Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
PG se nalatenskap Bfn toe - laaste selfie en al

’n Selfie wat die skrywer PG du Plessis kort voor sy dood geneem het, sal deel uitmaak van sy versameling wat aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein geskenk is.

Leana Lategan, hoofvakkundige, sê Du Plessis is vir haar “groter as groot, ’n grootse” Afrikaanse skrywer en Naln is besonder trots om sy hele versameling hier in Bloemfontein te huisves.

Die skrywer, dramaturg en letterkundige PG du Plessis se volledige versameling is aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein geskenk. Hier is Corlietha Swart, voorsitter van die Vriende van Naln, wat gehelp het om die skrywer te oorreed om sy versameling aan die sentrum te skenk, en Leana Lategan, hoofvakkundige, by ’n uitstalling van hom. Foto: Mlungisi Louw

Marie du Plessis het haar man se volledige versameling uit sy studeerkamer op die plaas Sémoér naby Potchefstroom pas na Naln gestuur. Dit sluit boeke, dokumente, fragmente van dokumente, plakkate van sy films, eerbewyse en sy Afrikaanse plateversameling in.

“Dit voel vir my enige navorser wat erns maak met PG gaan regtig kans hê om met (unieke) goed te werk. Ek was nog nooit in sy studeerkamer nie. Op ’n tweedehandse manier kan ek nou in ’n studeerkamer instap en kyk wat was daar en wat was daardie hele leefruimte. Dit is vir my die bonus van die versameling.”

’n Profiel-uitstalling van PG du Plessis gaan gehou word, waarskynlik saam met ’n tema rondom die sestigers of drama en toneel. Hy gaan die middelpunt wees en sy boekery gaan in geheel uitgestal word.

Meer as 10 000 dokumente, eerbewyse, boeke, plakkate en plate maak deel uit van die skrywer PG du Plessis se versameling wat aan Naln geskenk is.Foto: Mlungisi Louw

“PG was vir my groter as groot, hy was een van daardie grootse skrywers. Jy kan letterlik enigiets van hom lees. Van ’n drama wat jy kan lees of gaan kyk, sy kortverhale, sy kort-kort prosa, sy Koöperasiestories, sy televisiewerk, sy radiowerk.”

“Daar is bitter min Afrikaanse skrywers wat hom dit sal kan nadoen, tot op die gebied van die flieks met sy Bles Bridges-fliek. En Nag van die 19de. Dis omdat hy die mens gesien het in sy totaliteit.”

Lategan sê sy dink sy roman Fees van die ongenooides is een van die grootste romans in Afrikaans. En dit is volgens baie kenners se mening.

“Dit is vir my ’n verskriklike voorreg en groot oomblik. Dit is amper soos ’n verhaal wat waar word. Van prof. P.J. Nienaber (stigter) se dae, deur Otto Liebenberg (vorige direkteur), Corlietha Swart (voorsitter van die Vriende van Naln) wat hard gewerk het en die mense wat nog gaan hard werk. Dit is asof dit so ’n halwe droom is wat bymekaar kom.”

Naln hoop om op 14 Julie - wanneer hy sou verjaar - die uitstalling gereed te kan hê en ’n seminaar oor Du Plessis hier te kan aanbied.

Swart sê ’n selfie wat hy in die hospitaalbed geneem het ure voordat hy in ’n koma gegaan en aan haar alleen gestuur het, sal sy met ’n embargo aan Naln skenk.

Meer as 10 000 dokumente, eerbewyse, boeke, plakkate en plate maak deel uit van die skrywer PG du Plessis se versameling wat aan Naln geskenk is.Foto: Mlungisi Louw

PG en sy vrou was die eregaste in 2010 met die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se 40ste verjaardag by Naln. Liebenberg het hom die eerste keer hier gevra dat hy sy versameling aan Naln skenk. Liebenberg en Swart het gereeld by hom hieroor navraag gedoen. Sy het dit ná Liebenberg se dood opgevolg.

“Hy het sleg gevoel oor Otto se dood. Hy het vir my ’n boodskap gestuur: ‘Ek is besig om te vrek hier en jy beter vinnig kom.’ ”

Swart het hom einde Januarie 2017 besoek en ’n onderhoud met hom vir haar doktorstesis gedoen. Hy het vertel hoe hy Nienaber in 1973 help versamel het aan boeke vir Naln.

Hulle het tot lank ná middernag gesels. Net voor sy die volgende dag gery het, het hy die jawoord gegee. “Hy het vir my gesê: ‘Dis reg, my kind. (Dit is) Naln.’”

P.G. du Plessis is op 7 Junie 2017 dood.

Meer oor:  Pg Du Plessis  |  Dokumente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.