Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pool stort ‘liefde vir Afrikaans’ in debuutbundel uit

Sowat 40 jaar ná die Poolse akademikus, vertaler en digter prof. Jerzy Koch ’n Afrikaanse boek in ’n Poolse biblioteek ontdek het, stel hy sy eie Afrikaanse digkuns in sy debuutbundel, Pleks van plaas, bekend. In ’n Zoom-gesprek van by die drie uur vertel hy vir Christiaan Boonzaier meer oor sy lewensreis met Afrikaans wat tot die bundel gelei het.

Prof. Jerzy Koch tydens ’n besoek aan Hermanus. Foto: Verskaf

’n Hanetreetjie weg van sy huis in Wroclaw, in die weste van Pole, lê ’n klein meer waarlangs Jerzy Koch dikwels gaan stap.

Een vroegoggend, toe die yskoue die water “so glad soos ’n spieël” platgestryk het, het Koch stil-stil in die oggendson saam met sy seun se Alaska-malemoet ’n vissie se wriemelende waterdans in die meer aanskou.

Dit is dié vertoning, sê hy, wat daartoe gelei het dat woorde in Afrikaans – sy vierde hartstaal naas Pools, Duits en Nederlands – in hom opgeborrel het, soos ’n golf oor hom gespoel het, en hy eindelik gedigte in Afrikaans geskryf het. Dié en ander gedigte is onlangs deur Naledi in sy debuutdigbundel, Pleks van plaas, gepubliseer.

“Dit is eintlik ’n snaakse proses en moeilik om te ontleed,” sê Koch, wat sedert 2003 hoof van Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies in die fakulteit Engels aan die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan, sowat 170 km noord van Wroclaw, is.

“Die taal (Afrikaans) is in my kop geaktiveer, en beskrywings van die oomblik (met die vis) het net vinniger in Afrikaans by my opgekom as in Pools. Aanvanklik het ek gedink: Joe, oukei, nee, dit is vreemd. Maar toe kom daar op die ingewing van die oomblik nog en nog Afrikaanse woorde by my op, en dit is toe dat ek in my kop iets daarvan probeer maak.

“Later, toe ek besef ek begin van my mooi, Afrikaanse vondste vergeet, het ek besluit om dit vinnig op my selfoon op te neem en by die huis as gedigte te bewerk, te slyp en te skaaf, maar daar was oorspronklik nooit ’n doelbewuste besluit om ’n Afrikaanse digbundel daarvan te maak nie.”

Die pad na Afrikaans

Die bundel is eintlik ’n besonderse bestemming in ’n lang en buitengewone taalreis wat die 62-jarige Koch die afgelope sowat 40 jaar reeds met Afrikaans onderneem.

Hoewel hy aanvanklik ’n mediese dokter wou word, het ’n vriend op die nipper sy arm gedraai om liefs vreemde tale – toe reeds ’n voorliefde – te studeer en ’n loopbaan as vertaler en akademikus in Pole na te jaag.

“Ek dink ek het eintlik nog altyd ’n ontvanklikheid vir tale gehad – maar ook vir klanke. Toe ek baie jonk was, ek dink so in standerd vyf, het ek liedjies op my kitaar begin skryf. Ek was vir sewe jaar violis in ’n musiekskool (in Wroclaw) – ons het ook ’n klavier by die huis gehad – en ek wou iets komponeer, my eie musiek met woorde maak. In 1980 is van my liedjies selfs in ’n radioprogram uitgesaai.”

Aad Nuis (...) het eens op ’n kongres in Brussel gesê dat hy as kind ’n Afrikaanse boek op sy pa se lessenaar ontdek het en gedink het dit is ‘Nederlands wat te lank in die son gelê het’. Dit was vir my die mooiste beeld, want dit was 100% ook mý eerste ervaring.
Jerzy Koch

As tweedejaarstudent in Germanistiek en Nederlandistiek aan die Universiteit van Wroclaw, het Koch in 1979 in ’n biblioteek op die boek Zuidafrikaanse letterkunde deur dr. F.E.J. Malherbe afgekom.

“Die bloemlesing is in 1968 deur die toenmalige (Suid-Afrikaanse) regering se departement kultuursake saamgestel om as’t ware Afrikaans as taal in die buiteland te bemark,” sê Koch.

“Dit was my eerste kennismaking met Afrikaans, sonder dat ek daarna kon luister. Aad Nuis, die voormalige minister van onderwys, kultuur en wetenskap in Nederland, het eens op ’n kongres in Brussel gesê het dat hy as kind ’n Afrikaanse boek op sy pa se lessenaar ontdek het en gedink het dit is ‘Nederlands wat te lank in die son gelê het’.

“Dit was vir my die mooiste beeld, want dit was 100% ook mý eerste ervaring: Iets is weggeneem, dit het bleker geword, dit was nie meer leesbaar nie – maar tog herkenbaar.”

Die omslag van prof. Jerzy Koch se debuutdigbundel, ‘Pleks van plaas’.

Die bloemlesing het as lokaas eintlik sy taak verrig: Vir die daaropvolgende sowat 15 jaar het Koch sy pad slegs in woord deur die Afrikaanse letterkunde gevind tot hy Suid-Afrika in 1992 besoek en die taal vir die eerste keer in Potchefstroom op ’n Nederlandistiek-kongres gehoor het.

“Toe ek die eerste referate hoor, is ek dadelik afgelei deur die dubbele ontkenning (die dubbele ‘nie’) en die woord ‘het’, wat natuurlik ’n lidwoord in Nederlands is. Dit het my waarneming van Afrikaans aanvanklik totaal versteur. Daar was iets wat ek herken het, maar ook nie. ’n Pendulumbeweging eintlik – van aantrek na die taal, maar ook afstoot weg van die taal af.”

Later, toe hy saam met die letterkundiges prof. John Kannemeyer en dr. Etienne Britz na Warmbad gereis het, het hy besluit om sy jare lange bekoring met Afrikaans in ’n ernstige verhouding te omskep.

“Ons het op ’n dag in ’n borrelbad gesit. John en Etienne het met mekaar in Afrikaans gepraat en ek het nie alles mooi verstaan nie. Later het ons gaan stap en ek vra toe waaroor hulle gepraat het, en hulle sê toe oor een van die eerste Afrikaanse gedigte, ‘Lied ter ere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie van Muisenberg in dato 7 Aug. 1795’.

“Ek het toe gedink: Sjoe, ek wil nie hê iemand moet weer in my aanwesigheid praat oor iets in die Afrikaanse letterkunde waarvan ek totaal niks weet nie. John het toe vir my sy eie literatuurgeskiedenis gegee – ook dié deur Rob Antonissen en Gerrit Dekker – en dit is toe dat ek eintlik vir die eerste keer die basiese literatuurgeskiedenis van die taal leer ken het.”

In 1996 het vriende vir my bandopnames van boeke begin stuur, ook opnames van tydskrifte soos Huisgenoot en rooi rose, en dit is toe dat ek eers werklik vrylik na Afrikaans kon luister.
Jerzy Koch

Sy enigste oorblywende hekkie: Om die taal te leer práát.

“Daar was nie toe werklik taalkursusse in Afrikaans vir buitelanders nie. Daar was wel een boek, Teach Yourself Afrikaans deur Helena van Schalkwyk, maar dit het nie opnames gehad nie.

“In 1996 het vriende vir my bandopnames van boeke begin stuur, ook opnames van tydskrifte soos Huisgenoot en rooi rose, en dit is toe dat ek eers werklik vrylik na Afrikaans kon luister. Ek sê altyd vir mense ek kon toe Afrikaans ‘al strykende’ leer praat: Ons het nooit ’n huiswerker gehad nie, so ek het graag strykwerk gedoen terwyl ek die opnames speel. Dit het my gehelp om in Afrikaans en die uitspraak van woorde te fokus.

“Later het RSG ook aanlyn begin uitsaai, wat ek ook graag geluister het, veral die boekeprogramme, en sedert 2000 was ek feitlik elke liewe jaar in Suid-Afrika, ook omdat ek sedert 2001 ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat is.

“Dít alles saam het my eindelik gehelp om die taal te praat, maar in dié verband was die bandopnames eintlik baie belangrik.”

‘Pleks van plaas’

Hoewel Koch as tienerdigter Poolse gedigte in ’n plaaslike tydskrif gepubliseer het en sedertdien ook sy hand aan ’n paar kortverhale gewaag het – ook ’n roman, waarvan die reste êrens op ’n onbekende plek in sy studeerkamer begrawe lê – is hy weens die Poolse politieke bestel én sensuur in die land in die 1980’s “ontmoedig” om in sy moedertaal te publiseer. Sedert die 1990’s het hy al sy energie op die vertaling van bestaande Nederlandse literêre werke na Pools en op akademiese navorsing in onder meer Pools gefokus, wat sy “behoefte bevredig het” om kreatief in sy moedertaal te wees. “Daar was nie ’n verlange of ’n drang daarna nie,” sê hy. Gevolglik het hy sy kreatiewe energie in sy jongste hartstaal ingestoot.

'n Gedig uit 'Pleks van plaas'

die vis in die hemel

vir N.P. van Wyk Louw

die water waak
die sprong is silwer
die vis verwater
in die kolskyf van gegolfde horisonne

die vis was nougeset
die water was sekuur
en die sprong self het gespring
buite die meer se soom

die lig raak nou die golwe baas
verower die oewer
die oppervlak weerkaats in die hemel
wat modderbruin lyne kry

troebelrig deurmekaar
sit ek op die kaai en verskuif
deur die silwer sprong
my fokus van die gesigseinder na die mikpunt

anderkant die onsigbare bodem
is daar talle afrikas
wêrelde en hemele van vorme en kleure
wat maak ek hier

“Ek was eintlik al enkele jare besig met die skryf aan die gedigte in Pleks van plaas, en ek het ook ’n paar daarvan met vriende bespreek. Sowat ’n jaar gelede het Daniel Hugo, een van die eerste Afrikaanse digters wat ek in 1992 ontmoet het, vir my gesê ek moet ’n digbundel saamstel. Hy het ook aangebied om dit te proeflees.

“En toe het ek gedink: Oukei. Hy’s nie sommer net enigiemand wat ’n mens vra om iets te lees nie – hy is iemand wat my veilig laat voel, wat ek weet my krities dog regverdig sal behandel, wat dit nie net sal afmaak as werk wat ‘oulik vir ’n buitelander’ is nie. En dít het my laat besluit om die kans te waag om aan ’n bundel in Afrikaans te werk.” Hy sê die bundel is ook eindelik deur die joernalis Marlene Malan geproeflees.

Op die oog af, sê Koch, is hy nie eintlik seker of die bundel in sy geheel ’n spesifieke onderwerp of idee onder die loep neem nie omdat die gedigte, wat oor ’n tydperk van sowat sewe of agt jaar geskryf is, los gedagtes saamsnoer.

“Nou kan ek wel daarop terugkyk en sien dat daar heelwat plekke – Europa, Pole, Suid-Afrika – is wat by wyse van spreke saamval. Plek, gebondenheid, ’n gebondenheid aan iets, ’n geografiese ruimte – en taal kan ook ’n ruimte wees – is opvallend in die bundel.”

Die bundel begin met die enigste gedig wat oorspronklik in Pools ontstaan het, “my pa as seun”, en word gevolg deur “swem in glas”, oor sy ma se laaste vakansie voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, wat hy tegelykertyd in Pools en Afrikaans geskryf het.

Daarna volg werk wat oorspronklik in Afrikaans ontstaan het en Koch sê “gaan oor plekke, oor situasies, oor my” – ook digkuns wat hy aan onder andere C. Louis Leipoldt, Totius, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Olga Kirsch opgedra het, maar nie eintlik oor hulle spesifiek gaan of vir hulle spesifiek geskryf is nie. Dit is eerder “raakpunte” met dié outeurs, hul lewe en hul werk waarmee hy ook identifiseer.

“Die gedigte gaan deur ’n prisma van my. Dit is ek. Dit is mý Afrikaans, my aanvoeling van die taal, ook aanvoeling van plek. Daar is ’n paar gedigte waar mense vir my gevra het: Waar presies is jy in die gedig? My antwoord was dat ek in Pole is – maar ook in Suid-Afrika.”

Plek is ook in die titelgedig ter sprake, waar hy sy ervaring van somervakansies op sy ouma en oupa se plaas verken.

“Hoe ouer ek word, hoe belangriker ag ek dié ervaring nou – toe ek, my broer en my twee nefies op die plaas gewerk en agter koeie aangestap het; die vreugde van visvang, die ervaring van vryheid, digby die natuur wees, digby diere. Toe ek eens vir (die letterkundige prof.) Hennie van Coller hiervan vertel, het hy my juis gesê hy het gewonder hoekom ek ’n aanvoeling vir die Afrikaanse plaas het. Hoewel ek eintlik ’n stadsmens is, het my ervaring op die plaas (in Pole) met ’n deel van my ervaringswêreld in Suid-Afrika ooreengestem.

“En ’n groot deel van daai ervaringswêreld (in albei lande) is ook die letterkunde. Ek het danksy die letterkunde vir die eerste keer na Suid-Afrika gekom en danksy dít het ek lief geword vir Afrikaans. Dít sal ’n mens dalk in die digbundel raaklees.”

  • Pleks van plaas word deur Naledi uitgegee en kos R240. Dit is weens die staat van inperking net by sommige boekwinkels landwyd beskikbaar, maar dit kan ook by www.naledi.online bestel word of as e-boek by Takealot en Amazon gekoop en afgelaai word.
Meer oor:  Etienne Britz  |  Wroclaw  |  Pole  |  Gedigte  |  Rooi Rose  |  Universiteit Van Die Vrystaat  |  Huisgenoot  |  Boeke  |  Daniel Hugo  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.