Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Pulitzerwenner vroetel met die groot vrae . . .

Andrew Sean Greer se roman ‘Less’ is ’n vermaaklike ontdekkingstog, afleggingsrite, inkering en terugkering wat met die groot vrae vroetel (of hulle kielie), skryf Loftus Marais met die skoot hoog deur.

Less deur Andrew Sean Greer. Uitgewer: Abacus. Prys: R200.

Dit gebeur min, maar soms raak ’n mens verlief op ’n boek. Jy herlees hom. Dis al waaroor jy met jou vriende wil praat. Al sy hebbelikhede is ougat. Al sy foutjies word vergewe. O, jy vat sagter aan sy blaaie en omslag. Jy is jaloers as jy hom in die hande van ander lesers sien.

Vergewe my die oordrywing – dalk is dit weens al die mededinging wat ek as bekoorde leser tans ervaar: Andrew Sean Greer se Less het immers vanjaar die Pulitzerprys vir fiksie gewen en verkoop goed, ook in Suid-Afrika. (Verstaan dus ek is nie die enigste een wat soos ’n bakvissie met rooi hakskeentjies agter hom aantrippel nie.)

Kom ons begin by die hoofkarakter: Arthur Less is 49, ’n romansier wat min aandag of lof ontvang. “An author too old to be fresh and too young to be rediscovered, one who never sits next to anyone on a plane who has heard of his books.”

Hy het ’n tyd terug sy kêrel van nege jaar laat gaan. Teen sy sin. Soort van. En ja, hy is bang vir die groot vyf-nul-verjaardag wat om die draai lê. En nou is hy boonop genooi na sy ekskêrel se troue. Ai.

Om die troue te vermy, aanvaar hy die skrywersuitnodigings wat al ’n geruime tyd in sy onderste laai lê: ’n paneelgesprek by ’n Mexikaanse boekfees, ’n toekenningseremonie in Italië, die aanbied van ’n letterkundekursus in Duitsland . . .

Less vlug oorsee net sodat hy vir sy eks kan sê: So jammer, ek is ongelukkig tydens jou troue landuit.

Die reis wat volg, is 260 bladsye lank, maar dit voel soos 50. Die pas van die prosa word verder versnel deur tydspronge, afdwalings en skielike parenteses.

Less die boek is ’n gladde, slimme toer. Less die karakter is egter lomp. Ook teerhartig, maar vasberade. Op sy reis word hy in vreemde en ongemaklike situasies gedompel.

Met knikke in die rigting van die Odussee, Gulliver’s Travels en Around theWorld in Eighty Days (en ook ’n bietjie Henry James-agtigheid) is dit ’n avontuurverhaal vir die fynproewer.

Dit word ’n ontdekkingstog, ’n afleggingsrite, ’n inkering en ’n terugkering.

Ek wil skryf die roman “worstel” met groot vrae, maar die woord “worstel” is nie reg nie. Dit vroetel eerder met die groot vrae – of kielie hulle. ’n Mens kry in elk geval só meer uit hulle uit. Van die vrae ter sprake: Wat is die literatuur nou eintlik? Watter vorme neem die liefde alles aan? Hoe hanteer ’n mens die kwellinge van die ouderdom?

Ten spyte van die swaar kwessies lag jy elke vyfde bladsy hardop. Die humor is getemperde klug, met so ’n skeut satire, en daaronder ’n alewig lig borrelende kampheid. Daarby het die verteller ’n poëtiese stem: “Bougain­villea bloomed on their porch like a discarded prom dress,” merk hy op. En: “A hoodie jacket whose leather has been tenderly furred to the soft nubbin of an old eraser.” Of só word Less se hospitaalervaring beskryf: “The casting call of nurses – from seen-it-all-before battle-axes to pretty ingenues – before Less was allowed an X-ray of his right foot (beautiful archipelago of

bones) which confirmed, alas, a fractured ankle.”

Greer bied met die roman vir lesers ook vars perspektiewe op ’n ou debat: Hoe relevant is die klaagliedere van ’n middeljarige, wit bevoorregte Amerikaanse man? Hoeveel plek mag hy in die kanon opeis vir sy alledaagse klein tragedies? Of mag hy deesdae net as dwaas of gek die letterkunde instrompel? Of, afgesien van enige politiek, kry ons karakters (en mense) net lief weens hul kwesbaarhede?

Hierdie ernstige vraagstukke tersyde, is dit ’n verhaal wat ’n mens werklik deurgaans geniet.

Greer roep veral drie gemeenskappe in al hul vermaaklike detail op: die gay-wêreld van partytjies, skinder en Speedo’s; die boekwêreld met sy onironiese intensiteite, simpel politiek en ydelheid; en die wêreld van die reisiger wat wissel van die pak van tasse tot die siekword in die vreemde en die landskappe.

Less is ’n dierbare en vrek handsome boek. Ek het ná die lees besef ek moet as verliefde op ’n manier maar my besitlikheid laat vaar. Almal mag maar die boek geniet, dis te goed om jaloers te bewaak. Ek het dit ook met sorg in my boekrak gaan bêre, tussen my versamelde Koos Prinsloo en ’n Hollinghurst, sodat, wanneer Less lus is vir rof óf wrought, hy net kan kies. Hy verdien dit.

  • Loftus Marais is ’n digter en inhoudsregisseur van die kykNET-program Verslag in gesprek.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.