Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Poleer só jou anderster kind se ster
Christien Neser, skrywer van die boek Help! My kind is anders.

Christien Neser is ’n geregistreerde spraakterapeut, maar sy het ook ’n passie vir Frans en het ’n meestersgraad in toegepaste linguistiek met vertaling as hoofvak gedoen, juis om Franse werke te vertaal.

So drie jaar gelede het sy haar praktyk as spraakterapeut gesluit om meer aandag aan haar skryfwerk te kan gee. Sy het ’n reeks van tien (later vanjaar nommer 11) Elle-boeke vir Lapa Uitgewers geskryf. Dis ’n moderne koshuisreeks vir meisies van so 11 jaar en ouer. By Tafelberg Uitgewers het sy Amper Einstein (2013), Absoluut Einstein (2020) en Pienk is nie vir sissies nie (2018), alles jeugromans, uitgegee. Die Einstein-boeke is gegrond op een van haar leerlinge wat op die outismespektrum funksioneer.

Neser se jongste boek, Help! My kind is anders: Ontdek die ster in jou anderster kind, is onlangs gepubliseer. Sy beantwoord die volgende vrae:

Wat het jou laat besluit om ’n boek soos Help! My kind is anders te skryf?

Dit het gekom van die vraag “Waarom is elke tweede kind deesdae in terapie?”

Toe gaan vra ek ’n klomp slim mense hul opinie en só het die boek gebeur. Ek het byvoorbeeld ’n aantal kinderpsigiaters, pediaters, spraakterapeute, spelterapeute, oudioloë, sielkundiges, fisioterapeute en arbeidsterapeute betrek. Dis ’n boek vir ouers met doodgewone kinders met dalk net ’n geit of ’n gier. Dis wel ook ’n boek vir ouers van anderster kinders.

Ek doen al baie jare lank praatjies by skole oor lees. Telkens kom bekommerde onderwysers na my en vra wát hulle kan doen om kinders se leesvermoë te verbeter. Dit was dan ook een van die belangrike hoofstukke in die boek. Wanneer begin ’n mens ’n kind leer lees? Definitief nie eers in gr. 1 nie. Dit begin op ’n ouer se knie sodra die baba kan sit. Ouers sit met die mag in hul hande om van hul kinders lesers te maak. Maar dan is ouers en onderwysers ook in ’n span. Soms het die span nóg spelers, soos die arbeidsterapeut of sielkundige, byvoorbeeld. Al die rolspelers moet saamwerk om die beste resultate te verkry.

Dit is waar die idee van ’n kampioenspan vandaan kom. Rita­ Pierson, ’n befaamde Amerikaanse onderwyser, het ’n paar YouTube-video’s gemaak oor hoe om jou kind se kampioen te wees.

Daar is nie vir haar iets soos ’n kind wat nie kan lees nie. Sy het net aangehou en aangehou om in die kinders te glo. Dit is ook die tema van die boek. Ons as ouers het die taak om ons kinders se kampioene, se kampvegters te wees. En juffrou (of meneer) moet soms daardie taak oorneem wanneer ouers nie belang stel nie of doodgewoon moed opgegee het.

Die voorwoord is geskryf deur Shéri Brynard. Sy is ’n toonbeeld van volharding, van ’n anderster kind wie se ster nou helderder as ooit skyn. Met haar ma, Susette, as kaptein van die kampioenspan, het sy die eerste persoon met Down se sindroom geword wat ’n tersiêre onderwysdiploma verwerf het. Sy is ’n skrywer, dramaturg, aktrise, kampvegter, spreker, onderwyser en veelvuldig bekroonde jong vrou.

Wie moet die boek lees?

Dis enersyds vir ouers met neurotipiese handboekkinders wat net hul kennisbasis wil verbreed. ’n Mens moet tog intelligent en ingelig kan saampraat as die gesprek op ’n kinderpartytjie oor die jongste behandeling vir aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) gaan. Wat weet jy per slot van sake van Ritalin­ en Concerta af?

Dis tweedens vir die ouers van die anderster, atipiese kind. Daar is tien hoofstukke oor dinge wat met kinders kan gebeur. Ons praat oor gehoorverlies, taalontwikkeling, leesontwikkeling, hakkel, arbeidsterapie, lae spiertonus, skoolgereedheid, AGHS, outisme, angs en meertaligheid. Daar is leidrade en wenke oor hoe om hierdie kinders tuis te hanteer, waar om hulp te soek en wat die onderwysers kan doen om die kind se ster te laat skyn.

Die boek is gemik op die drie- tot sewejariges, daardie wonderlike preprimêre jare waarin kinders se breinplastisiteit optimaal is vir leer. Dis die tyd waarin vroeë intervensie (VI) die grootste impak het. VI of in Engels, EI (early intervention), is die beginsel dat ons nie soos in die ou dae gaan “wag en kyk” of dinge nie verbeter nie. Dis nou ’n geval van “hoe vroeër, hoe beter”. Ons kyk hier dat daar selfs ure ná geboorte reeds met terapie begin kan word, veral met hoërisiko­babas, soos premature geboortes. Die voedingsterapeut, die fisioterapeut, die arbeidsterapeut en die oudioloog is sommer al van dag een af betrokke.

Die 11 gevallestudies is stories van hoop, van raad en van motivering. Die meeste van hierdie kinders was in die een of ander stadium deur my hande. Maar daar is ook stories van ander terapeute se interessante en inspirerende kinders vervat. Een storie word deur die kind self vertel, vandag reeds besig met sy PhD.

’n Mens voel soms platgeslaan as daar ’n diagnose na jou kant toe kom, soos as ’n gehoorverlies by jou kind gediagnoseer word, of AGHS of selfs outisme. Dan tel ’n mens die boek op, lees ander ouers se verhale van vasbyt en jy sien kans om jou anderster kind se ster te gaan poleer.

Van die algemeenste probleme waarmee ouers en onderwysers in die grondslagfase gekonfronteer word, is kinders wat nie luistervaardighede het nie, kinders wat nie lees nie, kinders wat nie kan stilsit en konsentreer nie. Taalvaardighede word al hoe swakker, angs al hoe meer.

Wat is jou filosofie oor kinders grootmaak en opvoed?

Goeiste. ’n Mens probeer jou bes! Onvoorwaardelike liefde is seker die eerste gebod.

En eerlikheid as dinge nie loop soos dit moet nie, is seker nommer twee. Daar is geen skaamte in om te erken dat jou kind sukkel of swaarkry nie, of dalk ’n bietjie stadiger ontwikkel as die bure se kind. Dis eerder ’n skande as ’n mens niks daaraan doen nie. En dan glo ek dat niks ’n ouer­ se tyd met hul kinders kan vervang nie.

Wat is volgens jou die belangrikste vaardighede waarmee ons ons kinders kan toerus?

Ek glo sterk aan Erik Erikson se beginsels. Tussen geboorte en twee jaar is dit geborgenheid. Hulle moet jou as ouer kan vertrou. Tussen twee en vier is dit selfstandigheid en ’n mens probeer om hulle daardie vaardighede te leer. Tussen vyf en sewe raak hulle skoolgereed en moet ’n mens al daardie aspekte in ag neem, want daarna volg die laerskoolfase, tot ongeveer 11 of 12, waar mededinging tussen kinders intens is. Hulle moet leer om te leer, om hul bes te doen, hard te werk. Selfdissipline is myns insiens dan ’n lewenslange beginsel wat ’n mens moet vaslê. Maar deur al hierdie fases moet daar een groot beginsel geld: wedersydse vertroue.

As jy elke ouer met ’n kind met probleme een boodskap kan gee?

Maak werk daarvan. Gaan sien iemand. Dit mag jou GP wees, ’n spesialis of dalk die onderwyseres by die skool.

Hoe dink jy maak ’n mens ’n gelukkige kind groot?

Dis ’n fyn balans van uitdaag om beter te doen en van aanvaarding dat ’n sekere prestasie goed genoeg is. En nie twee ouers en hul kinders se scenario sal dieselfde lyk nie.

Meer oor:  Boek  |  Kind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.