Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Prooi’ kort ekstra dosis spanning

Misdaadfiksie

Prooi

Deon Meyer

HUMAN & ROUSSEAU, R320

’n Nuwe Deon Meyer is groot nuus.

En as die boek so dik soos ’n Bybel is en dit boonop ’n Bennie Griessel-dossier is, beloof dit ure se leesgenot vir sy duisende aanhangers.

Ná die uitstekende Koors, oor ’n groep mense wat probeer oorleef nadat ’n epidemie die meeste mense in die land uitwis, keer Meyer terug na die misdaadroman met die baasspeurder Bennie Griessel as die ondersoeker.

Dit is sekerlik die eerste keer wat staatskaping in Afrikaanse fiksie opduik. En dit was onafwendbaar. Alles wat die afgelope paar jaar in die land gebeur het, is beslis vreemder as fiksie. G’n skrywer, hoe goed sy of haar verbeelding ook al is, sou kon voorspel dat ’n land as t’ ware deur sy president op ’n skinkbord aan ’n groep Indiese sakemanne weggegee word nie.

In ’n slim spel tussen werklikheid en fiksie is die komplot ’n beplande sluipmoord op die einste president wat die land tot op die rand van die afgrond gebring het. Hoewel die president se naam nie genoem word nie, word hy wel beskryf as die een met die snaakse kop. Daarvoor het jy nie ’n Zapiro-skets nodig om te weet wie die skurk is nie.

Die storie word weer in twee parallelle verhaallyne vertel. Griessel en sy kollega van die Valke, Vaughn Cupido, ondersoek die moord op ’n oudpolisieman Johnson Johnson wat van die trein afgegooi is. Die laaste oproep wat hy gemaak het, was na sy oudkollega in die BBP-eenheid, wat weier om saam te werk.

Die spoor is yskoud.

In Frankryk word ’n gewese MK-sluipskutter ná drie dekades van onder die radar lewe deur sy gewese kollegas in die ANC se intelligensiediens genader om die president van die land, wat hulle glo hy verraai het met sy hebsug en korrupsie, in ’n sluipmoord om die lewe te bring op ’n staatsbesoek aan Frankryk.

Die agent, wat onder die skuilnaam Daniel Darret in Bordeaux woon en sy geld as meubelmaker verdien, weier eers om die opdrag uit te voer om die man vir wie hy as soldaat groot respek gehad het, om die lewe te bring. Maar as hy ’n brief kry van ’n bejaarde lid van MK43 wat vertel hoe sy dogter deur die president verkrag is nadat sy hom in Brandfort ontmoet het en hy haar na sy ampswoning genooi het, stem hy in.

Ook as sy vriend en MK-spioen wat hom kom werf vir die groot taak op pad terug na Suid-Afrika skielik dood is, weet hy die agente wat so op sy vriend se spoor was, het hom vermoor. In Frankryk was dit die Russiese spioene wat wou keer dat MK-lede teen die president die ooreenkoms vir Russiese kernkrag vir die land verongeluk.

Dit is dus ’n mondvol. ’n Leser kan raai hoe lank Meyer en die uitgewer gesels het oor of die president se naam genoem moet word, oor die regsimplikasies van die beplande sluipmoord op hom en die beskuldiging van verkragting.

Meyer se beskrywing van Darret se voorbereidings vir die aanval en sy reis deur Frankryk om van die Russiese spioene op sy spoor ontslae te raak, is die beste deel van die boek.

Meyer se beskrywing van Darret se voorbereidings vir die aanval en sy reis deur Frankryk om van die Russiese spioene op sy spoor ontslae te raak, is die beste deel van die boek. Die leser leer Frankryk ken. Meyer moes lank self Frankryk verken het om elke straat en gebou wat hy beskryf te leer ken. As jy belang stel in wapens, is die beskrywings van die skerpskuttergewere ook interessant. Daar is ook ’n heerlike hoofstuk waar Griessel baskitaar in ’n orkes speel en self sing, wat dié leser groot plesier verskaf het.

Die probleem is dat die skrywer die prooi van sy eie komplot raak. Die leser het mos die vae ongerustheid dat met die volg van die sluipmoordenaar se tog deur Europa met die Russe op sy stert, daar nie ’n moord kan wees nie, want die president met die snaakse kop lewe mos nog. Al wil jy dit anders laat eindig sodat die land gered kan word. Of moet jy jou by fiksie hou en die werklikheid eenkant toe gooi?

Die ander probleem met Prooi is Griessel. Hy is werklik net te veel van ’n vaalseun om jou aandag lank genoeg te hou. En hoewel hy en Cupido hul bes probeer om hul werk te doen in ’n eenheid wat ook gekaap is, is hul speurwerk nie baie oortuigend nie. Nog minder hul gesprekke. Speurders praat nie soos Absa-klerke nie.

Hoewel daar ’n sterk kinkel in die storie se stert is wat ’n mens nie hier wil weggee nie, is dit ’n bietjie van ’n antiklimaks. Dit is half terloops.

Prooi sou myns insiens tot sy volle reg gekom het as dit nie ’n Bennie Griessel-boek was nie, en die skrywer ’n volskaalse jagtog op die president en sy korrupte kamerade uitgevoer het.

Hy moes gekyk het hoe naby hy aan die moord op die president gekom het. Die boek kort daardie ekstra dosis spanning om dit ’n volwaardige Afrikaanse Jason Bourne te maak. Nou sit ons steeds met daai stortkop en sy gemors.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Charles Smith is nuushoof van Netwerk24: Sentraal.
Meer oor:  Deon Meyer  |  Bennie Griessel  |  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.