Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Plek van die bobaasvertellers

Poem Mooney wil met Stories uit Lap iets nalaat oor die wel en wee van die plek wat hy as kind geken het, skryf Marlene Malan.

Sy “nawelstring” lê in Prins Albert in die Groot-Karoo begrawe, vertel die Oudtshoornse skrywer en digter Poem Mooney in sy nuwe boek, Stories uit Lap: Die ontstaan van Prins Albert, wat pas verskyn het.

’n Familiefoto van die Balies en hul kleinkinders. Foto: Stories uit Lap (Poem Mooney)

Dit is ’n welkome toevoeging tot sy oeuvre, ná sy twee digbundels, Ons skilder met woorde en Kringe om die maan, en sy boek met vertellings, Klink soos ’n klok.

Mooney sê met Stories uit Lap wil hy iets nalaat oor die wel en die wee van die plek wat hy as kind geken het. “Ek wil graag ’n bydrae maak tot die wedergeboorte van my dorp,” sê hy. Dié kaptein van die Attakwas, bekend as een van die land se groot storievertellers, sê hy vermoed dis waar hy dié talent gekry het. “Prins Albert is ’n plek van skrywers, beeldende kunstenaars en musikante.

Ek hou van stories oor dwaalgoeters – die gees wat in die warrelwind skuil.

“Hier was nog altyd bobaasstorievertellers. Hulle kon stuk sny soos niemand anders nie. Hierdie spesiale gawe om enige storie lewe te gee, is ’n ingebore talent van alle Khoi-Khoi en San-Afrikane. Die gawe om enige gehoor te boei, is ’n kuns wat van binne af kom. Die meeste stories is rondom staanvure vertel. My ouma was ’n gebore Willemse en haar broers en skoonsusters was veeposmense. Ek het geweet hulle kon onophoudelik stories vertel en musiek maak. Boetie Jan, Boetie Piet, Boetie Isak en Boetie Dawid.”

Spookstories is veral gewild, sê hy, soos die storie oor Horrietang, oor mensvreters en oor die vrou wat mense verlei en hulle agterna in klippe verander.

“Ek hou van stories oor dwaalgoeters – die gees wat in die warrelwind skuil, en as jy agterna hardloop en jy gooi ’n haakspeld in die middelste deel van die wind, dan sal jy die gees sien. Maar ek wou dit nooit doen nie, ek was te bang vir hierdie rondomtalie-wind en die gedrog wat heel waarskynlik binne-in die spiraal skuil.”

Pa Koenraad Phillipus Mooney en ma Maria Magdalena Mooney née Balie.
Lank voordat kunstenaars en skrywers Prins Albert as die skuilbos teen die gejaagdheid ontdek het, het Hekkie Moos al sy kunswerke oor die omgewing gedoen deur met rolpuntpenne te eksperimenteer, later pastelle en waterverf.

Mooney vertel van die musikante van die omgewing, dat Prins Albert sy eie kwota unieke musikante opgelewer het.

“Soos oom Plekkie Water, die kitaarspeler, wie se regte naam oom Booi Mei was. Sy musiek het ’n klomp stories in my losgemaak. Ek het destyds al geweet ons het ’n komvandaan wat skrik vir niks.”

En dan is dit die dorp van die bekende kunstenaar Hekkie Moos.

“Lank voordat kunstenaars en skrywers Prins Albert as die skuilbos teen die gejaagdheid ontdek het, het Hekkie Moos al sy kunswerke oor die omgewing gedoen deur met rolpuntpenne te eksperimenteer, later pastelle en waterverf. Die dag toe Hekkie hier aangekom het, het die dorpie veel ryker geword. Hy trou toe met die aanvallige Glenda Sawyers, en 55 jaar later skilder die twee steeds saam aan die palet van die lewe.”

Mooney, wat die onderwys as loopbaan gekies het, is in 1942 in Prins Albert gebore en vernoem na sy oupa, Gert Petrus Jakobus Balie, ’n steenmaker van beroep.

“Dit was nog altyd my droom dat iets moois sou verrys uit die oorblyfsels en versande fondasies wat eens op ’n tyd huise was, waar Nuwerus, die Rooikamp en die bos en ander kleurlingwoonbuurte eens op ’n tyd gepronk het.”

Hy het Stories uit Lap geskryf as ’n optekening wat onbeskaamd praat oor herkoms en inheemsheid, oor “die oue en die nuwe, oor wedergeboorte, herlewing ná stormagtige tye soos droogtes, oorloë, die griep-epidemie van 1918 en die gedwonge verskuiwing en apartheid wat die gemeenskap van Prins Albert nadelig geraak het – hoe die inwoners, ondanks dit alles, ’n weeropbloei beleef het.”

Hekkie Moos, bekende kunstenaar van Prins Albert. Foto: Stories uit Lap (Poem Mooney)

Die boek bestaan uit 37 hoofstukke wat insluit: Grotte, skuilgate, bakkranse, KhoiKhoi-krale; Ontstaansgeskiedenis van Prins Albert; Bou van die Swartbergpas; Die invloed van dwangarbeid op Prins Albert se nasate; Die Balies van Palmietfontein; Kruie en kruiegenesers; Oom Plekkie Water; Mister Makkie; Oom Dan Rank se kleremakerswinkel; Oom Samuel Delport; Stories uit Lap; en Kleurryke karakters van Prins Albert.

Vir Mooney is dié dorpie sy erflating. “Baie mense het my as kind help vorm, onder andere tant Lettie Wicomb, oom Gerrie Botes en tant Hannie April. Prins Albert vul my met ’n ongekende heimwee oor wat was. Dis ’n dorp met ’n geskiedenis wat altyd deel sal wees van my lewensloop. Dis ’n dorp wat presteerders en sakemanne en vakmanne opgelewer het – kleremakers, skoenmakers, rietdak-dekkers.”

“Lap” is Prins Albert se troetelnaam, sê hy, waarskynlik omdat die omgewing uit die lug lyk soos ’n lappieskombers, met sy berge en landerye, sy Karoo-droogheid en bossieveld.

“Daar is so ’n joligheid gekoppel aan die naam. So noem Beaufort-Wes se mense hul dorp ‘Bowa’. Fraserburg se inwoners praat van die ‘Burg’. Sutherland se kinders en inwoners sê altyd: ‘Ons gaan ’n bietjie Land toe’. Calitzdorpers praat van ‘Kallie Klip’. Dié name word altyd gesê met ’n borrelende blydskapsgevoel.”

Sy liefde vir die skryf van memoires en poësie het hom tot selfontdekking gelei, vertel Mooney.

Lap” is Prins Albert se troetelnaam, sê hy, waarskynlik omdat die omgewing uit die lug lyk soos ’n lappieskombers, met sy berge en landerye, sy Karoo-droogheid en bossieveld.
Poem Mooney Foto: Marlene Malan

“Hierdie ingeskapenheid het as padkaart gedien en my op simboliese reise geneem. Dis begaafdhede wat vandag nog betroubare padwysers is waarop ek kan staatmaak. Ek het eerlik geskryf oor ons mense en die Karoo. Hierdie regte, egte Karoo-diamante het ’n eiesoortige lotsgebondenheid. Gekomde mense het ’n geskiedenis van ontkenning, miskenning en verwerping. Dis ’n volk met ’n verlede wat hulle hardnekkig uitspreek teen dit wat hulle ontneem is – herkoms, godsdiens, kultuur en taal.”

En dis veral oor die ontneming van eie moedertaal waaroor hy in Stories praat:

“Die eie moedertaal, ’n gemarginaliseerde taal wat nou deur die eerste spreker teruggewen word. Ek weet wat word van mense wat van hul taal ontneem word. Ek weet ook van die moedersmelksprekers wat ’n verlede as brugtaal help skep het. Vandag is ek ’n trotse gebruiker van Afrikaans, en onbeskaamd besig ek dit met gesag.”

  • Stories uit Lap: Die ontstaan van Prins Albert, uitgegee deur Kreativ SA, met die ondersteuning van die Fransie Pienaar-museum. Prys: R200. Bestel by poemmooney11@gmail. com.
Meer oor:  Prins Albert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.