Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Petro Hansen 'Vervleg' haar werk in bundel saam
Vervleg, ’n keur uit die rubrieke van Petro Hansen, deur Protea uitgegee.

Sy wil stories skryf wat die lesers as hul eie sal ervaar, sê die rubriekskrywer Petro Hansen oor Vervleg, ’n keur uit haar Beeld-rubrieke wat onlangs deur Protea uitgereik is.

“Iets moet hulle raak,” sê Hansen.

“Ek het ’n rubriek geskryf oor ’n seun in die tronk – en ’n pa wat sy seun (ook in die tronk) afgeskryf het, het dieselfde dag wat hy my rubriek gelees het, sy seun gaan besoek. So iets raak my. Lesers het my al laat weet wanneer iets in hul harte kruip.”

Hansen, wat sedert 2012 vir Beeld en Die Burger rubrieke skryf, is in 2018 deur die Cordis Trust met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie bekroon vir haar bydrae tot Afrikaans, “omdat sy die kuns vervolmaak het om sinvol te skryf oor die mense en alledaagse stories van die gewone lewe”.

Hansen takel dikwels in haar skryfwerk onderwerpe soos afskeid, nostalgie, heimwee en humor.

Daarom het sy ook op die titel Vervleg besluit.

Petro Hansen

“Emosies en die lewe is vervleg. Dit is ook die titel van ’n gedig wat ek vir my ma geskryf het. Dit handel oor haar liefde en hoe dit in my lewe vervleg word. Alles loop oor tot emosie.”

Hansen woon in Pretoria en sy het twee dogters en een seun.

In Desember het ’n rubriek verskyn waarin sy die emosies verwoord van hoe dit voel om van ’n plaas afskeid te neem.

“Ek word baie deur my omgewing beïnvloed. Dit wat jy sien en hoor, die natuur wat jy beleef. Ek sal dit mis om daar (op die plaas) te wees.”

Sy skryf ook oor die digter TT Cloete wat in 2015 dood is.

“Ons het mekaar op die ATKV se Herfsskool in Potchefstroom ontmoet. Sy liefde vir sy vrou was vir my mooi.”

Hansen het haar loopbaan as regsgeleerde begin. Haar oupa het egter altyd gesê dat sy eendag ’n boek moet skryf.

“Ek kan nie fiksie skryf nie. Ek moet self iets ervaar of iemand wat ek ken moes daardeur gaan.”

Die digter TT Cloete en Petro Hansen.

Sy geniet die werk van rubriekskrywers soos Annelie Botes en Dana Snyman.

“Ek dink skrywers moet minder doekies omdraai. Daarom geniet ek ’n skrywers soos Johan Jack Smith se werk baie. Ek sien baie uit na sy roman, Zola.”

* Vervleg word op 24 Augustus in die Protea-boekwinkel in Hatfield, Pretoria, bekend gestel. Die gesprek met Hansen begin om 10:30 vir 11:00.

Die adres: Burnettstraat 1067, Hatfield, Pretoria.

Stuur ’n e-pos voor 19 Augustus aan eddington@proteaboekwinkel.com of bel 012 362 3444 om te bespreek.

* Vervleg word deur Protea uitgegee en kos R180.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Plaas  |  Protea  |  Rubrieke  |  Petro Hansen  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.