Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Platteland, punk en voorlopers van Voëlvry

Die musiekpromotor Carsten Rasch se memoires is ’n boeiende tydsdokument oor die musiek-makers wat hulle in die 1980’s verset het teen die NP-regering, skryf Theunis Engelbrecht.

Between Rock & a Hard Place: A Memoir deur Carsten Rasch. Uitgewer: MF Books. Prys: R240.

In 1983 besluit die musiekpromotor Carsten Rasch hy gaan die platteland met punkmusiek wakker skud. Hy reël ’n optrede vir die groepe Noggin, No Exit en Da Measles in Klerksdorp, maar besluit dit sal veiliger wees om vir die munisipaliteit te sê hy wil die stadsaal huur vir ’n “verskeidenheidskonsert”.

“ ’n Verskeidenheidskonsert?” vra die Afrikaanse tannie agter die toonbank. “Met towenaars, goëlaars, hipnotiseurs en so aan?”

Rasch had nie die vaagste benul wat ’n goëlaar is nie, maar sê: “Juis, mevrou – en musiek natuurlik.”

Wat daarna gebeur, kon Rasch en die musikante nie in hul wildste drome voorsien nie en ek kan dit ongelukkig ook nie hier uitlap nie – om nie eens te praat van die vertoning met Noggin en The Elementals (later Ella Mental) op Louis Trichardt nie.

Toe hulle daar aankom, tref hulle ’n “Whites only”-kennisgewing op die voordeur aan en agter die kroegtoonbank middelbladfoto’s uit Scope, bokkoppe, ’n tou met vrouebroekies en bra’s en boeremusiek op die CD-speler. Die tafel was gedek vir ’n allerheerlike spektakel soos iets uit The Jerry Springer Show. En dis maar twee van die letterlik honderde lekkerlees-episodes in dié boek waarin die werklikheid immer vreemder as fiksie is.

Between Rock & a Hard Place is die memoires van die musiekpromotor Carsten Rasch, wat toevallig agtergekom het hy kan ook goed tromme speel en karate doen – iets wat hom goed te staan gekom het toe ongure karakters sy sexy sangeresse se lewe in gevaar gestel het.

Die boek speel af in die 1980’s en is op een vlak ’n tydige dokumentering van ’n dekade waarin Suid-Afrikaanse rock, punk en new wave ’n opbloei beleef en opwindende musiek en musiekmakers opgelewer het – musikante wat nie bang was om te eksperimenteer met nuwe klanke en style nie, maar ook in hul lirieke vreesloos uitgevaar het teen apartheid en die destydse Nasionale Party-regering.

Suid-Afrika het toenemend ’n polisiestaat geword en ’n mens besef nogmaals watter belangrike bydrae musikante gelewer het om grense te verskuif en mense se koppe oop te blaas.

The Cherry Faced Lurchers, James Phillips, Malopoets, Asy­lum Kids, Peach, Wild Youth, Safari Suits, Amampondo, National Wake, Dog Detachment, Dread Warriors, Corporal Punishment, Illegal Gathering, The Dynamics, Nothing Personal, Riot Squad, Falling Mirror, The Aeroplanes en The Softies en heelwat ander het die tafel gedek vir die Afrikaanse rock van Voëlvry wat kort daarna gevolg het.

Op ’n ander vlak lees die boek soos ’n padrit-verhaal wat ’n mens ’n boeiende blik gee op die maatskaplik-politieke werklikhede van verskeie Suid-Afrikaanse stede en dorpe van dié tyd. Bo en behalwe die uiteenlopende eksentrieke karakters beskryf Rasch ook die optrede van die destydse polisie op so ’n manier dat dit regtig snaaks is vir die leser, al was dit sekerlik nie vir die betrokkenes nie.

Rasch was ook betrokke by groot musiekfeeste en musiekklubs en sy beskrywings daarvan laat dit voel of ’n mens self daar is. Hy vang die tydsgees sekuur vas, genadiglik sonder enige van die selfverheerliking wat ’n mens van ’n musiekpromotor sou verwag.

Between Rock & a Hard Place is besonder mooi uitgegee met ’n klomp foto’s – ek kon dit gewoon nie neersit nie. Rasch skryf net so goed soos wat hy tromme kan speel of karate kan doen en ek hoop dié boek is die eerste van vele.

Op die voorblad verwys Rian Malan na die mense in dié memoires as “beautiful losers”, maar ek stem nie saam nie.

Is ’n mens ’n verloorder as jy nie ’n kommersiële sukses is nie?

Allermins.

Hierdie karakters is almal wenners: Hulle was nie bang om hulself te wees en ’n egte Suid-Afrikaanse identiteit te probeer vind toe die destydse bewind mense verdeel en gebreinspoel het om skape te wees wat nie vir hulself kan dink nie.

Hul musiek het opwindende nuwe dimensies oopgemaak en hulle het hulle verset teen onreg, vervlakking en verdomming.

Al het heelparty sedertdien soos komete verskiet, beteken dit nie hulle was “verloorders” net omdat ons nou nie meer van hulle weet nie.

Dit is waarom boeke soos dié so belangrik is: Dit sou ’n skande wees as ons van hulle vergeet.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.