Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Prag-legkaart sluit tweeluik af

Eindspeldeur Wilna Adriaanse. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R270. Resensent: Jonathan Amid

Min kan stry oor die groot verkope van plaaslike misdaadfiksie. Dis egter belangrik om te let op hoe skrywers nuwe vertakkings oopskryf, en hulself só onderskei.

Dit is die resensent se plig as hy skryf oor ’n genre waar die plot van kardinale belang is, om meer as net beskrywend om te gaan of die verhaal se gegewens in detail uit te lap of tematiese keuses uit te lig; die resensent moet meet, opweeg, sterk punte uitwys, en geregverdigde kritiek uitspreek.

Die heel beste publikasies in so ’n genre, soos die finale aflewering in Wilna Adriaanse se misdaad-tweeluik, Eindspel, maak die resensent se werk soveel lekkerder.

Met Dubbelspel het Adriaanse haar hand gewaag aan ’n misdaadverhaal, met ’n rojale dosis inspirasie van Mario Puzo se The Godfather, en verskeie Amerikaanse misdaadreekse. Die komplekse verhaallyn het veral op die innerlike en uiterlike konflik van haar aandoenlike hoofkarakter, die rooikop Ellie McKenna, gefokus. Sy is ’n fyn geskakeerde, tragiese figuur in Dubbelspel: Sy moet die alkoholisme van haar ma konfronteer, liefdesteleurstellings verwerk, gedurig haarself bewys as vrou in ’n testosteroon-gedrewe SAPD. Wat veral by Ellie spook, is die moord op haar pa, haar rigtingwyser en mentor. Wat haar deurgaans dryf in Dubbelspel is die ondersoek na haar pa se dood terwyl sy die onderwêreld van ’n Kaapse misdaadsindikaat infiltreer.

Wat Dubbelspel bo die generiese verhef het, is die komplekse, fassinerende, asook antagonistiese verhouding tussen Ellie en die Interpol-agent Nick Malherbe. Hoewel Adriaanse kleurryke verhaallyne saamgesnoer het wanneer die Italiaanse Alle­ghretti-familie se misdade uitgelig word, sal elke leser van Eindspel oorgehaal wees om uit te vind wat toekomstig tussen Ellie en Nick gebeur.

Die buitelyn van Eindspel is verbluffend eenvoudig: twee van Dubbelspel se hoofkarakters, Enzio Alleghretti en Clara Veldman, is skynbaar ontvoer. Ontvoering as plot-drywer blyk bitter nuttig te wees in die plaaslike krimi, soos blyk uit Naomi Meyer se onlangse Web en Jeanette Stals se Vermis, wat eersdaags uitgereik word. Ontvoering was natuurlik veral gewild in die misdaadfiksie van meesters soos Raymond Chandler. Só kan die skrywer sterk spanning opbou: Namate die jaagtog na die vermiste vaart kry en die vlak van gevaar noodwendig verhoog, kan die skrywer ondersoek instel na ’n verskeidenheid interpersoonlike verhoudings, lae van maatskaplike konteks oopkloof, en insigte bied oor sosiale klas en ras.

Adriaanse lewer besliste maatskaplik-politieke kommentaar op die aard en klimaat van misdadigheid in Suid-Afrika, asook die soort rolspelers wat die meeste by georganiseerde misdaad baat vind. Veral prysenswaardig is die insiggewende blik op die lewens van dié wat opgesaal is met die taak om van ons land ’n veiliger plek te maak.

Die twee karakters wat die grootste impak maak met die lees van Eindspel, en die sentrale verhouding wat ten sterkste ontgin word, is dié van Ellie en Nick. Albei word gebind deur hul verlies van ’n pa; Ellie dra die letterlike en figuurlike letsels van haar noue ontkoming aan die dood in Dubbelspel, terwyl Nick ’n daadwerklike poging aanwend om sy voete te vind in ’n samelewing waar daar ’n gebrek aan vaderfigure en onbevlekte helde is.

Sowel Ellie as Nick is besonder goeie verkleurmannetjies, gebroke randfigure wat veg vir reg, geregtigheid en vergelding in ’n milieu waar dit al hoe moeiliker raak om die goeie van die bose te onderskei.

Eindspel se grootste oomblikke (daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisie-prosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus. Adriaanse se ervaring as liefdesverhaalskrywer is nuttig in die vormgewing van die teer, onvoorspelbare, humoristiese en uiteindelik bevredigende verhouding tussen die geregsdienaars.

Die ondersoek na die twee ontvoerdes word oortuigend en selfs opwindend opgedis. Leidrade en lokbokkems word fyn geplant; geslaagde afwisseling, keurige taalgebruik, byderwetse gebruikmaking van sosiale media en WhatsApp as die kern van die plot, en ’n intuïtiewe verstaan van die oer-menslike drang na sukses, welvaart en erkenning, vorm deel van ’n prag-legkaart.

My enigste kritiek is dat daar ’n minder geslaagde wending is wat betref een van die ontvoerdes se lot, maar dit ontsier nie die verhaal nie.

Deur ’n onsentimentele, volwasse liefdesverhouding eerder as gewelddadige aksie en oordrewe strewe na spanning Eindspel se spilpunt te maak, bou Adriaanse ’n herkenbare dog steeds innemende wêreld waar die verhaal organies voortstu. Lesers sal hulle kan verkneukel in ’n voortreflike vertelling wat dadelik vra na ’n herlees: Adriaanse-aanhangers kry waarde vir geld.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.