Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pluk ’n storie van die lyf

'Lyfskap’ is ’n versameling kortverhale wat niemand se verbeelding te lank sal laat werk nie, skryf Rachelle Greeff. Die 25 skrywers én samestellers se plesier is aansteeklik, en die bundel sal waarskynlik van die rak af vlieg soos kondome in ’n stoomhuis.

Lyfskap: Erotiese kortverhale saamgestel deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg. Uitgewer: Lapa. Prys: R250.

Met gerugte van ’n verwagte derde vlaag Covid-19 kom dié ballasmandjie stories asof die huisdokter dit voorgeskryf het. Anders as die dood wat skuil in die koors van die koronavirus, vier dit ons kollektiewe, heilsame hitte.

Lyfskap is ’n opdragwerk van Lapa en, sover ek weet, is al die verhale tot nou ongepubliseer. Die samestellers is die topverkoper-skrywer Sophia Kapp en die veteraan-boekverkoper Leonie van Rensburg. Vir die byeenbring van hierdie 25 stories het hulle veral onder die topverkopers in Afrikaans gevry, maar dit nie net hier gelaat nie. Hulle het ook subtieler verhale, wat die seisoene van modes en populariteit sal oorleef, ingesluit.

Die Amerikaanse baanbreker-sielkundige Carl Rogers het gesê “die mees persoonlike is die mees universele”. Daarom sou ’n mens kon dink die skryf van erotiese fiksie is so maklik soos tong uitsteek. Totdat jy dit self probeer doen. En op so ’n manier dat nie net jou beste vriende nie, maar ook vreemdelinge sal betaal om jou te lees. Dan eers ontdek jy dit is bra “onmoontlik”.

Jou onderwerp is “buite woorde en tyd”, herinner Alberto Manguel, bekroonde Argentyns gebore romansier en samesteller van The Gates of Paradise (1993). Manguel se seminale bundel fokus op klassieke werk van onder andere Honoré de Balzac, Georges Bataille, Milan Kundera, Yukio Mishima, Anaïs Nin, Mario Vargas Llosa en Isabel Allende. Op sy voorblad luier twee verstrengelde vrouefigure uit ’n skildery van die vroeg 20ste-eeuse figuurskilder Egon Schiele. Die een is naak, die ander halfkaal. (Ter wille van die geskiedenis van wêreldpandemies: Die jong Schiele en sy swanger vrou is drie dae uitmekaar aan die Spaanse Griep in Wene dood.)

Lyfskap se voorbladontwerp vertel ’n ander storie. Dis swart en wit en die titel spookasempienk, ’n kleur wat ’n mens tereg met Barbie en Hello Kitty kan assosieer. Die knieë van die oënskynlik kaal, sittende vrouefiguur in halfskaduwee is half-en-half gesprei. Die fokuspunt sou haar geslag kon wees, maar die foto is tegnologies “gepuur”. Sy kruis haar arms oor haar borste sodat die voornemende koper “niks kan sien nie”. Haar hande op haar eie skouers klou eerder as streel, en sy’s meer geraamte as ronding.

Nie eens amper my espresso nie. Persoonlike voorkeur buite rekening gelaat, miskien het die grafiese ontwerper van die omslag die deinings in spesifieke opdrag van die uitgewer en boekverkopers wegbewimpel, wie weet. Hierdie uitbeelding van ’n vrouefiguur as eroties mag meer as net fronse ontlok by gender-akademici.

Vir my laat dit bloot koud, maar ontlok tog vrae: Wil sy nou haarself wys, of hanetart sy net? Waarom is sy alleen?

Wil dit suggereer jy seil solo ook in die intiemste erotiese ervaring, net soos in die mistieke ervaringe van geloof, geboorte en dood?

Ek vermoed dit wil (ook?) sê die stories tussen hierdie Lapa-lakens van papier is pienk en plesierig, veilig kinky en daarom waarskynlik met blinkgevatte beskrywings opgetert. Reg met my. Immers probeer dit nie voorgee wat dit nie is nie.

Wat meer is, laat mense maar sê die omslag is esteties verdag en geslagstereotiperend – dié boek gaan verkoop soos kondome in ’n stoomhuis. Die populêre skrywers en samestellers se plesier is aansteeklik, en niemand se verbeelding hoef te hard te werk nie.

Die intree-storie behoort aan Elsa Winckler. Sy weet hoe om woorde in te ryg. Haar romanses verkoop goed en dis daarom ’n slim maneuver van die boekmakers om af te skop met haar bydrae, “Die moeilikheid met Pina Coladas”. Dit stel terselfdertyd ook die toon van die bundel met Tiaan se gespierde borskas en Mientjie se bloedrooi satyn-en-kantbra. Dit ruk, pluk, hyg en sidder, maar “met ’n enkele beweging is hy in haar. Hitte ontmoet hitte; die ontploffing van lyflike genot is vinnig, oorweldigend, ’n harde en onstuimige storm wat sy siel, sy hele wese, oorstroom. Haar kermgeluide en sy gehyg is die enigste geluide in die kamer.”

Hoe vuig, snak die sedekonstabels nou. (En lees enduit?) Vir die brigadetjie agter ontwerpersleesbrille is Winckler weer te bling vir woorde, en kundige erotofiele kan dit dalk beleef as meer klugtig as eroties.

Maak dit, nóú, saak? Soveel mense lê omgekantel in twyfel en swaar. Terwyl ’n wedersyds warm omhelsing – waarvan daar verskeie is in dié bundel – die gemoed tegelyk lig én anker. Dis oukei dat jou giftige Carolina Reaper-brandrissie nie my vertroostende melktert is nie. Hiervan was die samestellers bewus. Daarom is hier, benewens onder andere Winckler, Marion Erskine en Leon van Nierop, ook Hans Pienaar met “Oog vir ’n oog”, Frederik de Jager se “Iets om te onthou”, Deborah Steinmair met “Die grootste afrodisiak” en die slotstorie, “Troos”, van die meesterkortverhaalskrywer Riana Scheepers.

Die liefdeskrywer Didi Potgieter het ’n paar jaar gelede die Romance Writers Organisation of Southern Africa (Rosa) se Imbali-prys losgeslaan. Sonder om dit aan die luidste klok te hang herinner sy ons in die behendige “Die liefde is blind” gestremdes is nie sonder geslagshormone nie. Die storie van M.S. Burger, wat in 2013 die Jan Rabie-Rapport-prys vir vernuwende werk gewen het, is so onverwags soos die naam, “ ’n Vrou soos John”. Dié titel is ook een van net ’n paar wat nie louwarm is nie.

“Iets om te onthou” is al verhaal wat volledig gespin is rondom manlike homoërotiek én in die rigting van biseksualiteit knipoog. Die stiltes en versweë gedagtes, gevoelens en dade wat Frederik de Jager in sy vertelling verweef met versigtige keuse van woord en sin is lieflik. Erotiek en droefheid lê lepel, en nie net vir Henk op ’n Griekse eiland nie.

Jan Vermeulen se “Granate in die as’’ skop wel die verwagte storiesandkasteel onverwags uitmekaar, maar dis nie genoeg nie. Die versameling sou baat by meer manlike homoërotika.

Sterk, gay vrouekarakters is hier wel, en van die stories kinkel ook met identiteitsverwarring en -vloeibaarheid. En soos in Marlise Joubert se “Oggendvrug” is die ouer vrouekarakter in “Granate in die as” nie links vir ’n heelwat jonger lyf nie. Caroline se domineeman is pas drie maande oorlede, maar nog voor sy dood in die gastekamer langs die hoofslaapkamer het sy vir haar ’n vibrator en ’n kuber-seksmaat aangeskaf.

Caroline verwag haar seun, Henk, en sy meisie, Lise-Mari, vir die naweek. Hulle daag op, onverwags in ’n blou Ford Mustang, so nié Henk se ryding nie. Ewe verrassend is die bestuurder, ’n “kloon van die jonger Victor Matfield in sy jonger dae; kort baard, lang swart hare”. Sy naam is Eugene en hy is soos Henk ’n teologiestudent. Ek brand om die sappige storie uit te blaker, maar wil nie jou pret bederf nie. As niks jou tot nou oortuig het om die bundel aan te skaf nie, doen dit dan net ter wille van die slot van dié verhaal. Jan Vermeulen beweeg in die geselskap van Lyfskap se bydraers vir hom op bekende terrein. Bietjie voorspelbaar en ja, die granaat is só gedoen in die skryf van die lyf (trouens, dit figureer twee keer in die bundel), maar die paragraaf wat begin met “Eers dan sien sy . . .” (bl. 214) naby die slot sal jou ook uitboul.

Baie van die stories is eweneens guitig, asof dit die leser wil herinner aan ons ménsheid, ongeag ouderdom, geslagsvoorkeur of plek. Marion Erskine se “Die goue akker(s)’’ is ’n vertelling van geil seks en effense emo-intimiteit in die ouetehuis. Nie heeltemal Rudie van Rensburg met sy Hans van Kraaienburg-karakter van Huis Madeliefie nie, maar as jy ’n bok is vir roomkoek in die gesig, lek lekker aan dié room. Mev. Maggie van Wyk is die uitsondering op die skynbare reël, maar die ander karakters in die storie is voorspelbaar. Selfs die naam van die oom in die verhaal, Buks, is ’n opsigtelike leidraad. (’n Ander Buks-karakter verskyn elders in die versameling.)

Maar, weer, hoekom nie? Dié is skirt-oor-kop, maar sal, weer eens, vir baie lesers een van die bestes wees. Net soos wat die meer afgestemde, subtieler stories ander lesers sal boei. Die samestellers het ons met die voorblad en die inleidingstorie voorberei vir wat wag.

Net so veronderstel Riana Scheepers se slotverhaal, “Troos”, ons is nie almal geswolle, gespierd en stroperig nie. Min Afrikaanse kortverhaalskrywers kan verbeter op Scheepers se skryfvaardigheid. En weinig sal die gravitas hê om ’n storiegegewe soos dié aan te pak. In die hande van ’n mindere skrywer sou dit maklik in ’n vulkaan-uitbarsting met fatale gevolge kon ontaard. Pleinweg: Dit sou liederlik platval. En tog neem “Niggie”, die veel jonger skrywer Jeanne-Pierre de Kock se storie, ’n verwante tema ’n riskante entjie verder – met sukses.

Oor die verskille en/of ooreenkomste tussen die erotiek en haar skerper susters is al derduisende woorde oor die eeue gepleeg. Ek vat hieraan nie, is gewoon te onkundig, en los dit vir platforms soos LitNet Akademies.

Maar weet dit: As jy van ’n sekere ouderdom is en jy verkies mans, kan Lyfskap jou dalk apteek toe stuur om die pretpil vir jou bedmaat te koop. La Senza en Adult World het immers, nes aftreeoorde, wettige adresse.

Die storie van die misdaadskrywer Irna van Zyl, “Die lewe is te kort”, speel af tydens die vloed wat Laingsburg in 1981 getref het. Natuurlik nie op dieselfde skaal as die koronavirus nie, maar vir dié dor Karoodorp toe vernietigend en heeltemal onverwags. In dié vertelling doen die verteller wat sy doen ook sodat sy kan “vergeet van die dag se verliese’’.

Pluk vir jou ’n lyfstorie uit dié prettige versameling, sodat jy kan onthou (as jy bloudiamantstatus is) en tegelyk ons vreeslike universele oomblik vergeet.

* Rachelle Greeff is ’n skrywer wat die eerste versameling Suid-Afrikaanse erotiese verhale, Lyfspel/Bodyplay (1994), met Afrikaanse en Engelse stories saamgestel het.

Die skrywers

    Lyfskap sal teen die einde van die maand landwyd by boekwinkels te koop wees. Die volgende skrywers (alfabeties gerangskik) het bydraes gelewer: M.S. Burger, Malene Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Frederik de Jager, Jean-Pierre de Kock, John de Nysschen, Marion Erskine, Maya Fowler, Celesté Fritze, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Marlise Joubert, Sophia Kapp, Louise Lategan, Hans Pienaar, Didi Potgieter, Riana Scheepers, Deborah Steinmair, Zirk van den Berg, Leon van Nierop, Irna van Zyl, Jan Vermeulen, Fanie Viljoen, Madeleine Volschenk en Elsa Winckler.

    Meer oor:  Sophia Kapp  |  Resensie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.