Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Prentjie van SA nie mooi, maar spannend

Is André Jansen se ‘Dubbelspiraal’ spanning, spioenasie, misdaad of geskiedenis? Deborah Steinmair kon nie besluit nie, maar was enduit geboei.

Dubbelspiraal deur André Jansen. Uitgewer: Queillerie. Prys: R285.

Alle lesers het genrevoorkeure, en spioenasierillers is nie een van myne nie. Wat my betref, handel dit meestal oor die eindelose gekonkel en piswedstryde van mans wat hoog raak op mag, adrenalien en troefkaarte; wat mekaar gunsies skuld, maar uiteindelik mekaar voor die voet bedonder.

Dubbelspiraal laat hom glad nie netjies in ’n duifhokkie klassifiseer nie. Is dit spanning, spioenasie, misdaad of geskiedenis?

Al wat ek oor die skrywer kon uitvind, is dat André Jansen die skuilnaam is van ’n ervare, bedrewe spanningsverhaalskrywer wat op Bettysbaai woon. Ons het duidelik te make met ’n deurwinterde skrywer wat vertroud is met die landskap. Sy taalgebruik is voortreflik; daar is woorde wat ek nog nooit teëgekom het nie, soos “hinnik” – iets tussen runnik en grinnik, stel ek my voor.

Maar soos altyd, is dit die karakters wat my laat omblaai het.

Koos Jooste is ’n valerige man, redelik laag op die spioenasieleer. Hy is nie soos die old boys club-agente op ’n kampus gewerf nie; hy het arm grootgeword en moes homself aan sy skoenveters ophys, eers in die polisie en toe in staatsveiligheid.

Hy het een troefkaart: die aktivis Xolisa Ndlela wat hy vir die eerste keer tydens die Soweto-oproer in 1976 teëgekom het.

Die seun Ndlela kruip uit ’n sloot met ’n tuisgemaakte petrolbom in sy hand. Jooste het die geleentheid om hom te skiet (hy is immers aangesê om skerp te skiet en dat geen vrae gevra sal word nie) maar kry dit nie oor sy hart nie. Daarna kom hy hom telkens teë, soos wat ’n mens se lewenspad skynbaar bestem is om weer en weer met dieselfde mense s’n te kruis.

Of is niks toevallig nie?

Dit is dié spanning, die haat-ampervriendskap tussen hierdie twee karakters, wat aan die roman momentum gee. Soms herinner hulle aan Tom en Jerry, die wraakgierige kat en muis, waar die magsewewig immer aan’t skuiwe is. Dan klap die muis die kat se stert in die deur vas, dan steek die kat die muis se ore aan die brand. Wie uiteindelik koning van die mishoop gaan wees, sal die leser self moet uitvind.

Dubbelspiraal is ’n ambisieuse, goed nagevorste roman wat oor vier dekades afspeel. Dit teken die geskiedenis, die stadige inplof van apartheid, soos min van ons dit beleef het: van binne af.

Jooste is geen held nie, maar behou tog sy menslikheid en die leser se simpatie. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die Afrikaners twee dinge geweet het: dat apartheid verkeerd is en dat dit nie kan werk nie. En tog daaraan vasgeklou het omdat dit gerieflik was.

Met die val van apartheid het Ndlela ’n versugting na grond, maar Jooste meen die volgende: “Daar’s baie meer kettings as politieke oorheersing. Armoede. Onkunde. Siekte. Jy’s eers werklik vry as jy daarvan ook vry is.”

Vir die doemprofete is daar heelwat brandstof: “Daar sou mos ’n beter lewe vir almal wees? Is dit ’n beter lewe as mense voel hulle sal net meer geld kry as hulle daarvoor toi-toi, en wanneer hulle dit nie kry nie, afbrand en breek en stukkend gooi? Hy sien ’n hele konvooi, die ene swart en skitterblink voertuie, een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien, elf van hulle, met flitsende blou ligte en motorfietse byderhand om karre by kruispaaie te keer, omdat een man laat is vir sy volgende vergadering.

“Hy sien hoe iemand wat ’n selfoon gesteel het by amper drie dosyn ander ouens in ’n tronksel vir 16 ingeprop word, terwyl mense wat maatskappye, staatsinstellings besteel, ministers en presidente, blinkvet en gesond sooitjies uit ’n skoonveld slaan.”

Daar is afgryslike inligting oor Quatro, die ANC-strafkamp in Angola, en die slinkse maniere waarop ons vorige president die hef in die hand gekry het.

Aan die ander kant van die dubbelspiraal is daar die psigopatiese gekonkel en gemoor van die godspelende broeders, toe die mag nog aan hul kant was.

Dit is ’n bielie van ’n boek, ’n uitmergelende boek, en een wat gelees moet word saam met ander soos Jacques Pauw se The President’s Keepers en Brent Meersman se Sunset Claws-trilogie. Sodat ons nie kan sê ons het nie geweet nie.

Sodat ons nie vir ’n oomblik kan dink ons hande is skoon nie.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.