Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Paul se gróót storie verlei die leser

Chanette Paul het bekendheid verwerf as ’n skrywer van romantiese fiksie en historiese liefdesverhale, genres waarom ek ’n wye draai loop.

Gelukkig het dit haar klaarblyklik ook begin verveel, want nou skryf sy lékker boeke. Met Offerlam, haar 41ste boek (maar die eerste een wat ek lees) het Paul my gaan staan en verlei.

Hier het sy ’n gróót storie aangepak, wat strek oor drie generasies en drie lande (Suid-Afrika, België en die Kongo, soos dit toe geheet het).

’n Mens weet van die begin af wie die goeie en wie die slegte ouens is, en ’n mens raai eintlik ook al vroeg in die boek watter geheime weggesteek word.

Die spanning en lekker lees spruit uit die feit dat jy vrek nuuskierig is oor hoe die karakters bymekaar gaan uitkom, wat hulle motiveer en hoe hulle gaan reageer op die onthullings wat op hulle wag.

Ek weet nie hoe ’n skrywer dit regkry om tegelyk voorspelbaar en onvoorspelbaar te wees nie, maar Paul doen dit hier, en dis heerlik om so mee geflankeer te word.

Die sage wentel om Caz Colijn, ’n 53-jarige Suid-Afrikaanse vrou met ’n ongelukkige geskiedenis.

Sy word onverwags België toe ontbied waar haar ma, van wie sy dekades al vervreemd is, op sterwe lê.

Daar wag sommer klomp onaangename verrassings op Caz in België. Ou wonde word oopgekrap, sout word daarin gevryf, en die bloed begin vloei . . . Caz kry egter ook die kans om haar ware herkoms na te speur en te probeer uitvind hoekom haar dogter so ’n eksotiese voorkoms het.

Dit alles terwyl die Belgiese polisie haar as ’n verdagte in die moord op haar suster hanteer.

Wat Caz ook nie weet nie, is dat ’n paar bose Kongolese intens belangstel in wat sy uitvind.

Meer wil ek regtig nie verklap nie, behalwe om te sê daar is ook ’n lang, eensame professor wat teen sy sin in Caz begin belangstel.

In dié lekker mengsel het Paul ook ’n tikkie Afrika-mistisisme en ’n sak vol diamante gegooi, en asof dit nie genoeg is nie, neem sy jou ook op ’n reis deur België.

Die boek het regtig vir my ’n unieke stem. Die taalgebruik voel plek-plek ietwat outyds – ek verbeel my dis ’n Vlaamse invloed – maar dit werk goed. Die manier waarop die stokstywe Belge deur Suid-Afrikaanse oë aanskou word, slaag uitmuntend omdat dit met fyn humor en deernis gedoen word.

’n Nederlandse vertaling van Offerlam word oorsee bemark, en ek hoop van harte dis ’n wegholsukses want hierdie is ’n uitvoerproduk waarop ons almal trots kan wees.

Offerlam se einde is regtig net ’n pouse in die aksie, ’n plekkie van tydelike verligting. Die booswigte is nog steeds op vrye voet, en sekerlik is daar groot fout met Caz se dogter se kêrel.

Ek voorspel hy gaan ’n belangrike karakter in die tweede boek wees. Daar is ook Caz se penarie met die diamante wat sy nog moet oplos.

En natuurlik móét Caz en die lang professor bymekaar uitkom. Ek wag dus in spanning vir die tweede deel, Offerande, se ink om droog te word. Ek gaan dit sommer vooraf bestel.

* Helen Schöer is redakteur van Baba & Kleuter.

Meer oor:  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.