Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Puik diagnose verg ander kuur

R.W. Johnson se bemoeienis met Suid-Afrika ontketen gereeld beroering, maar die eindelose imperatiewe in sy nuwe boek, ‘Fighting for the Dream’, is volgens Johann Kriegler eweneens wêreld-vreemd en onrealisties.

Fighting for the Dream deur R.W. Johnson. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275.

Dit is al meer as 50 jaar dat R.W. Johnson, Engelsman van geboorte, bemoeienis maak met Suid-Afrika en sy mense. How Long Will South Africa Sur-vive?, die eerste van ’n dosyn boeke oor ons land uit sy pen, het reeds in 1977 verskyn.

Johnson se styl is sommer om van lekker te kry. ’n Oxbridge-Engelsman wat sy skryfding ken, is tegelyk ’n voorbeeld en vermaak. ’n Mens kan Johnson feitlik hoor op en af stap in die seminaarkamer, rustig gedagtes oordra en dan, met ’n kuggie en ’n droë slotgedagte, sy studente wegstuur. Die basiese feite word uitgestip, die uitgangspunt gestel, die tema ontwikkel, die redenasie en teenredenasie ontleed, die ontknoping aangebied en die vertoning met ’n gepaste koda afgesluit.

Johnson is geheel en al sy eie mens – korrelkop, stroomop, aweregs, meer Tory as liberaal, by geleentheid selfs in konfrontasie met Helen Suzman en Lawrie Schlemmer oor sy vermeende rassisme en tot vandag toe onbeskaamd onapologeties oor sy siening van die tekortkominge en onrealistiese verwagtinge van Afrikane in die algemeen en van ons swart landgenote in die besonder. Dis ook opvallend dat hy hoegenaamd geen rekening hou met swart bewustheid, aspirasies of vertrekpunte nie – jy soek verniet na Fanon of Biko in die indeks.

Maar die feit dat Johnson se blote naam in sommige geledere beroering ontketen, beteken vir g’n oomblik dat sy standpunte en hul stelling misken durf word nie. Al is sy menings kontensieus en sy styl prontuit – trouens, juis daarom – verg Johnson ernstige oorweging. Met Fighting for the Dream is dit dan ook so.

Die eerste vier van 13 hoofstukke word gewy aan ’n agtergrondstelling waar die interne stryd in die ANC boeiend geskets en die uitslag by Nasrec haarfyn verduidelik word. In hoofstuk 5 spel die skrywer uit wat hy sien as die uitdagings voor pres. Ramaphosa en die land, veral die dreigende ineenstorting van die ekonomie. Dan volg drie meer teoretiese hoofstukke waar die skrywer dié wanstand aan die hand van ’n Marxistiese paradigma ontleed.

Die lys imperatiewe is haas eindeloos – na dié resensent se beskeie mening ook wêreldvreemd en onrealisties.

Vervolgens skets hy sy siening van die Sowjet-herkoms en inherente onsinnigheid van die sogenaamde Nasionaal-Demokratiese Revolusie, so ook die verryking van sommige ten koste van die werklike behoeftiges onder die Mynbouhandves terwyl beleggers verwilder word; die bedrog onderliggend aan “transformasie” wat niemand bemagtig nie; en Eskom se bisarre indiensnemings-, loon- en aankoopbeleid. Veral treffend is die bewering dat die ANC, soos telkens elders in Afrika, voortgestu word deur ’n swart burokratiese bourgeoisie, eintlik ’n onproduktiewe baster-bourgeoisie wat dien as skuifmeul vir patronaatskap en korrupsie.

Dit is volgens Johnson ’n kunsmatige en ondiensbare maaksel, nie werklik ’n klas nie, wat teer op die werklike middelklas (wat gehaat maar beny word). Luidens die gegewens wat hy aanhaal, het die staatsdiens gegroei van 1,17 miljoen amptenare in 1998-’99 tot ver oor die 2,2 miljoen in 2018. Deesdae beloop die staatsdienslone 14% van die BBP (vergeleke met 6% in Thailand en Chili, en 10% in Europa se ryk lande). Die leser word dan ook daarop gewys dat die president, teenstrydig met die mening van minister Mboweni, sy eie aanstelling en personeelvermindering by Eskom, die SAL en die SAUK afgekeur het.

Ewe boeiend is hoofstuk 8, waar ons vertel word van, soos die skrywer dit stel, die magiese denke onderliggend aan byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding (wat die skrywer herinner aan Nonkwasi se noodlottige droom in 1857), die Mynbouhandves (terwyl daar tien jaar laas ’n sent in die mynwese belê is) en die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (wat tegelyk onbekostigbaar en onuitvoerbaar is en die mediese beroep sal vernietig). Klinies, saaklik en meedoënloos word fantasering onderliggend aan hierdie aspekte waargeneem.

In die daaropvolgende hoofstuk kom die DA aan die beurt. Prinsipieel word die party gestriem oor sy vermeende versaking van sy nierassige en liberale kernwaardes in klakkelose navolging van die ANC se SEB-populisme. Bowendien, so betoog die skrywer snydend, was die halsoorkop-verheffing van Mmusi Maimane (“onervare leierskap”) ’n enorme en onomkeerbare flater. Bygevolg, so word verdoemend verklaar, sal ’n mens verniet na die DA vir redding kyk – hy is g’n alternatief vir die ANC nie.

Hoofstuk 10 bied ’n kritiese evaluering van pres. Ramaphosa se prestasie tot hiertoe – wat hy loshande druip. Volgens Johnson is dit kommissies hier en raadpleging daar, grootse planne en klinkende beloftes, maar die rand daal en landbougrondpryse sak steeds. Ons is in ’n werklike resessie gedompel, Eskom verhoog sy pryse en vra meer. Die ou garde ANC-vryheidsvegters het meesal uitgesterf en die huidige ledetal is hoofsaaklik patronaatbase, burokratiese bourgeoisie en ander hebsugtige parasiete. Hieraan, aldus Johnson, het Ramaphosa se verkiesing g’n duit verskil gemaak nie. Met egte Britse ironie en understatement heet die hoofstuk “Ramaphosa Begins: Optimism Deferred”.

Waarskynlik die kostelikste stelling in die hele boek is die betoog in hoofstuk 11 dat toestromingsbeheer onder die ou bewind, deur mededinging in die (stedelike) arbeidsmark te beperk, ’n swart bloukraag-elite geskep het, verhewe bo die werkloses daarbuite, wat toe onder die nuwe bewind met behulp van beperkende wetgewing bevoorreg gebly het. Vandaar dan die vakbonde wat verbete veg vir beter voordele vir hul lede ten koste van die groot massa werkloses. So sluit apartheid en transformasie bymekaar aan.

Ewenwel, die hele spul is wêreldvreemd en onrealisties, sê Johnson. Globalisering verg mededingendheid, markliberalisering, privatisering, korrupsiebekamping en ’n nasionale doelwit. Kor-rupte plaaslike besture moet plek maak vir sentraal-aangestelde prefekte; ’n nuwe klas boere moet gevorm, aktief aangemoedig en touwys gemaak word; die hele ooskusgebied van die land moet in ’n toeristemagneet omskep en die bewoners binnelands hervestig word; Sadtu, wat die onderwys wurg, moet hokgeslaan word; tersiêre inrigtings moet herfokus . . . Die lys imperatiewe is haas eindeloos – na dié resensent se beskeie mening ook wêreldvreemd en onrealisties.

Ongelukkig moet baie dieselfde gesê word aangaande die twee slothoofstukke. Die skrywer se toekomsbeeld is apokalipties verby en sy oplossing ’n hersenskim. Die ekonomie is op sy laaste bene. Planloosheid is inherent in die ANC en kenmerk steeds die regering. Daar’s byvoorbeeld slegs een ekonoom in die presidensie en die naaste aan ekonomiese beleidvormers is ministers Davies en Patel, albei verstokte kommuniste. Werkloosheid verdriedubbel; grondhervorming het lank­al vasgeval in korrupsie en onbeholpenheid; dis in ieder geval ’n verkiesingsfoefie, nie beleid nie. Dit is alles kenmerkend van ’n polities en moreel uitgeputte organisasie. Tot 1994 het die vryheidstrewe die ANC aanmekaar gehou. Nou’s daar niks. Die SAKP het almelewe beleid bepaal. Dié is nou uitgebak. Aldus Johnson.

Pres. Ramaphosa moet dus, om die land van algehele induiestorting te red, onverwyld sy presidensiële gesag laat geld, ’n radikale beleidsommekeer maak en so gou doenlik by die Internasionale Monetêre Fonds aanklop om bystand sodat hy die bostaande stappe kan implementeer. Sy meerderheid by Nasrec was wel klein, maar dis vanweë die Zumaïete se skandelike manipulasie. Inderwaarheid geniet hy die steun van die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners. Laat andersdenkendes in die ANC wegbreek en die meerderheid met regdenkende opposisielede saamsnoer. Andersins dobber die land voort afgrond toe.

Met verskuldigde eerbied teenoor ’n gevierde deskundige: Hy ken skynbaar nóg die ANC nóg vir Cyril Ramaphosa. Daar is hoegenaamd geen kans dat Johnson se voorstelle in werking gestel sal word nie. As sy diagnose en prognose korrek is, sal daar ’n ander voorskrif gevind moet word.

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
Meer oor:  Johann Kriegler  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.