaan die koel skemerte binne. Die brandglasvensters gooi juweelkleure teen die klipmure en op die klipvloer. Dit voel asof sy aan die binnekant van ’n gewyde kaleidoskoop beland het.”

Die leser word deel van die storie en jy wil-wil jou neus toedruk wanneer jy lees: “Die grot stink benoud na dassiemis en manspie. En iets visserig.”

Voeg hierby die eb en vloei van ’n onstuimige see, die belofte van ’n verlore bruidskat en arikreukel wat versteende seedrolle genoem word, en die leser wens heimlik die verhaal kry nooit einde nie.

Paul slaag daarin om in Dryfhout soos ’n visserman van ouds al die draadjies in haar net meesterlik vas te knoop.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.