Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
PEN Amerika kap Handke se Nobel

Die skrywersorganisasie PEN Amerika het die Sweedse Akademie se besluit om die 2019 Nobelprys vir letterkunde aan die Oostenrykse skrywer Peter Handke toe te ken, skerp veroordeel.

Peter Handke Foto: Getty Images

Die organisasie se president, Jennifer Egan, skryf in ’n mediaverklaring dat PEN Amerika nie gewoonlik op ander instellings se literêre pryse kommentaar lewer nie, maar sê dat Handke en die toekenning van die Nobelprys aan hom ’n “uitsondering” hiervoor is.

“Ons is verslae oor die keuse van ’n skrywer wat sy stem in die openbaar gebruik het om historiese waarhede te ondermyn en wat gravitas gee aan die plegers van volksmoord, soos die voormalige Serwiese president Slobodan Milosevic en die Bosnies-Serwiese leier Radovan Karadzic.”

Egan skryf die organisasie is sedert sy 1948-manifes daartoe verbind om sy voet dwars te sit oor “vals publikasies, doelbewuste onwaarhede en die verwringing van feite”, asook om “alle haat te verdryf en om die ideaal van ’n mensdom na te streef wat almal gelyk is en in vrede saamleef”.

“Ons verwerp die besluit dat ’n skrywer wat aanhoudend deeglik bevestigde oorlogsmisdade bevraagteken het, dit verdien om vir sy ‘linguistiese vernuf’ vereer te word.

“Die literêre gemeenskap verdien beter, veral in ’n tyd van toenemende nasionalisme, outokratiese leierskap en wydverspreide disinformasie die wêreld oor.

“Ons betreur die (Sweedse Akademie) se keuse.”

Egan se verklaring is gepubliseer kort nadat die akademie Donderdag die 2018- en 2019-prys aan onderskeidelik die Poolse skrywer Olga Tokarczuk en Handke toegeken het. Die akademie, wat uit 18 paneellede bestaan, moes die 2018-prys met ’n jaar uitstel nadat ’n rits interne en eksterne skandale tot agt bedankings uit die akademie gelei het.

Die erkenning aan Tokarczuk is wyd geloof. Volgens The Irish Times het die Pool gesê sy is “bly” Handke het ook gewen.

“Ek stel hom hoog op prys. Dis fantasties dat die Sweedse Akademie ’n waardering het vir literatuur uit Sentraal-Europa,” het sy gesê.

Die Brits-Indiese skrywer Salman Rushdie, wat Handke in 1999 'bekroon' het as naaswenner vir 'internasionale idioot van die jaar', het sy destydse stelling beaam.

Ander skrywers het egter PEN Amerika se sentiment beaam. Die Brits-Indiese skrywer Salman Rushdie, wat Handke in 1999 “bekroon” het as naaswenner vir “internasionale idioot van die jaar”, het sy destydse stelling aan The Guardian beaam.

Die Brits-Indiese skrywer en joernalis Hari Kunzru het Handke beskryf as ’n “goeie skrywer wat wonderlike insig met skokkende etiese blindheid kombineer”.

Volgens The Washington Post het die 76-jarige Handke, wat bekend is as skrywer van onder meer The Goalie’s Anxiety at the Penalty Kick, The Left-handed Woman en as draaiboekskrywer van die rolprent Der Himmel über Berlin (Wings of Desire), Serwiërs bedank wat hom met sy Nobelprys gelukgewens het.

Die skrywer het in Serwies op die Serwiese openbare uitsaaier gesê hy gaan die prys met Serwiese brandewyn en ’n glas witwyn vier.

Meer oor:  Boeke  |  Nobelprys  |  Nobelprys Vir Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.