Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Plan vir Afrikaans in skole in Lae Lande
Joris CornelissenFoto: Rudolf Stehle

Die Nederlanders Joris Cornelissen en Marc le Clercq het ’n ambisieuse plan om Afrikaans weer in hoërskole in die Lae Lande te laat opklink. Rudolf Stehle het met Cornelissen gesels.

Ondanks sy jeugdige gelaatstrekke is Joris Cornelissen (52) geen groentjie as dit by Afrikaans kom nie.

Dié 52-jarige Nederlander van Utrecht – die seun van ’n Neerlandikus en pa van twee tienerdogters – beywer hom al sowat ’n dekade vir die versterking van die bande tussen Nederlands en Afrikaans. In 2010 was hy saam met Ingrid Scholtz medeorganiseerder van ’n konferensie in Amsterdam oor die belang van Afrikaans-moedertaalonderrig in die opheffing van arm Suid-Afrikaners. In 2011 was hy die oprigter en direkteur van die eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam en tot en met die derde weergawe in 2016 ten nouste betrokke by die reëlings vir dié kunstefees.

Maar dit is alles liefdeswerk wat hy na-ure verrig. Sy brood verdien hy as ’n projekbestuurder in die Nederlandse ministerie van infrastruktuur en waterbestuur. Hy werk in ’n afdeling wat hom toespits op kennis en innovasie. Cornelissen ondersoek tans die inwerkingstelling in Nederland van een van die jongste internasionale ontwikkelings op die gebied van vragvervoer: truck platooning, ofte wel kolonnery in Nederlands. Dit behels dat onbemande vragmotors in kolonnes van drie ry, verduidelik Cornelissen. Die voorste vragmotor “stuur” die kolonne en die agterste vragmotors volg die voorste een se bewegings deur middel van ’n WiFi-verbinding.

Cornelissen is juis vandag in ­
Amsterdam om ’n internasionale konferensie oor die onderwerp by te woon. Hy is geen ingenieur nie, benadruk hy terwyl ons tussendeur aan ons koffie teug. Sy rol behels veral politieke skakeling, plaaslik sowel as inter­nasionaal.

Dit is geen verrassing dat hy hom in dié rol tuisvoel nie. Cornelissen is ’n natuurlike kommunikeerder. Hy praat benewens Nederlands ook Duits en Spaans. Hy het homself ook Afrikaans leer praat en gryp elke geleentheid aan om dit te doen, ook nou. Dis goeie voorbereiding vir sy komende reis na Suid-Afrika, skerts hy.

Hierdie gawe om mense en instansies met mekaar in aanraking te bring sal hom natuurlik ook handig te pas kom in die loodsprojek in skole wat hy wil aanpak saam met die taaladviseur Marc le Clercq, wat byna 30 jaar by die Nederlandse Taalunie gewerk het.

Cornelissen en Le Clercq wil kinders in Nederland en Vlaandere opnuut aan die taal en Suid-Afrika blootstel.

Tot omstreeks die middel 1960’s was Afrikaanse liedjies en gedigte ’n onderdeel van Nederlandse literatuuronderrig in sommige hoër- en laerskole in Nederland, maar weens groeiende weerstand teen apartheid het dit teen die vroeë 1970’s heeltemal verdwyn.

In Vlaandere was ’n kennismaking met Afrikaanse letterkunde tot in die middel 1990’s in talle hoërskole ’n onderdeel van die vak Nederlands, maar deesdae is die aandag aan Afrikaans afhanklik van onderwysers se entoesiasme vir die taal.

“Hulle moet weet dat dit ontstaan het uit Nederlands, sy eie ontwikkeling ondergaan het. Hulle moet bietjie weet oor die maatskaplike konteks van Afrikaans, Suid-Afrika, sy geskiedenis. Hoe klink Afrikaans, wat is die ooreenkomste en verskille met Nederlands.”

Gegewe die ooglopende ooreenkoms tussen Afrikaans en Nederlands sê Cornelissen dit is belangrik dat kinders aan hoërskole in Nederland en Vlaandere ’n mate van kennis opdoen oor Afrikaans. “Hulle moet weet dat dit ontstaan het uit Nederlands, sy eie ontwikkeling ondergaan het. Hulle moet bietjie weet oor die maatskaplike konteks van Afrikaans, Suid-Afrika, sy geskiedenis. Hoe klink Afrikaans, wat is die ooreenkomste en verskille met Nederlands.”

Cornelissen koester egter nie onrealistiese verwagtinge nie. “Dis nie die doel om kinders Afrikaans te leer nie, want ons moet realisties wees, Afrikaans is nie ’n ekonomies belangrike taal vir Nederland en Vlaandere nie. Maar aan die ander kant, hierdie verbintenis vind ons uniek. Ons sê dit moet ’n onderdeel wees van ’n gemiddelde Nederlandstalige kind, dat hulle iets weet oor die bestaan van Afrikaans, die verbinding met Nederlands.”

Cornelissen sê dat dit nie nét oor Afrikaans gaan nie, maar oor ál die variante wat in die Nederlands-Afrikaanse taalfamilie bestaan, insluitend Surinaams-Nederlands of Karibies-Nederlands. “Wat ons wil wys vir die leerlinge is wat die Nederlands-Afrikaanse taalfamilie is en waar die tale gepraat word.”

Die loodsprojek sal gerig wees op kinders tussen 14 en 17 en Cornelissen-hulle mik na vier lesure Afrikaans per skooljaar. “Ons het reeds skole in Vlaandere en Nederland wat belang stel om deel van die loodsprojek te wees. En dan gaan ons net evalueer, jy weet, wat is die behoeftes van die leerlinge, wat is die behoeftes van die onderwysers.”

Die Algemeen-Nederlands Verbond en die Gravin van Bylandt Stichting in Nederland stel reeds belang om die projek te steun en met die publikasie van hierdie onderhoud is Cornelissen en Le Clercq op besoek aan Suid-Afrika, waar hulle samesprekings voer met onder meer die Dagbreek Trust, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Universiteit van Wes-Kaapland, asook met Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir kulturele aangeleenthede en sport.

Hulle hoop om die loodsprojek vroeg in 2019 te implementeer. Sodra hulle die nodige geld ontvang het, sal hulle die lesmateriaal vervaardig in samewerking met onderwysdeskundiges. “Dit moet ’n aantreklike vorm hê. Die inhoud moet aansluit by die belewingswêreld van hierdie kinders.”

Hulle hoop om die loodsprojek vroeg in 2019 te implementeer. Sodra hulle die nodige geld ontvang het, sal hulle die lesmateriaal vervaardig in samewerking met onderwysdeskundiges. “Dit moet ’n aantreklike vorm hê. Die inhoud moet aansluit by die belewingswêreld van hierdie kinders.”

’n Digitale formaat sal oorweeg word omdat dit relatief goedkoop is en makliker om die materiaal mettertyd te verfyn, sê hy.

Die twee here sal met hul besoek aan die land ook ’n ander saak aanroer. “Die afgelope tien jaar was daar allerlei projekte rondom Afrikaans, soos die Festival voor het Afrikaans, die Week van de Afrikaanse Roman. Jy het die Sentrum vir Afrikaans in Gent wat baie aktief is. Dis alles volhoubare inisiatiewe. So jy kan tot die gevolgtrekking kom dat iets aan die gebeur is, maar nie baie vinnig nie. Wat kortkom, is ’n lobby-rol vir Afrikaans hier in die Lae Lande.”

Om hierdie leemte die hoof te bied wil Cornelissen en Le Clerck die Afrikaanse Taalraad (ATR) se goedkeuring kry om as amptelike verteenwoordigers van dié Afrikaanse sambreelliggaam in die Lae Lande op te tree.

Dit sal hulle meer bedingingsmag gee wanneer hulle Nederlandse en Vlaamse organisasies nader om oor die bevordering van Afrikaans te gesels, sê Cornelissen.

Hy benadruk dat hulle ’n ondersteuningsrol vir die bestaande organisasies soos die Zuid-Afrikahuis en Sentrum vir Afrikaans wil vertolk en nie met hulle wil meeding nie.

Hulle sal veral bewusmaking doen en as skakel dien tussen die onderskeie organisasies wat hulle vir nouer samewerking tussen Nederlands en Afrikaans beywer, maar hulle sal ook aan die politieke front onder die vaandel van onderwys vir Afrikaans voorbrand maak.

“Uiteindelik moet daar iemand wees wat namens almal met die politici kan gesels. Ek en Marc le Clercq wil self hierdie rol vervul. Marc het ’n baie groot netwerk, veral in die onderwyswêreld, ook in Suid-Afrika en internasionaal. Ek het ook ’n taamlik uitgebreide netwerk in Suid-Afrika en ook in Nederland en Vlaandere.”

Een van die groot uitdagings is om die politieke grond voor te berei vir ’n moontlike verandering van die Nederlandse Taalunie (NTU) se beleid om ook uiteindelik Afrikaans in te sluit.

Dié staatsliggaam van Nederland, Vlaandere en Suriname se statute maak slegs voorsiening vir die bevordering van Nederlands.

“Die NTU sal ’n baie kragtige organisasie wees in die toekoms om enigiets te doen wat verband hou met die samewerking tussen Afrikaans en Nederlands.”

Verandering sal egter nie oornag gebeur nie, dis ’n proses, sê Cornelissen, en dít is waar die voorspraakrol baie belangrik is.

’n Meer entoesiastiese vaandeldraer vir Afrikaans in die Lae Lande as Joris Cornelissen kan ’n mens jou kwalik voorstel. Die Afrikaanse gemeenskap kan sy hoed agterna gooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.