Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pen maak hier van papier ’n towertapyt

Openbare domein

Daniel Hugo

NALEDI, R175

Poësie

Openbare domein is ’n bundel van vreugde in die onmiddellike, in lugkastele bou en jou te verbeel jy is Tolstoi wat uitkyk oor jou landgoed, skryf Marius Crous.

In die 1960’s het die omgewing van Kirchstetten in Oostenryk W.H. Auden geïnspireer om sy bundel About the House te skryf, waarin hy die aanpassing by sy nuwe habitat en die huis wat hy daar gekoop het, verwoord.

Daniel Hugo se jongste bundel het my Auden laat herlees en veral sy siening oor die sterflikheid en die verganklikheid van die mens, midde-in so ’n Arkadiese bestaan. In “Lament” skryf Hugo oor “die dood met sy dreigement” wat hom daagliks bedreig.

Hugo se gedigte fokus op sy lewe in Prins Albert en soos die foto voorop suggereer, word die leser as ’t ware uitgenooi om oor die onderdeur by die huis te kom inloer.

Tog waarsku die digter “alles wat rym” staan hy aan die openbare domein af, maar “die ongerymde vers bly versweë”.

Met sy jongste gedigte sluit Hugo aan by sy voorgangers wat die skoonheid van die Karoo beskryf. Vir hom is die Karoo “die onmeetlike ruimte / van dié ruwe aardklip en sy sterrewoesteny”; van “grootse kleuretinte” of van die winter met sy “klappertand”-gesprekke in ’n “onverhitte huis”.

Ek is altyd verwonderd oor hoe vormvas Hugo kan dig en hoe vernuftig hy die regte rymwoord opspoor. Volgens hom is die “rym se klingel-klangel” ’n poging om die dood te besweer, maar daar is ook ’n goeie skeut nugtere selfrelativering by hom. Oor die gebreke van Afrikaans as digterstaal skryf hy in “Klaaglied”:

Afrikaans het ’n agterlike grammatika:

Elke sin moet eers by jou bedel om ten slotte

’n werkwoord te kry, en dan gooi jy soms nog

’n tweede “nie” soos ’n ou skoen agterna

Hugo tree nie net in gesprek met ander digters en kunstenaars nie, maar ook met van sy kritici, wat byvoorbeeld aanvoer dat gedigte oor die liefde en liefdesverklarings nie in die openbaar gemaak word nie. Veral die gesprek met sy mentor D.J. Opperman is ’n deurlopende motief in die bundel. Nie net tree hy in gesprek met klassieke Opperman-gedigte nie, maar herdig hulle ook in eietydse idioom.

Hugo tree in gesprek met ander voorgangers soos Han- Sjan, Hennie Aucamp en Phil du Plessis. Die lykdig oor Aucamp het as subtitel, ’n skrywer wat nooit leer tik het nie. Ironies, want Aucamp was een van die bedrywigste skrywers in Afrikaans – en alles is met die pen geskryf.

Hugo speel vernuftig met die idee van die pen se veerkragtigheid en die byna magiese wyse waarop die pen van die papier ’n towertapyt kan maak. Roerend is die gedig oor die digter-dokter Phil du Plessis in sy “lendelam huis langs die onsterflike see”.

Openbare domein is ’n bundel van vreugde in die onmiddellike, in lugkastele bou en jou te verbeel jy is Tolstoi wat uitkyk oor jou landgoed.

In die flapteks word die leser meegedeel dat dit nie “ ’n swaarwigtige bundel” is nie, selfs al staan dit in die teken van elegiese besinning en nabetragting. Het iemand al ’n studie gedoen oor flaptekste? Al probeer tel hoeveel keer bundels hoogtepunte in iemand se oeuvre genoem word? Of word sekere kritici se name juis genoem om voornemende resensente te waarsku: Ek vind dit goed, so moenie van my durf verskil nie!

Daar is heelwat satiriese momente in die bundel en dis nie net beperk tot figure om Hugo nie. Hy spot heelwat met homself en noem byvoorbeeld dat sy proefskrif oor vernufs­poësie en sy antologie speelse verse hom verstrik – en etiketteer. Of hy vergelyk homself met ’n wesp wat glo te venynig is teenoor ander digters.

Soos die geval met die meeste lesers, verwys Hugo in “Selfportret” na die boekrak op die agtergrond van skrywersfoto’s wat vir hom belangriker is as die “genie se beroemde bakkies”. Die selfspot kom ook ter sprake wanneer die digter op die foto soek na sy eie boeke op die rak. Dikwels gebruik hy ’n vergrootglas, maar kom bedroë daarvan af.

Sterflikheid en verganklikheid word in hierdie bundel ook van betrekking gemaak op Afrikaans as skrywerstaal. “Winternag” met sy evokatiewe oproep van assosiasies met Marais, sluit hy soos volg af:

... die duisternis daal

oor my, Marais, Totius en Trantraal

’n Mens sou dit seker ook kon lees as die einde van ’n manlike tradisie in die Afrikaanse digkuns van die vroegstes tot nou toe. Lees ’n mens die gedig saam met “Vakuum”, kom jy tot die slotsom dat dit eerder gaan oor die taal se verdwyning, want ’n halfeeu van nou af gaan “mense sonder ’n taal” van sy digters vergeet.

Openbare domein is ’n bundel van vreugde in die onmiddellike, in lugkastele bou en jou te verbeel jy is Tolstoi wat uitkyk oor jou landgoed.

Miskien had Auden tog ’n punt beet toe hy gesê het dat goeie gedigte altyd ontstaan in ’n staat van melankolie.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die NMU in Port Elizabeth.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Poësie  |  Boekresensie  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.