Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Postkoloniale visie is futloos en frustrerend

By die brandende berg deur Piet van Rooyen. Uitgewer: Penguin. Prys: R250. Resensent: Jonathan Amid.

Piet van Rooyen het vier digbundels en nege romans op sy kerfstok waarvan Die olifantjagters (1997) die daaropvolgende jaar met die M-Net-prys bekroon is. Etosha (2010), Rodriguez (2012), Voëlvry (2015) en Amatola (2016) met hul sterk fokus op militêre prosedures, geheime operasies en aktiwiteite, en die verhouding tussen mens en natuur het verskyn in ’n tyd toe spannings- of ontspanningsfiksie gretig deur lesers opgeslurp is en daar betreklik min kritiek was.

By die brandende berg verskyn midde ’n aantal vurige gesprekke oor geslagsgeweld en verhoogde sensitiwiteit ten opsigte van die uitbeelding van geweld teenoor vroue en kinders in die kunste. Vir hierdie resensent bied Van Rooyen se jongste heelwat om veral vroulike lesers warm onder die kraag te maak.

Die roman word verpak as ’n soort Afrikaanse Heart of Darkness en in die bemarkingsmateriaal word ook kliphard gevry na Van Melle se Bart Nel. Daar word beweer dat die roman “idees en houdinge rondom die Afrikanerman as heldefiguur op sy kop keer”. Ons het hier te make met ’n postkoloniale visie van Afrika waar buitestanders ’n fortuin kom maak uit die oorvloedige minerale rykdom sonder om ’n duit om te gee vir die plaaslike bevolking óf die omgewing.

Die teks dra ongelukkig bitter min by tot ’n sinvolle gesprek oor neo-kolonialisme. Wat deurgaans pla, is die feit dat Van Rooyen nooit vir sy leser enigiets meer bied as ’n groepie generiese Chinese skurke wat die hoofkarakter probeer bevark nie.

Toksiese manlikheid is teen dié tyd nie meer ’n begrip wat veel verduideliking nodig het nie, maar daar word tog toenemend in plaaslike fiksie ’n poging aangewend om die foutlyne tussen “tradisionele” en “toksiese” manlikheid oop te skryf. Goeie voorbeelde wat verlede jaar by Penguin verskyn het, is François Loots se ’n Spook in die huis, wyle Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls, Johan Jack Smith se Zola en Marita van der Vyver se onlangse Grensgeval.

Daar is ’n groot verskil tussen die problematisering of op die kop keer van ’n konsep, norm of waardes, en die onbedoelde verheerliking daarvan. Om voor te gee dat manlikheid onder die loep geneem word, en dan herhaaldelik te lees hoe ’n wit man ’n jong swart vrou fisiek en geestelik aftakel – sonder dat die geweld self onder die loep geneem en gedissekteer word – is uiters problematies.

Daar is sekere passasies wat so naby as demmit aan ’n vloekwoord kom aan uitbeeldings van vrouehaat – dog sonder die nodige korrektief in die res van die teks.

Die skrywer gee aan die protagonis, JJ von Solms, ’n vrou, die jong skoonheid Dominique, wat nog op skool is. Twee kinders volg. Al wat jou bybly, is Dominique se onskuld en hoe sy uitgelewer is aan die “heerskappy” van haar man. Die roman wemel van JJ se paranoia, pyn, wroeging, vrees en verlatenheid. Wat wel beïndruk, is hoe die onherbergsame landskappe in die Kongo en later Namibië in liriese, verbeeldingryke beelde vasgevang word.

Die held verloor algaande sy greep op die werklikheid. Hy gee in die proses sy menslikheid prys. Teoreties klink dit heel aanvaarbaar, maar ons vind in die teks ’n oorweldigende gevoel, ’n wrewel, teenoor die poging om voor te gee dat geweld en manlikheid inderdaad lagie vir lagie afgeskil word. Daar is sekere passasies wat so naby as demmit aan ’n vloekwoord kom aan uitbeeldings van vrouehaat – dog sonder die nodige korrektief in die res van die teks.

Een van die onverstaanbaarste verskynsels in die roman is die besluit om ’n klomp van die karakter se kerneienskappe in die eerste paar bladsye te verklap, meestal deur die alomteenwoordige verteller. Ek wil nie in dieselfde strik trap nie, maar dis genoeg om te sê dat die leser ná die eerste 15 tot 20 bladsye klaar weet hoe ’n groot deel van die verhaal gaan verloop. Daar word keer op keer vir die leser uitgespel, verduidelik, vertel hoe om te voel. Dis letterlike telling wat bo showing die botoon voer.

Dit is moeilik om te raai wie die ideale leser vir hierdie teks sal wees. Die spanningsvlakke bly getemper; geen adrenalien bruis deur die are nie; daar is nie genoeg sterk teenargumente om die teks se macho houdings en geweld teenoor vroue te regverdig nie; die gruwels van die Kongo bly by twee dimensies. Van Rooyen verwys eksplisiet en implisiet na Joseph Conrad se Kurtz. Dit maak dit onmoontlik om nie sy roman met Conrad se tergende meesterstuk te vergelyk nie.

Dalk verder verwyderd, maar uiteindelik tog relevant, is die feit dat Eben Venter met Horrelpoot (2006) Conrad se roman met soveel vrug as direkte interteks gebruik het. Horrelpoot is ’n teks wat diepgang en dimensie versoen het met ’n skrikwekkende ontluistering van die Afrikanerman as held.

Vir hierdie leser bly By die brandende berg futloos en frustrerend; ’n verspeelde kans.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.